Peanut-Sondag

Ek moes vandag onwillekeurig sit en luister hoe twee susters met mekaar baklei oor die telefoon. Die een aan my kant het haar stemtoon so laag as moontlik probeer hou, maar ek kon die aggressie golwe verby my voel spoel. Waaroor presies die argument was, weet ek nie en uit ordentlikheid het ek eerder opgestaan en vir my gaan teemaak, sodat hulle hul storie in privaatheid kon uitsorteer. Dis maar moeilik in ‘n oopplan kantoor.

Terwyl ek in die kombuis staan, loop my gedagtes toe hul eie koers en ek besef ek mis baie dae my suster. Dis nie asof sy ver van my af is nie, maar net omtrent 50 kilometer. Maar nou dat ons groot en alles is, is dinge mos maar nie meer dieselfde nie en elkeen se huis en kruis eis sy eie tyd.

Ek was vyf jaar oud toe sy gebore is, twee dae na my vyfde verjaarsdag. Ek het eintlik geglo sy is my verjaarsdag geskenk. Aan die een kant was dit moeilik om op vyf die aandag met ‘n skreebek te begin deel, want ek het lank alleen koning gekraai in die huis. Aan die ander kant was dit lekker om ‘n lewendige pop te hê om mee te speel.

Ek onthou dat sy op 13 maande nog nie wou loop nie en dat sy ook nooit gekruip het nie, net op haar boude vorentoe en agtertoe geskuif het. Ek het glo al op 9 maande geloop, so natuurlik is daar vergelykings getref. Op 14 maande het sy eendag haarself regop getrek en geloop en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Sy was ‘n klein terroris en sy was ‘n klein engel. Ja, so ‘n “two for the price of one”!

My pa was diaken in die kerk en ons is van kleinsaf Sondae kerk toe geneem, met my pa voor in die diaken bank en my ma met ons twee dogtertjies weerskante van haar in een van die voorste banke. ‘n Regte tipiese Afrikaner gesinnetjie. Toe word ons een Sondag saamgeneem nagmaal toe, Lisa was so vier jaar oud. Ja, ons destydse dominee het nogal rewolusionêre idees gehad en het die ouers aangemoedig om die kinders ook nagmaal toe te bring, al mag ons nou nie van die brood en wyn gebruik het nie!

Die eet en drinkery het Lisa nie aangestaan nie en sy was hoogs ontstoke omdat sy nie ook brood en wyn kon kry nie. Die volgende Sondag, toe die kerk net lekker aan die gang is, maak sy haar handsakkie oop en haal haar eie stuk droë brood daaruit en begin lustig te eet daaraan. My ma, wat nog altyd die humor in enige situasie kon insien, wou haar terselfdertyd doodskaam en doodlag. My pa kon nie sy oë groot genoeg gerek kry daar uit die diaken bank nie. Hy kon ons altyd in ons spore tot stilstand bring met net hierdie woorde: “Kyk my oë.” Dan het ons geweet ons beweeg op papierdun ys.

Nie dié keer nie. Lisa eet rustig haar brood en kyk nie eers vir hom nie.

Na kerk is sy die leviete van Genesis tot by Openbaring voorgelees. Maar sy kon my pa met een kyk doeksaf maak en hy het haar bitter min pak slae gegee. So die erns van die oortreding het haar effe verbygegaan.

My ma is opdrag gegee om Lisa se handsak elke Sondag voor kerk te fynkam vir enige eetgoed en vir ‘n paar Sondae was ons weer die toonbeeld van gehoorsaamheid. Tot die Peanut-Sondag. Ja, dis hoe dit in die annale van ons familie bekend staan.

Waar sy die pakkie peanuts gekry het. kan ek nie meer onthou nie. Dit was in die tyd wat ons nog hoed gedra het kerk toe en sy het so ‘n hoed met ‘n rekkie wat onder om die ken kom, opgehad. Net toe die dominee mooi op spoed is met sy preek,  trek sy haar hoed op dat die rekkie so dun trek en haal die pakkie peanuts onder haar hoed uit, van haar kop af. En skeur dit ewe fyntjies met haar tande oop, voordat my ma mooi besef wat aangaan.

Toe my ma vir haar begin beduie om die peanuts weg te sit, haal sy ewe mededeelsaam een peanut uit die pakkie en bied dit vir my ma aan om te eet. En hoe meer my ma so tussen haar tande deur vir Lisa probeer oorreed dat sy NIE peanuts wil hê nie en dat dit vir haar wat Lisa is, se gatvelle beter sal wees as sy eerder die peanuts bêre, hoe meer “insist” sy dat my ma die peanut moet vat. Sy probeer dit naderhand in my ma se hand indruk, maar ma wil niks weet nie. Jare later het ek my ma gevra hoekom sy nie maar net die bleddie peanut gevat en geëet het nie, maar sy was glo heeltemal te ontstig op daardie oomblik.

Die volgende oomblik klim Lisa mooi netjies pens en pootjies bo-op daai kerkbank, hou met haar een hand aan die bank se rugkant vas en vat daai peanut met die ander hand en probeer met alle geweld die peanut tussen my ma se tande deurdruk, maar my ma se kake is toe al digby klem-in-die-kaak. Die peanut spat weg en trek in die kerkgangetjie af.

Ek dog my pa styg op daar voor in die diaken bank, maar gelukkig gryp my ma vir Lisa en daar trek sy af in die paadjie en uit by die deur. Wat van die peanuts geword het sal ek nooit weet nie. Ons praat nie daaroor nie! 😆

My ma het in die motor gaan wag en na kerk het my pa soos Batman met sy manelpak daar aangevlieg gekom en die hele pad terug plaas toe met Lisa geraas. Op daardie stadium het dit nog ampertjies gelyk asof sy dalk nog ‘n pak slae sal kan vryspring, maar halfpad huis toe en so deur die rasery, toe gooi Lisa daai hoed van haar by die motorvenster uit dat hy so trek. Toe moet my pa nog stilhou en ek moet in die stofpad afhardloop om haar hoed te gaan optel. Toe weet ek, sussie, vandag gaan jou boude verjaar soos nog nooit tevore nie. En dit was ook so.

My pa het ons nooit eintlik slae gegee nie, maar dit was selfs vir hom net een te veel.

Lisa het nooit weer kos kerk toe gevat nie, maar die lewe was nooit vervelig saam met haar nie, al was sy meer tye ‘n verpesting as ‘n plesier toe sy klein was.

Sus, vandag het ek jou gemis, regtig sommer net gemis.

Advertisements

8 Responses

  1. Ek het nou lekker gelag vir die kerkstorie – kon dit so presies picture. En ek ken van sussie mis! (Ek is die 7 jaar na haar laatlammetjie)

  2. Ek het nou so gelag dat die trane rol 😆 Ek wens ek kon jou ma se gesig gesien het. Maar besides dit, jy laat mens darem nou lekker verlang na sussa daar in Angola jong!

  3. Klein sussies. You gotta love ’em!

  4. 😆

    Ek hoop jy word lekker bederf vandag!

  5. Dankie Sonkind, dit was lekker om hier te lees.

  6. Ouch,
    ek wil nie eens daaraan dink nie…
    My agterend sou vir ‘n paar dae so liggies rooskleurig gegloei het…..

  7. In ‘n klein dorpie, net daar anderkant jou, sit die gemeente van die NG kerk die een blikwarm Sondag, ingeryg in die kerkbank.

    Dominee te spoed op, maar daar is ‘n vlieg wat ‘n deel van sy luisteraars onverdeelde aandag besorg.

    Ook ‘n down-sindroom lidmaat.

    Toe dominee aankondig: ‘kom ons buig die hoofde, en bid saam’, hoor hulle ‘n geluid – handpalm teen ‘n wang.

    En die down-mensie haak kliphard af: ‘FOKKEN MOT!’

    Ek verneem geen diens was ooit weer daarna dieselfde nie.

  8. heigend hoe’t die tye verander, ek stop my klein dogtertjie vol sweeties dat sy net deur die diensie kan kom… ek kou sommer saam…’n uur kan lank voel soms;)
    sy klink soos ‘n tipiese kleinsus laatlam dierbare ding…nes my kleinste sussie
    oulik vertel
    ja, mens is net eenmaal klein en ai die staaltjies
    ekt ook hoed en handsakkie met sakdoekie vyf sent en reukwater kerk toe aangetrek
    op Lisa! ‘n Bos Delphiniums vir haar!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: