Alle paaie

… lei vandag terug werk toe!

Ja, my vakansie is verby en natuurlik het Murphy seker al gisteraand begin grynslag oor die streep wat hy my vandag gaan trek.

Soos dit ‘n goed georganiseerde persoon betaam, het ek gisteraand al my dinge mooi agtermekaar gekry vir my eerste werksdag na ‘n salige, rustige verlof. Klere reggesit (ek is nie ‘n oggendmens nie en trek soggens met toe oë aan, so alles moet reglê, net vir vat!). Laptop sak gepak, met alles wat nodig is, handsak gepak, kosblik gepak, huissleutels in handsak gegooi, sodat ek dit nie vergeet nie. Klink snaaks? Laat ek verduidelik.

Die Liefie begin al om die ander week eers nege uur in die oggend werk. Ek gaan al soggens kwart voor sewe werk toe, ter wille van en as gevolg van die verkeer. As dit Liefie se laat week is, soos nou, gaan ek soggens by die skuifdeur uit en trek dit net op slot, want hy sit dan die alarm aan as hy waai. Maar ek moet huissleutels saamvat, anders sit ek uitgesluit as ek in die middag heelwat vroeër as hy by die huis kom.

Okay, so alles was nou mooi reg. Vanoggend vat ek al my sakke en sit dit in die kattebak, maar ek het toe ‘n ekstra sak, want ek moet iets vir iemand gaan aflaai. So ry ek rustig werk toe. Die verkeer is nog nie ‘n nagmerrie nie en ek is reg vir die dag. Ha ha ha! Moes geweet het dis te goed om waar te wees.

Kom by die werk en soek sekuriteitskaart om deur hekke te gaan en in parkering in. Waar is my kaart? O ja, kaart is in my handsak. Waar is my handsak? Ek sit dit mos nie gewoonlik in die kattebak nie. Klim uit, maak kattebak oop, staan soos Uilspieël eers nog ‘n oomblik en dink en besef toe met ‘n skok – my handsak is regtig nie daar nie! Nou eers in my gedagtes terugloop op my spore en ek is toe redelik seker dat handsak nog op die tafel by die huis lê. Mooi skoot, man!

Al raad is nou terug in die verkeer, want ek kan nêrens in sonder my kaart nie, ongeag nog die huissleutels wat ook in my sak IN die huis lê. Toe kos dit nou mooi dink en beplan, want sien, daar is drie verskillende roetes waarmee ek myself  tussen werk en huis mee kan frustreer. En een daarvan is op die N1, maar daar bly ek gewoonlik so ver weg soos die duiwel van die slypsteen! En vat jy enige van die ander twee roetes enige tyd na 7h00, kan jy maar weet – jy is ordentlik en behoorlik in jou dinges in. ‘n Gewone 20 minute rit vat jou lag-lag een of meer uur.

Wel, ek besluit toe om roete 2 terug huis toe te neem en wonder bo wonder neem dit my 25 minute. Okay, so Murphy is seker iewers anders besig. Dis 10 voor 8 toe ek by die huis in hol en handsak gryp en vinnig vir Liefie verduidelik. Terwyl hy nog sê: “Maar hoe dan nou, jy vergeet mos nooit jou handsak iewers nie, nooit nie?!” roep ek net: “Daar’s altyd ‘n eerste keer vir alles en hierdie is nie iewers nie, hierdie is my huis!” en ek is weer weg.

En toe raak ek dapper en ek besluit, wat de hel, ek gaan nou N1 toe.  Dis in elk geval die kortste pad en ‘who knows’, dalk is Murphy nog steeds iewers anders doenig vir die oomblik.

Voila! Ek ry 27 minute werk toe! Glo my, dis ‘n rekord.

Ek weet nie waar die ander mense vanoggend was nie, maar beslis nie op die N1 nie. Dankie aan almal wat vandag werk gebank het omdat dit Dinsdag is en hulle nie ‘n sieknota nodig het vir werk bank op ‘n Dinsdag nie! 😈

So, die dag het toe darem sy sonkant na my toe gedraai. Die eerste dag is verby en ek het al amper vergeet ek was met verlof. Wanneer is die eerste langnaweek? 😆

Advertisements

10 Responses

  1. Nee jong….
    Jy moet maar langnaweek vat met valentynsdag en so…

  2. Nee kyk, jy kom besonder gou reg, gewoonlik sal my gestel dit eers so na die tweede Maandag begin aanvaar. Volgende keer gaan ek in elk geval my verlof so insit dat ek op ‘n Donderdag begin werk.

  3. van oggend het ek op my kombuis tafel gele^ en wag vir iemand,2 uur later daag niemand op nie,hellooooooo! anyone interested in a quickie?

  4. Anne, jy moenie in die oggend op jou kombuistafel lê en wag nie, die traffic is te hectic dan. Jy moet lunchtyd wag! 😆

  5. My sussie begin ook nooit op ‘n Maandag werk nie, glo dis bad karma.

    Ek reken dis die Weskus kreef wat jou kop so bietjie laat uithaak het, Son, behoort darem nie langer as nog 2 weke te duur nie, dan is die bloed weer suiwer Bolands. Julle toe genoeg uitgehaal? Laasnaweek het ons 11 huis toe gebring. Daar is 0 oor, en vandag is Woensdag… Jip, as jy ‘n lus het om te blus, dan maak jy so.

    Anne, maybe was jou skuifdeur ook gesluit, die dat jy met onverrigter sake moes afklim van die tafel!

  6. Ek weet hoekom als skeef geloop het! Is oordat julle nie kom kuier het soos belowe nie!!!

    Hehe!

  7. sonkind…the more traffic op my kombuis tafel,the more fun! heeeeee haaaaaa!giddyup!

  8. Dis darem vreemd dat alles altyd verkeerd loop as mens haastig is… hoop vandag verloop beter!

  9. Jy los jou handsak by die huis, ek ken daai een. Op skool het ek gereeld my tas by die skool gelos en dit eers agtergekom as ek saans wou huiswerk doen.

  10. Praat van piepie op ‘n mens se battery!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: