Top 10 Moermeter Aanjaers!

Adelem het my getag vir die nuutste tag-speletjie. Om 10 goed te noem wat jou de hel in maak – jou moermeter opjaag, afpis in plein Afrikaans. So, hier is my 10 rooi vlae voor die bul!

  1. Spelfoute, ongeag die taal, Engels of Afrikaans. Dit laat my in kleure sien, skakerings van rooi! As jy nie kan spel nie, kry vir jou ‘n “spell checker” of speltoetser!
  2. Dwase in die verkeer, enige tipe dwase! Dié wat teen 100 km/h aankruie in die vinnige baan en verseg om vir jou pad te maak. Dié wat stadig verby ‘n ongeluk kruie uit nuuskierigheid en die res van die verkeer agter hulle ontwrig en feitlik tot stilstand bring. Dié wat in spitsverkeer verby jou jaag en kom indruk in die spasie wat tussen jou en die voertuig voor jou is, omdat jy probeer om ‘n veilige volgafstand te handhaaf.
  3. Enige iemand wat met my praat terwyl ek ‘n boek lees. Ek bedoel, moenie sommer net wegval en begin praat en aanneem ek gaan na jou luister nie. Ek is besig om te lees. Wag tot ek klaar is, tensy dit ‘n noodgeval is en iemand besig is om hom of haarself iewers dood te bloei. Dan kan jy maar skree vir my aandag!
  4. Mense wat veralgemenings verkoop vir feite. Hulle sinne begin gewoonlik met: “Hulle sê…” Wie de hel is ‘hulle’? Identifiseer die ‘hulle’-bron, asseblief.
  5. Iemand wat bo-op my kom staan in ‘n ry by die supermark, by die bank, by die fliek – enige ry – en in my nek asemhaal. Moenie huil as ek ongeerg agtertoe tree en jou tone moer toe trap nie. Ek soek nie ongenooid vreemde asems in my aura nie!
  6. Mans, oud of jonk, met boeppense, skurwe elmboë en vuil naels wat nog steeds dink hulle is “God’s gift to every woman.” En dink jy is ‘n “bitch” as jy nie op jou knieë neerval van dankbaarheid vir hulle aandag nie.
  7. Mense wat sigaretstompies, BRANDENDE stompies nogal, by hulle motorvensters uitgooi. As jy wil rook, is dit jou saak, ek is geen voorstander vir anti-rook veldtogte nie, maar hou jou bleddie stompies in jou motor. As jy nie jou asbak wil gebruik nie, ry ‘n plastiese sak saam of een of ander houer wat jy kan weggooi na die tyd.
  8. Mense wat laat kom vir ‘n afspraak. As jy nie betyds kan wees vir ‘n afspraak met my nie, moet dan nie een maak nie. My tyd is net so kosbaar soos joune, so moenie dit mors nie.
  9. ‘n Kelner wat elke vyf minute kom vra of alles nog reg is by my tafel. ‘n Goeie kelner hou sy oog op sy tafels en hou sy kliënte se lyftaal dop. Hy kom vra nie of jy nog okay is net sodra jy met ‘n mond vol kos sit en nie kan antwoord nie! Ek sal ‘n beweging met my hand of kop maak as ek hom nodig het. Tot dan moet hy asseblief sy afstand hou.
  10. Die een (jammer Liefie, hierdie is ongelukkig net jy!) wat my motor bestuur en die sitplek skuif tot agter in die kattebak, die spieëls verstel tot bo teen die dak en dan alles net so vir my los, sodat ek agteroor val as ek volgende keer in my motor klim en my voetsole in my spieëls sien!

Okay, genoeg ge-biets! Ek tag dan vir Adam, Anne, Johan, George en Bertus. Gooi ons met julle top 10 ‘pyn in die &^%’!

Advertisements

4 Responses

  1. Nee a Sonkind, ek moet darem sterk beswaar maak teen #10! Hoe moet ek nou weet presies waar om my kop te hou om die spieëls weer presies terug te stel, of presies hoe ver om my bene te buig om die sitplek weer presies op dieselfde plek te kry? Ry maar weer met sy kar en maak jou motto: Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen kry.

  2. wat my rerag kwaad maak…..um…..geen kombuis tafels in die kombuis.

  3. […] February 6, 2008 by Bertus! Sonkind: […]

  4. Oer spelfoute. Is er een website om suidafrikaans te lere?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: