Hoe lyk my naaste?

Ds Attie skryf vandag oor die liefde vir die wet of die wet vir die liefde. Hy vertel van die geleerdes wat die afleiding gemaak het dat hulle naaste slegs hulle mede Jode is en hoe Jesus hulle toe van die barmhartige Samaritaan vertel het. Dit het my laat dink en my laat onthou – ver terug laat dink en onthou. Ek het in my vorige inskrywing politiek gepraat en nou is ek by godsdiens, maar hierdie inskrywing het ook ‘n politieke kleur en geur. Dit lyk my die ding wil my nie laat los nie.

Dis vroeg 1974 en my ouers is besig om te skei. My pa is diaken in die NG-kerk en skei is sonde. My pa wil nie skei nie, my ma wil nie weer probeer nie. Die dominee kom praat, maar my ma het klaar besluit.

Ek en my ma gaan bly in ‘n klein woonstelletjie in iemand se agterplaas. By die skool kyk die kinders my skeef aan. My beste maatjie se ma wil nie meer toelaat dat sy by my kom kuier nie. Soms het ek en my ma nie genoeg kos om te eet nie. My ma werk gelukkig nog al die jare, so ons oorleef. Saam met my ma werk 4 ander wit vrouens en ‘n Moslem vrou. Die Moslem vrou maak tee en maak die kantore skoon.

Een aand kom my ma by die huis en vertel vir my dat die Moslem vrou ons genooi het om die volgende aand by haar huis te kom eet. Vir my is dit nie verskriklik snaaks nie, want my ouers was albei nog altyd baie liberaal. Maar in daardie jare is dit ongehoord dat so iets wel gebeur.

Die volgende aand trek ons netjies aan en klim in my ma se Volksie en ry na die Moslem/Kleurling deel van die dorp. Ons word soos adel ontvang en behandel en net die beste en die lekkerste word vir ons voorgesit. Daar word ook vir ons ‘n hele wavrag vol kos saamgegee huis toe. Hierna bring sy dan ook gereeld vir my ma kos saam werk toe en stuur gereeld vir my ietsie lekkers saam. Later sou ek hoor dat die Moslem vrou vir my ma gesê het dat sy die vrymoedigheid gehad het om my ma te nooi, omdat my ma altyd met haar gepraat het asof sy ‘n mens is, ‘n gelyke is. En omdat sy gesien het my ma kry swaar. Die ander wit vrouens het nooit eers die moeite gedoen om my ma ooit te vra of sy selfs net okay is nie. So, wie was hier my naaste?

In hierdie selfde tyd ry ons een Saterdagoggend Worcester toe, na my ouma-hulle toe, my ma se ma-hulle. Omtrent so 10 km van Worcester af gee die Volksie so ‘n paar hikke en daar gaan staan hy, sonder petrol. Daar sit ons toe, want dis lang jare voor selfone. En die motors jaag verby, niemand stop nie. Sommiges kan jy sommer sien hoe hulle jou probeer mis kyk. Toe kom die outa met sy bakkie. Die arme bakkie was self net met spoeg en plak aanmekaar gehou, maar hy stop en vra of hy kan help. Toe hy hoor ons het sonder petrol gaan staan, krap hy ‘n leë Coke blikkie uit sy bakkie uit, die enigste hol ding wat daar in die omtrek was en hy het gelukkig ‘n stuk pyp ook iewers uitgegrawe en hy suig blikkie vir Coke blikkie petrol uit, stadig en geduldig, totdat hy dink daar is nou genoeg vir ons om tot by my ouma te kom. En hy ry agter ons aan tot by my ouma se huis om seker te maak ons is veilig en hy weier opsluit toe my ouma vir hom wil geld gee vir die petrol. So, wie was hier my naaste?

In 1992 is ek self pas geskei van my man. Ek het twee kinders en eksman is “Missing in Action” as dit by onderhoud betaal kom. Ek werk vir ‘n konstruksiemaatskappy en ry elke dag ongeveer 30km werk toe en terug. My motor se bande is ‘n polonieskil weg van die seil af, maar daar is ander gate wat toegestop moet word en ek ry op genade.

In die tender afdeling werk ‘n ouerige kleurlingman, Glenville. Sy kantoor se venster kyk uit op die plek waar ek my motor parkeer. Eendag vermaan hy my dat my motor nuwe bande moet kry en ek antwoord ongeerg dat daar nie nou geld vir ander bande is nie. Dit sal moet wag tot die einde van die volgende maand. En ek dink nie verder aan die insident nie.

Twee dae later kom vra die werkswinkelbestuurder my vir my motor se sleutels. Toe ek verontwaardig wil weet wat hy daarmee wil maak, vertel hy my dat Glenville vir my vier bande vir my motor gaan koop het en dat hy gereël het dat die werkswinkel dit vir my opsit. Toe ek verstom na Glenville se kantoor loop en hom gaan vra daarna, waai hy dit weg met ‘n beweging van sy arm en vertel my dat hy ‘n dogter het wat so oud is soos ek en dat hy haar nie met sulke gladde bande sou laat bestuur nie en dat hy dus nie ‘n ander pa se kind willens en wetens so kan laat ry nie. En dat ek hom eendag kan terugbetaal as ek vir my ‘n ryk man gekry het!

Ek het nie woorde gehad nie, in elk geval nie genoeg om dankie te sê nie. So, wie was hier my naaste?

Of moet ek eerder vra wie se naaste was ek? Tot vandag het ek nie een van hierdie mense vergeet nie. Al kan ek nie die twee uit my kindertyd se name onthou nie, onthou ek hulle gesigte nog baie goed.

En dis deur mense soos hulle dat ek vandag nog nie moed opgegee het op hierdie land van my nie. Dat ek hoop dat ons almal eendag sal besef ons naaste is nie noodwendig die een wat net soos ons lyk nie. Dalk is ek naief, dalk nie.

Advertisements

11 Responses

  1. Sonkind, baie dankie dat jy dit hier geskryf het. Ek het dit baie geniet om te lees en ja, dit maak mens skaam vir die kere wat ons draaie om nood loop en nood net een kyk gee en dan aanstap. Barmhartige Samaritane ken nie grense nie en het nie voorkeure nie. Barmhartige Samaritane het in hulle harte die allesoorheersende begeerte om te help. Interessant dat Samaritane nou nie juis erg skerp was op wat die wet sê nie. Almal met die regte antwoorde is nie noodwendig … nou ja. Kom ons laat dit maar daar. Ek sien sommer dat jy daarna nooit weer dieselfde gekyk het na iemand in nood nie.

  2. ‘n Pragtige vertelling. As mens swaar gekry het in jou lewe, besef jy presies hoeveel verskil selfs die kleinste aksie van welwillendheid kan maak. Van daardie persoon wat jou ‘n geleentheid gee, wanneer ander jou wegwys tot selfs net as iemand jou menswaardig behandel. Dit is dan wat jy besluit om altyd goed te doen waar jy enigsins kan.

  3. Dankie.

    Het jy al die fliek ‘Pay it forward’ gekyk?

  4. Dit is werklik ‘n hartroerende skrywe hierdie. Ek dink as ek die gelykenis reg verstaan, het Jesus probeer sê ons moenie vra “wie is my naaste nie”, maar “wie se naaste gaan ek wees”?

    Jy sal my miskien ook baie sien kla oor die onregverdigheid van A.A., die korrupsie en grootskaalse onbekwaamheid, tog het ek goeie verhoudings met swart mense wat saam met my werk. Ek dink Ds. Attie het onlangs iewers gesê: ons kan dit verander, een mens en een daad op ‘n slag.

  5. ek het trane in my oe”………en trane omdat daai blerrie bliksem vader xmas net verdwyn het!!!!!

  6. dankie dat jy dit vertel!

  7. dankie- dit is waarlik iets om oor te gaan dink? of ek ooit iemand se naaste was…

  8. dankie vir hierdie storie, dit beteken baie om dit te lees.

  9. Baie dankie dat jy dit met ons deel, dis baie mooi

  10. […] ongeag hulle kleur. Ek glo nog dat my naaste nie altyd soos ek lyk en dink nie, ek het dit al MEER AS EEN KEER GELEER […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: