Die sondes van ons vaders

Seks, godsdiens, politiek – die drie gespreksonderwerpe wat mens veronderstel is om ten alle koste te vermy, want dit kan van jou vriende vyande maak. Die uiteenlopende opinies oor hierdie drie musketiers kan maak dat mense nooit weer met mekaar praat nie. Tog is dit die drie onderwerpe wat direk of indirek die meeste aangeraak word in gesprekke, ook hier in die bloglaer. Nou wil ek ook my muntstuk in die fontein gooi. Dis ‘n politieke ene en ek sal maar solank koes ook vir die verwagte dwarsklappe.

Gisteraand toe ons gaan swem, is daar ‘n bankie naby die swembad wat leeg staan. Ons sit ons handdoeke, klere en skoene op die bankie neer. Nou moet ek net ter verduideliking byvoeg dat daar ‘n ent verder aan nog twee bankies was wat ook leeg was.

So swem ons rustig in die louwarm water rond en is naderhand aan die anderkant van die swembad, ver weg van die kant waar die bankie met ons goed is. Toe ons ‘n slag terugkyk, sien ons twee mans sit op die bankie waar ons goed lê. Ek is nogal versigtig om nie ander mense se spasie binne te dring nie, want ek hou nie daarvan dat vreemde mense sommer my spasie binnedring nie. So swem ek toe terug na die kant waar ons goed is en toe ek nader kom, sien ek dat die twee menere basies bo op ons goed sit.

Ek is toe sommer opslag woedend en klim uit en loop nader en vra of hulle nie kan sien ons handdoeke, klere en skoene lê daar nie en hoekom is hulle so ongemanierd om daarop te sit. Hoekom sit hulle nie op een van die ander oop bankies nie? Die menere is toe hoogs verskonend en sê hulle het nie ons klere raakgesien nie (??? – maar hulle ruik soos twee wynvate, so dalk KON hulle nie sien nie).

Maar wat die kersie op die koek was, is die feit dat hulle hulself toe net so effens oplig, menende dat ek nou eintlik my goed daar moet verwyder sodat hulle verder kan sit. Toe verloor ek dit so effe en omdat die twee menere nou nie wit is nie, sien ek hier kom ‘n rassekaart. Voordat hulle die kaart kan speel, vat ek toe eerder net my goed en verskuif na die ander kant van die swembad.

Die insident het ‘n slegte nasmaak in my gelos, maar dit het my ook laat dink. As die menere wit was, sou ek beslis nie teruggestaan het nie, maar hulle al hulle hel gegee het en aangedring het dat hulle hul gatte oplig van my goed af en elders loop sit. Maar omdat ons wittes so versigtig moet wees vir die etiket ‘rassis’, staan ons baie keer terug, net om tog nie rassisties te lyk nie, waar ons vir ons eie ras glad nie sou terug gestaan het nie.

Gaan ons altyd hierdie “askiestog dat ek lewe en askiestog dat ek wit is”-houding in ons land moet hê? Gaan die sondes van ons vaders altyd besoek word aan ons en ons kinders? Het dit nie tyd geword om op te staan vir onsself nie?

Want, of ons dit nou wil weet of erken of nie, ons vaders of grootvaders het die grondslag gelê vir die land waarin ons en ons kinders vandag moet lewe.

Stel jou die volgende voor: Daar was nooit so iets soos apartheid nie. Elke mens wat in hierdie land gebore is, het ‘n gelyke kans gekry wat skoolopvoeding betref, wat werk betref, ongeag sy of haar velkleur. Dan was daar geen nodigheid vir ‘affirmative action’ vandag nie. Die wat die beste gekwalifiseerd was, sou die werk gekry het. Telkom en Eskom en Spoornet en dies meer sou deur opgeleide, gekwalifiseerde mense bestuur word, effektief bestuur word. Mense wat sou weet van voorsiening maak vir onderhoud en vooruitgang.

Natuurlik sou daar nog die armes en die ongeletterdes onder ons gewees het, maar hulle sou nie kon aandring op hoë posisies NET omdat hulle voorheen benadeeldes is nie, want almal sou ewe bevoordeeld of benadeeld wees. Dalk sou ons ‘n grotendeels swart regering gehad het, maar hulle sou daar gesit het omdat hulle verdien het om daar te wees, nie omdat hulle swart is en voorheen deur die wittes onderdruk is en nou vry is nie.

Nou is ons land in ‘n gemors en ons draai om en sê maklik dit was nooit so toe die wittes regeer het nie. Geen mens met ‘n greintjie verstand sluit ‘n kind in ‘n kamer op vir jare en leer hom net die basiese dinge in die lewe en kry dan op ‘n dag berou en laat die kind-grootmens dan uit en stop hom ‘n motor se sleutels in die hand en sê: “Daar’s vir jou ‘n mooi nuwe kar, klim in en ry net waar jy wil. En daar is vir jou ‘n meisie, maak met haar wat jy wil. En hier is vir jou geld, koop wat jy wil.” Natuurlik is dit ‘n donnerse resep vir disaster! En wie se skuld gaan dit wees? Nie die kind s’n nie, maar daardie ouer wat die kind al die jare toegesluit het.

Nou hardloop die wittes wat kan, weg na anderland, want Suid-Afrika is vrot van die misdaad, vrot van die werkloosheid, sommer net vrot. En ons sê maklik dis die swartes se skuld. Nee mense, dis ons EIE skuld. Dalk nie myne en joune nie, maar heel waarskynlik my oupa en jou pa, of jou oupa en my pa se skuld. Die sondes van ons vaders…

Dalk voel ek te sterk hieroor, dalk voel ek nie sterk genoeg hieroor nie, maar glo my, ek gaan nêrens heen nie. Ek bly hier, want dis my land ook. Ek gaan nie verskoning maak omdat ek wit is en omdat my voorvaders aangejaag het nie, en ek gaan ook nie langer terugstaan omdat ek bang is ek word gebrandmerk as rassis nie. As so iets soos hierdie insident hier bo weer gebeur, gaan ek ‘n ‘wobbly’ gooi en eis dat die persone opstaan en op ‘n ander plek gaan sit, want ek was eerste daar. En as daardie persone nie wit is nie, tough shit.

Kom ons staan op, kom ons staan saam en ons sê genoeg is genoeg. Ons weet die verlede was verkeerd. Niks kan regverdig dat een mens ‘n ander bloot op die kleur van sy vel oordeel nie. Maar jy kan hom wel oordeel op sy maniere, op sy optrede, op sy opvoeding. Laat die van ons wat hierdie mooi land liefhet vir eens saamstaan en probeer opbou en regmaak. Laat ons ophou weghardloop en laat die kleur van ons velle net ‘n “minor” detail word en nie ‘n brandmerk nie.

Advertisements

19 Responses

  1. Ek stem. Toe apartheid hier was het ek ook niks aktief gedoen om ander mense van geleenthede te beroof nie, ek het maar net ingepas by die stelsel wat ek hier kom kry het, om die waarheid te sê, ek het gehelp om dit af te breek.

    So ek het niks meer om voor verskoning te vra nie, ek het dieselfde regte (liewer, is veronderstel om te hê) en as ‘n issue niks met ras te doen het nie, dan het dit niks met ras te doen nie.

  2. ek het naderhand so moerse lang comment geskryf toe blog ek hom maar. Ja politiek is iets wat aan die etenstafel belet was so ek steek seker my kop in die hoederhok.

  3. Sonkind, jy raak ‘n sensitiewe onderwerp aan. Ek dink mens verander die wereld een mens op ‘n slag een daad op ‘n slag. Ek sien al hoe meer mense wat hierdie verskil wil begin maak.

  4. Hi Sonkind… dis nie ‘n kwessie van weghardloop nie. Ons het beslis nie “weggehardloop” nie. As jy my blog deurgaan, sal jy sien hoe lief ek my land het, sou wat wou gee om NOU daar te wees! Maar, mense dink verskillend, neem besluite op verskillende maniere. Dis NIE dat mense weghardloop nie. (goed, daar is dalk die wat weghardloop). maar beslis nie ons nie.. ons het aan ons kinders gedink, wat die beste vir hulle is, nie vir ons nie. Onderwys (waar beide van ons werk), was vir ons die grootste oorweging… en ek kon nie my kinders meer sien in die skole en die toekoms wat hulle eendag vorentoe gaan kry sou hulle oorsee wou gaan nie. Daar is altyd die ding van “erkenning” van kwalifikasies. Daaroor kan ek jou ‘n dik boek skryf! en ek glo steeds die besluit wat ons geneem het, was die beste, al sit ons hier en verlang dik stukke na ons familie/vriende/land! Dink twee maal voordat jy se mense hardloop weg. Sodra my kinders groot genoeg is om hul eie paadjie te volg, sal ek enige tyd terugkeer! en dit is ons plan ook. Dus…

  5. het jy miernes oopgekrap?

    As ons net baie baie jare terug baie dinge verander het…. Of ons vaders en hulle vaders!

  6. Ek werk in n omgewing waar ek daagliks met die onregverdigheid van die “after apartheid” te doen kry, en ek was al waarlik self lus om my kind en als op te pak en die land te vlug… want ek kan julle nou al belowe my kind, jou kind en die buurman se kind gaan en alle bogenoemdes se klein kinders gaan nog moet betaal vir die sondes van ons vaders en groot vaders… en dit gaan n baie baie duur prys wees. al wat ek hier by wil las is dat ons ons kinders moet leer van die geskiedenis van ons land, wys hulle uit op die voute wat gemaak is deur ons blankes (daar was angelukkig baie) maar leer hulle ook van hulle reg om te kan leef en lief he in die land wat ons voor vaders vir ons oop gemaak het!

  7. Sonkind, goeie pos. Ek verskil egter bietjie met jou en het ook maar op my blog daaroor geskryf, want ek wil nie hier ‘n opstel plaas nie. 😉

    Ek dink wel dat ons voorvaders drooggemaak het.Tog dink ek baie dinge wat in Afrika gebeur nie die skuld van ons voorvaders is nie. As Afrika nie gaan verantwoordelikheid neem vir haar probleme nie, is daar nie hoop nie. Ongelukkig sien ek nie juis tekens daarvan nie.

  8. Nikita, met die woorde ‘weghardloop’ het ek nie willens en wetens bedoel om enige een wat in ‘n ander land gaan werk het, te na te kom nie. Ek verstaan met my rasionele denke dat daar sekerlik goeie redes is hoekom sommige wit, en selfs anderskleurige, Suid-Afrikaners, oorsee gaan werk het. Veral wit mans het swaar gekry met die regstellende aksie en baie MOES ter wille van oorlewing in anderland gaan werk het.

    Maar daar was ook die mense wat wel werk gehad het hier in Suid-Afrika en ook tans goeie poste het, wat die besluit willens en wetens neem om Suid-Afrika te verlaat, want dienste is swak hier en misdaad is te veel hier en julle wil julle kinders vrywaar. Is julle een van hulle?

    Dan moet jy my verskoon, maar dan het julle weggehardloop. En ons wat agterbly en vasbyt en ons kinders hier grootmaak en vir onsself ‘n plekkie in hierdie land uitkerf, ongeag die toestande, ensovoorts – ons is die mense wat nog moedig probeer en glo dat ons wel weer eendag in ‘n land sal bly wat welvarend is. Ons werk daarvoor, ons bid daarvoor en ons kry nou swaar daarvoor.

    As ons suksesvol is, as Suid-Afrika weer in die toekoms kan spog met goeie dienste, lae misdaadsyfers, goeie opvoeding in ons skole, sien ek al hoe kom al die verlore kinders weer terug, nes die verlore seun van ouds. Dan kom hulle terug na ‘n vooruitstrewende land waartoe hulle nie bygedra het nie, wat nie goed genoeg was vir hulle toe dit sleg gegaan het nie, al het hulle in die buiteland gesit en huil oor hoe hulle huis toe verlang. En ons wat agtergebly het en die swak dienste en erge misdaad verduur het, sal ons dan soos die getroue seun wees wat maar sal toekyk hoe die feesmaal voorberei word vir die verlore seun?

    Dink jy DIT is regverdig? Want glo my, terugkom sal hulle terugkom as dit eendag weer beter gaan in ons land.

  9. Hi Sonkind…ek respekteer jou siening, maar voordat jy nie al die detail in die fynste besonderheid van mense ken nie, kan jy NIE se mense hardloop weg nie! As jy wil se ons het, se dit, jy ken ongelukkig nie ons omstandighede nie. Ons was al ‘n keer terug SA toe vir ‘n jaar en het net besef dat ons meer omgee vir ons kinders en dat die liefde vir die land maar tweede sal moet kom. Ons glo dat ons reg opgetree het ter wille van ons kinders. Wat het die Franse Hugenote/Britse Setlaars gedoen? Hulle het ook beter omstandighede gesoek en beslis NIE weggehardloop nie. Verskoon my as ek nie verder hier reageer nie.

  10. Sonkind, ek stem saam met jou inskrywing, maar ek stem ook saam met George se kommentaar, asook Nikita s’n.
    Hierdie debat oor emigreer, al dan nie, laat my dink aan die debat tussen die ANC “exiles” en die wat in die land agtergebly het tydens apartheid. Ek glo as individue doen elkeen wat hy/sy dink die beste is vir hulle omstandighede. Niemand is vir niks te blameer nie. Weghardloop is dit egter nie. Ek glo nie emigrasie is die “maklike” uitweg nie…inteendeel.

  11. Ai BiB, dis hoekom ek myself meestal weerhou van politiek praat met my vriende. Nou is Nikita vies vir my en ek verstaan hoekom sy so voel. As ek reg geluister en gelees het deur die tye, dan wil dit vir my voorkom asof jy daar ver is omdat jy moes, en nie omdat jy wou nie, en daarvoor het ek alle begrip, glo my.

    Maar dis diesulkes soos die Jurie Else en so meer, met wie dit wel goed gegaan het in hierdie land van ons, wat dan tog besluit om hul rug te draai en weg te gaan, maar hulle hou altyd so half vir hulself ‘n agterdeur oop sodat hulle kan terugkom as dit eendag weer maanskyn en rose is in Suid-Afrika.

    Dis hulle wat my kwaad maak. George het ‘n punt beet en Nikita sekerlik ook en dalk sal ek eendag besef ek moes na hulle geluister het. Tot dan verkies ek eerder om positief te wees en te hoop ek maak ‘n verskil, al is dit hoe gering ookal.

  12. Kan jy dit asb in die ander landstale ook vertaal, sodat almal dit lees.

    Hoekom is dit net die blankes wat altyd moet ‘kom ons werk saam, kom ons doen dit, kom ons melk die koei nog bietjie…’

    Nee wat Son, hierdie ‘kind’ wat jy in ‘n kamer toegesluit het soos in jou skrywe, het opleiding in die buiteland ontvang, het vandag buitelandse invloed.

    Jou argument is te vlak. Hierdie kwessie is veel dieper as ‘dit is net die witmens se skuld.’ Se my, hoe lank wil jou kind in die kamer nou nog he, voordat hulle die basiese sal kan regdoen? Nog 14 jaar?

    Moet my asseblief nou nie weer aanval soos vorige keer nie. Gaan sit en dink nugter oor wat ek jou nou gevra het.

    Dink jy dat die ESKOM probleem MET oplossings nie aan hulle gegee is, jare terug nie. En wat het hulle daaraan gedoen?

    Hulle gatte afgevee daaraan, ja, dit is hoekom jy soos ‘n vokin grap sonder krag sit. Jy en ek. Ek druk jou nie voor die bors nie.

    Want wat die witman se, is verkeerd, wat hy opgebou het, moet ons verwoes en op spoeg.

    Son, verassing: nooit ooit sal die rassekaart nie gespeel word nie. Van hulle en van ons. Die verskille is te groot. Onoorbrugbaar. Jy kan maats wees met die waarmee jy saamwerk, maar die massas, hulle wil jou verkrag en verwoes. Read my words – hulle voel vir jou vokol suster, word wakker. Hou op om jou eie af te maak as kak, die verlede is die verlede. Wat gaan jy doen om in die hede en die toekoms, staande te bly? Gaan jy aanhou gee en gee en gee aan die bedelaars wat te donners lui is om te werk. Want hulle het alles gekry, en noudat dit moer-toe is, nou demand hulle nog?

    Staan ‘n slag regop en wees trots op wie jy VANDAG is. Hou op pie teen jou verlede, want as jy jou wortels raakpie, raak jy ‘n onkruid!

    Gegroet.

  13. Son, die lekker van die blogosfeer is dat mens kan verskil, maar steeds vriende kan bly. Jou standpunt laat my dink aan die knaap wat gese het: “Ek voel eerder soos ‘n vreemdeling in my eie land, as ‘n vreemdeling in ‘n ander land”. 😉 E

  14. Daar post ek toe vinniger as wat ek kan tik! Anyway, ek dnk die knaap wat dit gese het, het wel ‘n punt beet gehad! As ek more dieselfde pakket kan verdien wat ek hier verdien, is ek terug in SA! Maar (en dis ‘n groot maar), as ek klein kinders gehad het en ‘n vrou, sou ek emigrasie ernstig oorweeg het.
    Op die oomblik is ek happy waar ek is en sal nie omgee om permanent hier te bly nie. Die lewensomstandighede is net beter hier.

  15. Nee Vokof, ek gaan niks vertaal nie, want ek is deeglik daarvan bewus dat selfs die wat dit ontken, wel deeglik Afrikaans kan verstaan en dit net nie wil erken nie omdat dit die “verdrukkers” se taal is. Ek gaan darem nie heeltemal met toe oë deur die lewe nie, hoor.

    En nee, Vokkie, ek gaan jou nie weer aanval nie, ek het mooi geleer uit ons laaste skermutseling. Maar moet nou ook nie dink ek gaan jou argumente doodgelate sluk en aanvaar nie.

    Die ‘kind’ wat in die kamer toegesluit was, is nie die een met die buitelandse invloede nie, ook nie die een wat die buitelandse opvoeding ontvang het nie. Die ‘kind’ is diegene wat hier gebly het en gely het omdat hulle velle nie wit was nie. Vandag is diegene met die buitelandse opvoeding en invloede diegene wat teruggekom het na alles verby was en nou wil kom room skep van die bokant van die melkemmer af en nog steeds hulle eie mense ook laat swaarkry. Dis hulle van wie ons as kollektiewe gemeenskap moet ontslae raak. Dis teenoor hulle dat ons moet ophou jammer wees dat ons wit is.

    Net vir die rekord – hoe lank vat dit om ‘n kind groot te maak, selfversorgend te maak? Dan nie so ongeveer 18 jaar nie? Ek ken selfs kinders wat op 30 nog aan hul ouers se rokspante hang! So, JA, die kind gaan nog dalk jare vat om op sy eie voete te staan.

    Jy noem my argument vlak – dalk is dit nie heeltemal so diep as wat dit moet wees nie, dalk skraap ek net die oppervlak raak. Maar jy skryf: “Jy kan maats wees met die waarmee jy saamwerk, maar die massas, hulle wil jou verkrag en verwoes. Read my words – hulle voel vir jou vokol suster, word wakker”

    Die massas wil jou verkrag en verwoes! G’n wonder hulle haat ons met ‘n passie nie. Hoe KAN jy so ‘n veralgemening maak? Ek kan nie eers glo jy het so iets op swart en wit neergesit nie. As dit nie bevooroordeeld is nie, dan wil ek nie bevooroordeeld sien nie.

    Kom ek gee gou vir jou ‘n voorbeeld van hoe iets uit verband geruk kan word. Daar buite loop 1000 swartmense en 100 wit mense. Honderd swartmense steel, moor en verkrag, terwyl net 10 witmense steel, moor en verkrag. Ons kyk en ons sien die swart massa, die 100, en ons dink: – “kyk hoe sleg is die swartes, kyk hoe baie van hulle steel en moor en verkrag!” En die 10 wit mense wat dit doen, laat ons dink dat die wit mense nie naastenby so sleg is as die swartes nie.

    Maar weet jy wat? Die ratio is PRESIES dieselfde. Net 10% van die swartmense is misdadigers, net soos net 10% van die witmense misdadigers is. Maar omdat die swartmense baie meer is, lyk dit asof baie meer van hulle sleg is. Dis ‘n illusie, Vokkie! ‘n Illusie wat die witman gebruik vir sy eie doeleindes.

    Daar is net soveel goeie swartmense wat ook net elke dag die son wil sien opkom, na hulle werk toe wil gaan en vir hulleself en hul nageslag ‘n beter toekoms wil bou, soos wat daar witmense is. En daar is net soveel slegte witmense, as jy dit in verhouding bekyk.

    So moenie so ‘n aanname kom maak dat die massas swartes die wittes wil vermoor en verkrag nie.

    En nee, ek dink nie my eie is kak nie, inteendeel. Ek sal tot my laaste bloed baklei vir my eie, AS dit bedreig word deur iemand wat dit van my wil steel, ongeag die kleur van sy vel. Maar ek is nie dwaas genoeg om te glo dat hierdie land net aan my en my kleur behoort nie. Jammer as dit jou ontstel.

  16. sonkind, “Gaan die sondes van ons vaders altyd besoek word aan ons en ons kinders? Het dit nie tyd geword om op te staan vir onsself nie?” Teen wie wil jy opstaan? Die Here?
    Miskien moet jy begin om ander nie so te veroordeel nie, eerstens die mense van die apartheids-era en tweedens die wat volgens jou mening weggehardloop het, jy weet, daar kan dalk net n paar poffertjies terug na jou toe wys…
    Boring argument van die 1000 swartes en 100 wittes..
    Wie het ooit gese die land behoort net aan hom oor sy velkleur? Dis nou nie baie slim nie.
    Gelukkig hoef jy nie vir ons wat “weggehardloop” het die vetgemaakte kalf te slag nie, ons sal sommer vir jou twee saam bring!

  17. Gladnie ontstel nie, dankie vir jou nugtere antwoord.

    Ek wil net die verskil tussen ‘n kind van 0-18 jaar se brein, en die van volwasse, sogenaamde geleerdes, uitwys.

    Of erken jy dat hulle breinfunksies ook van ons s’n verskil?

    🙂

  18. Geen dwarsklap van my af nie! Ek stem saam met jou. Dit gaan tyd vat, maar niks wat die moeite werd is, gebeur oornag nie. Wat ek glo fataal is, is die laertrek-mentaliteit. As daar eers van ‘ons’ en ‘hulle’ gepraat word, gaan daar nie vrede in ons land kom nie.
    (Die 100 wittes en 1000 swartes is dalk boring, maar nietemin waar. Net so by the way.)
    Wat my nogal frustreer, is dat, as jy nie die negatiewe koor join nie, jy outomaties ‘n outcast is. Dis mos nou hoogmode onder Afrikaners om op alles wat sleg is te hamer en te hamer en te hamer…. EK wil definitief nie weer in die ou SA bly nie, dankie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: