Ligdag berg op.

Ek het gisteraand besluit mens kan nie net swem en eet en sit en niks doen nie. Ek gaan vroeg opstaan en berg uit loop. Klim kan mens dit nie eintlik noem nie, want daar is ‘n mooi uitgetrapte paadjie tot bo.

Toe stel ek gisteraand my selfoon se wekker vir 5 uur, maar toe hy vanoggend sy deuntjie begin speel, wil ek hom by die venster uitgooi en ek dink by myself: “Is jy nou waansinnig om so vroeg te wil opstaan terwyl jy met verlof is!?”

Ek draai eers om en besluit te hel met die berg, ek gaan verder slaap. maar toe begin die berg my roep. En hy roep nogals met die stem van my gewete, wat vir my vertel hoe bly sal ek wees as ek nou opstaan en berg op loop – dink net aan die uitsig en die goeie oefening. Hoe meer ek die stem probeer doodslaap, hoe harder praat hy. Toe sleep ek myself maar uit, hier teen kwart oor vyf, druk my gesig in die koue water en trek klere en stapskoene aan en sluip uit, want die Liefie slaap die slaap van die regverdiges.

Die eerste ent pad was ek nogals skrikkerig, want dis nog so skemerdonker, maar ek besluit ek sal nie vandag aan misdaad dink nie. Ek gaan met goeie geloof die pad berg op loop. Halfpad op gaan staan ek vir die eerste keer mooi stil en kyk terug en dis toe dat ek weet dit was die moeite werd om myself so te martel. Die son was besig om op te kom!

‘n Foto kan nie regtig die prag van die sonsopkoms weergee nie, maar ek probeer maar:

sonsopkoms_31jan08.jpg

Dit het my nog so ‘n halfuur se loop gekos tot by die boonste uitkykpunt:

uitkykpunt.jpg

en dit was die stywe stap deur en deur werd!

van-bo-af.jpg

Ek was so half agt se kant terug by die rondawel en toe slaap party mense nog so dat ek lus was en gooi hulle nat, maar nou ja!

Verder is dit nou net rustig wees, tot so 12 uur, wanneer die Supertube weer oopmaak! Sal kyk of ek iemand kan kry om ‘n foto te neem terwyl ek daar afblits, maar ek dink ek is te vinnig vir die kamera! 😆

Advertisements

9 Responses

  1. Pragtige foto’s! Lyk my jy ontspan al te lekker terwyl ons gewone mense moet werk!

  2. Klink baie lekker daar die berg voetpaadjie- mooi foto’s

  3. Pragtige wêreld waar jy nou is, wag in spanning vir die foto van jou wat slinger die supertube afkom 😆

  4. Jammer as ek dit misgelees het, maar waar is jy? Is dit in die Breeriviervallei? In elk geval – daardie laaste foto maak my week van verlange…

  5. Baie mooi, daardie rotse met die relinkie laat my sommer nou terugverlang na Augrabies! Die lekker van met verlof wees is mens kan 5-uur opstaan as jy wil, jy kan dan mos slaap wanneer dit jou pas.

    Ons wag vir die supertube foto’s, jy het mos ‘n goeie fotograaf by jou!

  6. Ag, lekker, man!
    Ek het een Desember sooo lekker saam met die familie se tieners by die supertube afgerits. Later sien ek die blikskottels loop nie meer saam met my daar op nie, maar hou ‘n afstand terwyl hulle onderlings giggel. Gelukkig wys ‘n goeie antie my daarop dat ek my cozzie se sitvlak heeltemal deurgeskuur het….Ek maak nou seker ek gly ALTYD met een van daai matjies af!

  7. Boendoe, LMGA, laat my ook dink aan eenkeer toe ek onder kom en toe het ek sommer n G-string aan, en het toe ook sommer n enema op die koop bygekry 😆

  8. Jo-Ann, ek moet darem tot my verdediging sê dat ek gewerk het terwyl ander mense vakansie gehou het, so nou is dit my beurt. 😉
    Dankie vir die mooi kompliment oor die Megan en Asjas foto! Sy is inderdaad ‘n kind wat soms aansteeklik lekker kan lag en soms verwonder ek my aan haar en dank die Here vir die meisiekind wat hy my gegee het.

    BiB, jy is doodreg – dis die Breëriviervallei, meer spesifiek Goudini! Elke jaar probeer ons om so ‘n paar dae van ons verlof hier te kom rus. Ek is gek na hierdie plek en wens ek kan vir altyd hier tussen die berge wegkruip, maar nou ja – mens moet altyd maar weer terug na die “ratrace”.

    Kop, die fotograaf wil nie vir my sit en wag terwyl ek supertube nie, hy raak ongeduldig, want ek hou aan en aan. So nou los ek hom by die rondawel as dit supertube tyd is. Hy verbeel hom hy is te oud vir supertube! 😆

    Boendoe, jy het gemaak dat ek my swembroek gaan ondersoek het en wragtig – sy gat is dun geskuur! Nou het ek rede vir ‘n nuwe swembroek!

    Zee – lekker gelag vir daai g-string ene. Dalk moet mens kaalgat supertube, net so met ‘n langerige t-shirt aan om die nodige toe te hou! 😈

  9. Laat my nou terugverlang Kindertyd was vakansietyd by Goudini en ons het daai koppie voos geklim. Bly om te sien die plek lyk nog ampertjies dieselfde

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: