Waar is die Steve-wa?

In hierdie ou landjie waar ons dan nou almal deesdae die demokratiese reg het om ons sê ongekwalifiseerd te sê, wil ek gou asseblief vir die Steve-wa vra om stil te hou as hy hier verbykom – ek wil ook gou opklim en my sê sê.

Maar voor ek my sê sê, lees mooi – EK IS AAN NIEMAND SE KANT NIE. EK DINK NIE STEVE WAS REG NIE, EK DINK NIE JANINE WAS REG NIE.

Ek lees of koop nie Rapport nie, maar het uit nuuskierigheid die aanlyn berig gaan lees. Hel, ek kan nie die enigste oningeligte in die dorp wees nie. En toe gaan lees ek ook die comments op SSSB nadat die Rapport-Janine-bom ontplof het.

Party wil hom stenig, ander wil hom vergewe, ander wil stilbly en hoop alles waai net oor. Ander kry Natasha jammer. Ander wil Janine weg verwens.

Wat is Steve? Wat is Janine? Wat is Natasha? Hulle is almal net mense. Doodgewone mense wat foute maak, net soos elke ou in die straat. Maar omdat hulle bekendes is, word hulle lewe, hulle sondes, hulle hartseer ge”splash” op die voorblaaie van die koerante – die gewone dagblaaie en die sensasiebeluste Sondagkoerante.

Hierso wolwe, hier is hulle, vreet hulle op!

Ons sit met ernstige kragprobleme in ons land. Ons sit met ‘n misdaadsyfer wat jou asem wegslaan. Ons sit met kinderprostitusie, kindermishandeling, werkloosheid. Ek plaas ‘n beroep in die kommentaar op SSSB om die mense wat die nuwe kantoor in Kaapstad vir vermiste kinders se ouers en ook kinders wat teruggevind is, te help. Bydraes van enige aard om die plek te help inrig sodat dit nie ‘n koue en onpersoonlike plek is vir daardie mense wat reeds deur hel gegaan het nie.

Wat is die reaksie? Niks, Zilch, Nada, Fokol! Nee, almal stoom net voort oor Steve en sy Sondes. Klink soos ‘n destydse Springbokradio middagstorie.

Het ons so blasé geword teenoor die dinge in die lewe wat REGTIG saak maak? Is ons hierdie mense wat by ‘n ongeluk langs die pad stop en naderloop en staar en staar omdat ons hierdie perverse neiging in ons het om ander se pyn en hartseer te aanskou? Omdat ons ons “deep down” verlekker in ‘n ander se sonde, se hartseer, se lewe wat in sy gesig ontplof? Omdat ons bly is dis nie ons wat daar in die pad lê en bloei nie?

Steve se lewe het ontplof. Sy huwelik gaan heelwaarskynlik in die slag bly. Twee onskuldige kinders gaan moontlik nog ‘n statistiek van die egskeidingshof word. Nog werk vir ons gesinsadvokate.

Steve is ‘n grootmens – hy het geweet wat hy doen. Janine is ‘n grootmens – ook sy het geweet wat sy doen. Ek glo vir geen oomblik dat Steve haar in die aborsie ingeboelie het nie. Gee die duiwel wat hom toekom. Hy het slegs, volgens haar, vir haar gesê sy sal die kind alleen moet grootmaak, maar die finale besluit is hare. Sy het gekies.

Ook Natasha is ‘n grootmens. Natuurlik is die hele debakel ‘n seer wat sy sal moet verwerk. Maar ek glo ook sy is ‘n sterk vrou. Ek glo nie sy sal ineenstort sonder Steve nie, sou dit ooit tot daardie punt kom. So, moenie haar beledig deur haar te onderskat en haar hierdie bejammerenswaardige figuur te maak nie. Was ek in haar skoene, sou ek nie bejammer wou word nie. Dit sou vir my nog meer vernederend gewees het. Gee haar empatie, nie simpatie nie. Daar is nogal ‘n wêreld se verskil tussen die twee.

Die waarheid is waarskynlik iewers in die middel van Steve en Janine se onderskeidelike weergawes. Maar dit is vir daardie drie mense om dit uit te werk. As jy ‘n “fan” is van Steve se musiek, behoort jy nie nou op te hou om na sy musiek te luister nie. Hy sing nie nou skielik anders nie. Alhoewel, Waarmaker is vir my een van sy swakste albums tot dusver. Maar dit het ek reeds verklaar lank voor die poeding die waaier getref het. Sê nie veel vir Janine as inspirasie nie 😉

Volgende week is dit dalk weer Dozi wat dronk bestuur wat die voorblaaie tref, of Jan Blohm wat van die waterkar afgeval het. Die hoogste bome vang die meeste wind.

Die koerante gaan lankal ander voorblad stories en Jerry Springer sagas uitbasuin het, dan gaan Steve en sy gesin en Janine ook, nog steeds die naskok van die bom beleef.

Los die mense nou uit, dat hulle in vrede die skerwe van hul lewens kan optel en kyk of daar enigsins iets te redde is uit die asblik wat die pers en die bewonderaars van hulle lewens gemaak het. Ja, hulle het daartoe bygedra, maar ek en jy en julle almal daarbuite, doen elke dag sonde. Ons maak elke dag foute. Ons is net gelukkig dat elke fout, elke oortreding, nie aan die groot klok opgehang word en op die dorpsmeent uitgestal word vir Tom, Dick en Harry om ‘n oordeel daaroor uit te spreek nie. Of ons te stenig nie.

Ek hou nie van wat Steve gedoen het nie, maar ek het nooit gedink dat hy nie net ‘n gewone mens is met voete van klei nie. Verder het ek nie al die feite oor sy en Natasha en Janine se lewens nie, so ek weerhou my oordeel. As jy hom wil boikot en nie meer sy musiek koop of luister nie, of nie meer SSSB wil lees nie, doen dit. Maar doen dit in stilte. Hy sal wel die verlies voel.

Sal ek nog sy musiek luister en koop? Ja, ek sal.

Laat die van ons wie se sondeboekie rein en wit en skoon is, verder klippe optel om te stenig.

Advertisements

16 Responses

  1. Soms moet ‘n mens weet wanneer om jou mond te hou en net te beaam wat iemand sê. Hier is so ‘n oomblik.

  2. Hierdie is vir my ook so oomblik.

  3. Voel dieselfde hier ook.

  4. Amen. Amen. Amen.

  5. Jip. Ek stem.

  6. Ek beaam ook dit wat jy hier sê!

  7. hoor hoor!!!! ek stem hulle is net mense en hulle sal die probleem uitsort soos hulle wil….

    Steve bly nog my HERO

  8. Regtigwaar, Amen suster.

  9. Hierdie is nou die deel van sterre se lewens wat ek bly is ek nie het nie. Wat Steve gedoen het is onvergeefbaar. Maar, as ek elke dag moes keer vir al die meisies wat my broek wil afskeur, soos wat hy moet keer, sou ek 10 teen een baie meer keer as hy oortree het…

    Meisies waaroor ons ander manne maar net fantaseer, werp hulleself aan sy voete en dan wil ons veroordeel, as sy lus ‘n keer (of meer) uithang…

    Wonner hoeveel die ou regtig wip… Daar is mos die gesegde van ‘n pomp op elke dorp. 🙂

  10. 😉 Hierdie onderwerp is nou hopelik afgesluit!

  11. Dankie vir verstandige mense soos jy. Jammer dat die invloed van iets goed altyd kleiner moet wees as iemand wat vloek en skel. Mooi dag!

  12. Vir eers is die wa verby. Al wat nog in die kuberruim rondkruie is die nagwa en smaak my die ding lek.

  13. Lees nou eers hierdie inskrywing. Ek se ook amen, sela, hoor hoor, dankie en ek stem.

  14. […] nie. Ek wil met hierdie inskrywing oor Steve en Janine skryf. Ek het in Januarie 2008 reeds oor die Steve-wa geskryf. Eintlik het ek so te sê alles in daardie inskrywing geskryf wat daar te sê is. Toe het […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: