Ons almal dra maskers

“Sometimes good people do evil things.”

mask7.jpg

Een oggend word jy wakker en jou buurman het sy gesin uitgewis en daarna homself weggeblaas. Jou goeie gawe buurman, wat gelyk het asof hy nie een bekommernis in die lewe het nie. Maar dit was net sy masker wat jy altyd gesien het.

mask24.jpg

Een oggend maak jy die koerant oop en lees van die ‘nice’ onderwyser. Die een waaroor die kinders mal was, die een wat so goed klas gegee het, mens het altyd uitgesien na sy klasse en goed gedoen in sy vak, want hy was ‘n ‘cool’ onnie. Jy wou hom nie terleurstel nie. Jy lees dat hy al die tyd jong seuns gemolesteer het. Maar jy het net altyd sy masker gesien.

mask20.jpg

Een oggend koop jy die Huisgenoot en lees van die bekende persoon, vir wie jy nog altyd so baie respek gehad het en wat so baie vir liefdadigheid gedoen het. Jy lees dat hy, saans agter toe deure, sy vrou en kinders aangerand het. Maar jy het net altyd sy masker gesien.

mask18.jpg

Hoe gebeur dit dat goeie mense die pad so byster kan raak?

Almal van ons het een of ander tyd ‘n krisis in ons lewe. Hoe ons egter daardie krisis hanteer hang af van wat ons in ons binneste diepste wese ronddra. Dit wat ons diep binnekant ronddra, en vir die res van die wêreld wegsteek. DIT is die diepste deel van ons menswees, dit is wie ons regtig is. Sonder die masker. Kaalgestroop.

Elke dag probeer ons die mense rondom ons tevrede stel. Jy gee jou beste, jy doen jou beste, jy lyk jou beste. Of altans, jy probeer ten minste. Maar binne in jou diepste wese, is daar ‘n oorlog wat woed. Jy is ongelukkig, omgekrap, ongeduldig, voel dalk jy word nie genoeg waardeer nie, word nie genoeg vergoed nie, word nie eers raakgesien nie. Maar dan voel jy weer skuldig omdat jy so voel en jy plak jou masker op en jy glimlag. En met ‘n glimlag op jou gesig is jy besig om te sink… sink… sink… af en af in ‘n bodemlose put.

mask35.jpg

Jy stap verby ‘n spieël, kyk daarin en skrik vir die vreemdeling met jou gesig. Wie is hierdie persoon wat soos ek lyk? Waarvandaan kom sy en waarheen is sy oppad?

Sy maak die kombuis aan die kant, was die wasgoed, het lief en baklei soms met haar man (wat blykbaar jou man ook is), gaan saans bed toe, staan soggens op, maak kos, eet. Gaan tussen-in nog werk toe ook… ‘n plek wat vir jou net te bekend lyk.

En dan besef jy – ek en hierdie vrou in die spieël is een en dieselfde mens. Maar tog soms verskillend ook, want somtyds wil jy dit uitskree: “Haai…jy! Wie is jy en wat maak jy hier!”

mask10.jpg

Die lewe gaan soms in ‘n oogknip verby. Mens word deur die tydstroom meegesleur en soms wil jy uitroep: “Wie is ek, waarheen is ek op pad – en waarom?”

Maar niemand hoor nie – so dan sit jy maar weer jou masker op en jy word weer die hoofnar in jou eie lewe.

Maar soms, net soms, kry mense dit nie reg om die maskers terug te sit nie – en dan lees ons van hulle in die koerant. En ons kan nie verstaan hoekom ‘n goeie mens die pad so byster geraak het nie. Want ons het nooit verby die masker gekyk nie.

mask25.jpg

(Erkenning vir die masker fotos gaan aan   http://www.masquerademaskarts.com/ )

Advertisements

11 Responses

  1. Ek weet alles van maskers. Party dae moeiliker as ander om hom weer mooi in posisie te kry.

  2. Diep skrywe, Sonkind. Ek wonder ook baie daaroor.

  3. Dieper as diep… Well done!

    Ook al baie hieroor gewonder. Ken mens ooit iemand REGTIG?

  4. En tog, God ken elkeen van ons, maskers en al, en Hy het ons onvoorwaardelik lief.

    Daar is ‘gemaskerdesiele’ wat God genees, herstel, omgedraai en nuut gemaak het. Kyk maar vir Paulus…… Hy was ‘n regte egte looser en moordenaar en tog het God vir hom gebruik om Sy werk voort te sit.

    Vir diegene wat waaragtig in Christus Jesus glo, sal dit die mees natuurlike ding wees om daardie persoon by Sy voete te los vir genesing.

  5. Ek het vir jare met my masker rondgeloop oor my kind, ek het probeer wegsteek die seer wat ek het, totdat ek besef het, hel, ek is nie die enigste een met die pyn nie. Toe ek my masker lig het ek besef dat ek weer kan lewe en my liewe vriende het wanneer hulle die “sad” masker opgelet het, het vir my net ‘n drukkie gegee met geen woorde nie. Wonder nou hoeveel mense wat ek goed ken het maskers op wat ons nie van weet nie, ag sorry man ek is sommer net sad vandag!

  6. En net so by the way, excellent post!

  7. Ek dink toe eers later aan die woorde van ‘n liedjie, Maskers, wat Laurika op haar album Vir Jou gesing het:

    MASKERS, MASKERS WAT ONS ALMAL DRA
    WIL GRAAG WEES WAT ONS VOORGEE
    AANVAAR NIE WAT ONS IS

    OERWOUD VAN GRANIET
    OERWOUD VAN GRANIET
    SPELERS IN ‘N SPEL
    DIT KAN EK VERTEL
    POPPE MAAR VAN KLEI
    NIEMAND MAAK HUL VRY

    Kry dit by http://www.laurikarauch.co.za/songs/pdf/maskers.pdf

  8. Ek reken met die masker op is dit asof die seer nie met jou gebeur nie; nie heeltemal ‘n ander persoonlikheid nie, maar eerder ‘n skans, ‘n ekstra lagie vernis om te beskerm teen die lewe wat aan ‘n mens skaaf. Dit bewys net weereens wat ‘n totaal subjektiewe ervaring die lewe is. ‘n Mens het geen idee van dít wat in ander mense se gemoed aangaan nie – geen idee nie – en al wil ‘n mens hoe graag verstaan, sal jy nooit deel kan hê aan daardie unieke heelal nie. Die maskers laat ons toe om voor te gee dat ons almal dieselfde is; ‘n gemaklike, gesamentlike leuen.

  9. Platt, die antwoord is natuurlik – NEE -!!! Dit is tog waar die ou gesegde van, never judge a book ……. vandaan kom.

    Wel, ek weet nie van jou nie, maar ek sien maskers op meeste mense. Hierdie era van die mensdom is nie meer daardie ene van gister nie, of ons dit nou wil weet of nie.

    Dit is soos Santie daar bo sê, die enigste ding wat ons as mens kan doen is, is om geloof te hê en dit dan by Sy voete te los vir genesing.

    Dit is ook so dat daar nie salf te smeer is aan sekere van ons nie. Die maskers sal maar altyd en ewig daar wees, of hoe?

  10. Ek weet nou nie of dit werklik betrekking het nie, maar het jy Sat die By gelees? Daai ou met die brief uit die tronk…

    Jislaaik, hoeveel maskers moes daai ou nie al opsit om te survive nie!

  11. Almal dra maskers. Sommige net meer as ander. Ons het ‘n “pose” om te hou. Mense mag nie weet nie. Soms is dit ‘n oorlewings-truuk soos skoorblok verwys na die ou in die tronk. .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: