Vroue in ons tronke.

Womaninprison

Op vandag se “search engine terms” het iemand “kinders onder 5 saam met ouers in tronke” ingetik en by my blog uitgekom. Vreemd. Ek wonder hoekom iemand oor so iets sal wil lees. Ken die persoon so iemand? Of was dit bloot vir navorsingsdoeleindes?

Uit nuuskierigheid gaan google ek toe dieselfde en het met naarheid die volgende raak gelees. Dit kom uit Beeld van Mei 2004:

‘n Vrou, wat ‘n witboordjie misdaad gepleeg het, word tot tronkstraf gevonnis. Sy is toe reeds 12 weke swanger. (En hier wonder ek, want hofsake vat gewoonlik meer as 12 weke. So, was sy uit op borg? En as sy was, hoe kon sy so onnadenkend gewees het om swanger te raak? Met ‘n vonnis wat oor haar kop hang?)

As ma van vyf kinders (En ek wonder weereens?!) het sy nie kans gesien vir nog ‘n baba nie. Die tronkowerheid stem in dat sy ‘n aborsie kan kry, maar op haar eie onkoste. Haar man stem in om vir die aborsie te betaal, hulle voltooi die nodige vorms en dien dit in by die tronkowerheid. Eers ses weke later, toe die vrou al 18 weke swanger was, word die aborsie amptelik goedgekeur.

Nou moes die vrou wag vir die dokter wat die gevangenes weekliks besoek. In sy spreekkamer moes sy op die bed gaan lê, terwyl hy gereed maak. Wat daarop gebeur het, was skokkend.

Die dokter het een van die fetus se ledemate in haar liggaam afgebreek en dit uitgetrek. Later die dag is sy hospitaal toe gebring, waar sy aan die dooie baba geboorte geskenk het. Haar voete was aan die hospitaalbed geboei. (Ek wil huil as ek hierdie lees. Hoeveel kinderlose mense is daar wat maar te graag hierdie kindjie sou wou aanneem?!)

Hierdie is maar net een van die verskriklike verhale wat prof. Christina Landman, ‘n teoloog van Pretoria, weekliks moet aanhoor wanneer sy as ‘n amptelike onafhanklike gevangenisbesoeker (OGB) ‘n tronk in Gauteng besoek om die klagtes van die vroue aan te teken.

“Die liggame van vroue in Suid-Afrikaanse tronke is besonder weerloos,” sê prof. Landman. Daar word nie voldoende omgesien na vroue se sanitêre behoeftes nie – hulle kry tien sanitêre doekies per maand en twee rolle toiletpapier. Baie van die vroue het nie eers ‘n matras waarop hulle snags kan slaap nie. Hulle rol bloot hul beddegoed op die vloer oop terwyl ander twee-twee op ‘n enkelbed slaap.

Babas word in oorvol selle gebore en bly dan tot hul derde jaar saam met hul ma’s tussen die ander gevangenes, van prostitute tot witboordjie-misdadigers. Die kinders kry geen vorm van buite-stimulasie nie.

Net 2% van die mense in Suid-Afrikaanse tronke is vroue. Die vroue word meestal aangehou in een van ses tronke wat uitsluitlik vir vroue is, hoewel daar ook by tronke vir mans landwyd geriewe is vir vroulike gevangenes.

Die geriewe in die vrouetronke is egter onvoldoende. Tot 60 vroue word in ‘n sel met net een toilet opgesluit. Baie van hierdie vroue is in die tronk vir klein oortredings, soos die diefstal van kos.

“Mense wat sulke klein oortredings begaan, hoort nie in die tronk nie. Daar moet alternatiewe maniere gevind word waarop hulle gestraf kan word.” sê prof. Landman.

“‘n Derde van die vroue in ons tronke is wit en die meeste is aan bedrog skuldig bevind. Die vroue sê altyd hulle het geld vir hul families gesteel. Om hul kinders te kon kos gee. Dis ook verstommend hoeveel vroue uit gegoede omstandighede geld gesteel het vir plastiese snykunde omdat hul mans begin rondloop het!”

“Daar is ‘n ernstige tekort aan sielkundige dienste. Dis asof die owerheid se houding is dat depressie normaal is wanneer jy in die gevangenis is.
Tog is die tronk, met die rotte wat oor die vloere skarrel en die wurms in die pap, vir sommige vroue beter as die lewe daar buite.”

‘n Vrou het aan Landman vertel sy is eers deur haar pa en later deur haar man aangerand. Vir haar was die tronklewe “wonderlik” omdat sy nie daagliks geslaan is nie.

Landman het ook tronke vir mans besoek en gevind dat die situasie in tronke vir mans baie verskil. In baie van die tronke het die mans meer ruimte. Mans in die tronk word ook aangemoedig om te studeer, terwyl dit nie lyk asof die owerheid enigsins die vroue aanmoedig om te studeer nie.

So, selfs in die tronklewe is daar diskriminasie tussen die geslagte!

Advertisements

16 Responses

  1. Frok! Brilliant entry! Eish, dit ruk my tot in my siel!

    En wat ook vassteek, watse grondslag word daar vir daai kinders gelê!

    Translate die entry en stuur hom vir ons goeie liewe government, en elke koerant!

  2. Sonkind, dit ruk ‘n mens wat jy hier lees. Ek gaan later op my blog ook iets soortgelyks vertel oor klein Zee se ma. Dit is baie baie sad.

  3. Dis baie hartseer, ja. Maar dis ook ‘n tipe van ‘n paradoks, nie waar nie? Ek begryp die onreg wat die kinders aangedoen word en raak net so omgekrap soos jy as ek hoor dat daar gediskrimineer word, maar moet bieg – ‘n misdadiger verdien straf. Is onsanitêre omgewings enigsins ‘n kwessie? Tronke lyk tog oor die algemeen haglik. Since when kort misdadigers royal treatment?

    Vir die afgelope drie jaar was ek in talle tronke regoor die land (en as ek sê “in” dan bedoel ek binne-in, saam met moordenaars en verkragters om my en ‘n karige handjievol tronkwagte tussen ons. Soms nie eers tussen ons nie).

    En trust me – daar is nie iets soos ‘n skoon tronk nie.

    Dis ‘n fyn lyn, reken ek. Jy wil wie ook al jy daar inprop beter daar uitkry. Terselftertyd prop jy daardie persoon daarbinne om ‘n onaangename tyd te beleef. (Rehabilitasie-lingo kom ook net sover, myns insiens – die kruks van die saak is dat ‘n tronk ‘n straf is en ‘n straf onaangenaam is.)

    Catch 22. Lekkerrrrr…

  4. Ja dit is skokkend. Ek dink die kinders behoort tussen ander misdadigers (as die ma) uitgehou te word. Miskien moet hulle kinderversorgingseenhede hê, amper soos ‘n kinderhuis, en die ma mag die kind bv. vir ‘n halfuur per dag sien. Die res van die tyd moet sy haar straf vat, en die halfure moet by haar vonnis gevoeg word.

    Dit sal natuurlik ons as belastingbetalers se sak lelik ruk. Miskien moet die regering ‘n plan bedink om ons mense so op te voed dat die tronke nie so vol is nie – ek dink dis die kernvraagstuk.

    Kon jy glad nie uitwerk hoekom die persoon met die soekterme by jou uitgekom het nie? Soekterme interesseer my ook geweldig en ek kan gewoonlik sien presies watter inskrywing dit mee verband hou. Ek is besig om almal in een lêer te stoor. Lyk my die een wat die meeste voorkom by my is “Guillotine”. Hunker mense dalk terug na die doodstraf? Miskien sal dit help vir die probleem!

  5. Dis hartseer. Ek het myself al probeer indink hoe dit moet voel om met ‘n kind in die tronk te wees. So onregverdig teenoor die bloedjies. En hulle is onskuldig daar. Sulke goed maak my mal. Niks wat mens daaraan kan doen nie. Of is daar?

  6. Mmm…die ander kant van die munt is natuurlik dat daar teen mans ook gediskrimineer word as hulle nie hulle kinders by hulle in die tronk mag he^ nie. Ek stem saam dat ‘n tronk nie ‘n plek vir ‘n kind is nie en dit geld vir vrouens ook. Ek voel nie hulle behoort hulle kinders by hulle in die tronk te he^ nie. Dit is ongelukkig ‘n straf soos Johan se^, maar ek stem dat indien dit ‘n ‘petty crime’ is, moet eerder na alternatiewe strawwe gekyk word. Ek weet darem ook nie of hierdie prof by Pollsmoor was nie as sy so praat van meer spasie by die mans as by die vrouens nie… Dit staan inelkgeval enige gevange vry sover ek weet, om aansoek te doen vir studies. Nie net mans nie. Baie goeie inskrywing. Dankie.

  7. Dit is inderdaad ‘n taai tameletjie hierdie. Ek sou sê dat die kind maksimaal een jaar saam met die Ma mag bly, mits sy borsvoeding gee. Anders gaan hy daaruit! Die doel is om die ma te straf en nie die kinders nie. Watse basis kry ‘n kind wat die eerste drie jaar van sy lewe in ‘n tronk deurbring om dan van sy ma weggeskeur te word (baie erger as op een jaar).

    Ek’s bly dis nie my werk om oplossings te soek vir sulke vraagstukke nie…

  8. Goeie inskrywing. Ek bid net dat ek nooit in daardie situasie moet beland nie. Dis yswekkend.

  9. Johan, ek stem saam, misdadigers moet gestraf word. Ek weet daar is sogenaamde “oop tronke” vir mense wat minder ernstige misdade gepleeg het, maar ek dink in geheel, is die tronkstelsel in SA ‘n totale mislukking.

    Kyk hoe hoog is die persentasie van residivisme in ons land. Daar is amper geen sprake van enige werklike rehabilitasie nie.

    Ek het ook nie antwoorde op hoe om hierdie dilemma op te los nie. Is meer tronke ‘n antwoord? Ek dink nie so nie. Kan ons maar alles weer voor die deur van werkloosheid en so aan le? Ek wil dit ook amper nie glo nie. Nie alle werkloses pleeg misdaad nie.

    Is dit reg om te steel as jou kinders honger is? Ek dink nie ek sal nie, maar ek was nog nie in daardie posisie nie, so dit sal dwaas van my wees om sommer net te glo ek sal dit nie doen nie. Nood is ‘n snaakse ding.

    Wat ek wel 100% glo, is dat daar nie kinders in tronke hoort nie, vir geen rede nie. Ek glo dat enige baba onmiddellik weggeneem moet word en dan eerder in pleegsorg geplaas moet word, as om ter wille van kind of ma, die baba in so ‘n omgewing te los. Mens se eerste 5 jaar is van jou belangrikste vormingsjare. Watse kans het ‘n kind regtig in die lewe as sy eerste 3 jaar van sy lewe in ‘n tronk-omgewing deurgebring is?

    Wie ook al besluit het om dit toe te laat, moet sy/haar kop laat lees. Verder het ek nie onnodig simpatie met misdadigers nie, Ek voel ook dat die TV’s en ander luukses in tronke kan weggevat word en basiese omstandighede eerder verbeter word.

    Dis in elk geval ‘n taai toffie, al kyk mens hoe daarna.

  10. Hi Sonkind. Dit was baie sad om hierdie te lees. O ja, nie alle hofsake duur langer as 12 weke nie. Dit hang alles af van die klagtes en die vordering met die ondersoek en die verwere en hoeveel getuies en al sulke dinge daar is. Baie sake word sommer tjoef tjaf afgehandel as alles in plek is.

  11. Straf bly maar straf. Alhoewel mens wonder wat van die term “korrektiewe diens” geword het. Ek stem saam dat sekere forms van misdaad beter hanteer kan word as om persone tronk toe te stuur.

    Die vraag is net of Suid Afrika die infrastruktuur het om baie gevangenes te kan rehabiliteer buite die omvang van ‘n rehabilitasie institusie.

    Meeste “petty crimes” is ‘n direkte afstammeling van die goewerment se onvermoe om die basiese infrastruktuur aan sy burgers te verskaf en daarom draai individue na diefstal (Meestal kos, geld en implemente om geld te bekom) om aan die lewe te bly.

    So persoon moet gerehabiliteer word buite enige korrektiewe instansie deur gemeenskap dienste en opleiding. Dit is die regering wat moet boet omdat hy nie aan so individu die mees alledaagse lewensmiddele kan voorsien nie.

    Korrupsie en dies meer veroorsaak werkloosheid wat op sy beurt lei tot misdaad etc. Die bose kringloop wat iewers begin en ‘n lelike einde het vir die man op straat wat direk geraak word deur misdaad. Hetsy daar van jou gesteel is of jy die misdaad pleeg.

    Ongelukkig is dit die regering se onbeholpenheid met die plasing van korrekte korrektiewe infrastruktuur wat maak dat mens liewer die booswig agter tralies wil he en weg van jou belange. Maak nie saak hoe onskuldig sy intensies was vir die selfoon wat hy onwettig bekom het om te verkwansel vir broodgeld nie…

  12. Sjoe, dis skokkend!

    Dankie vir ‘n ‘n goeie inskrywing en dankie vir jou inloer by my blog ook.

  13. Dis ‘n baie goeie post, nie so ‘n lekker topic nie, maar ek weet ek maak my skuldig daaraan om nie te dink aan goed waarvan ek nie die antwoord wil hoor nie. As ek die misdadigers se boeie hoor kling-kling op die hofvloere bid ek altyd dat dit met hulle goed moet gaan – want hulle lyk regtig verslete en verslaan – en dan raak ek kwaad vir myself, want hulle moes iets gedoen het om in die posisie te wees… Ek het net nog nooit eintlik aan die kinders gedink nie.

  14. Sonkind, ek moet van jou verskil. ‘n Tronk is eintlik supposed om niks meer as ‘n plek van captivity te wees nie. ‘n Plek waar jy mense wegbêre – en volgens hierdie definisie kan ‘n tronk net misluk indien iemand daaruit ontsnap.

    Enigiets meer, soos rehabilitasie, is ‘n absolute bonus.

    Miskien is jy te skepties – waarop presies baseer jy jou stelling dat SA-tronke ‘n mislukking is? I mean once their inside, they mostly stay inside.

    (Ek weet, dis nou al lank reeds nie tronke nie, maar korrektiewe fasiliteite. Maar dis gobbledygook. Dit bly ‘n tronk).

  15. Johan, ek hoor wat jy sê en ek dink ons sal nog lank hieroor kan debatteer.

    Ek swot Kriminologie (NGD) omdat ek ‘n intense belangstelling het in die redes hoekom en waarom iemand homself tot misdaad wend.

    En ek sou dalk met jou saamgestem het oor die gobbledygook gedeelte as ek nie eerstehandse ervaring gehad het in ‘n gevallestudie wat gedoen is van ‘n eerste oortreder nie.

    Dalk sal ek nog mettertyd ‘n post daaroor skryf, maar in kort kan ek net gou hier vertel – die persoon is amper gevonnis tot 10 jaar tronkstraf en ek kan jou ‘n brief gee dat daardie jare van hom ‘n geharde misdadiger sou gemaak het.

    Toe vind die regter dit goed om, as gevolg van verskeie omstandighede, hom ‘n opgeskorte vonnis te gee, een van die lywigste opgeskorte vonnisse wat ek nog van gehoor het. Na 11 jaar het daardie persoon hom nog nooit weer na misdaad gewend nie en is vandag ‘n verantwoordelike landsburger.

    As daardie persoon net weggebêre was, sou die prentjie vandag baie anders gelyk het. So, ja, rehabilitasie is seker ‘n bonus. Maar ek glo nie sommer net daaraan om mense toe te sluit en te vergeet van hulle nie.

    Elke geval is uniek en moet so beoordeel word, want selfs as jy net een uit ‘n 100 laat wegdraai van misdaad af, dan is dit een misdadiger minder in die tronk en minder in die samelewing.

    En tans misluk ons meer as wat ons suksesvol is met rehabilitasie – en dit is hoekom ek dink ons tronkstelsel is ‘n mislukking. Ook ons ‘korrektiewe toesig’ is eintlik ‘n grap, maar dis net my beskeie opinie.

  16. Sjoe, wat ‘n goeie maar vreeslik onstellende inskrywing.

    Johan Swarts voordat ek nou heeltemal boosaardig vir jou raak sal ek jou liewer verskoon, want jy is nog baie jonk en sal ook later meer van die lewe leer. ‘n Tronk is nie daar om misdadigers te straf deur hulle van alle menswaardigheid te ontneem nie. Die gebrek aan vryheid is die straf en dit moet gekombineer word met rehabilitasie, want dit is die enigste manier om te keer dat misdadigers weer oortree. Toegegee, daar is onrehabiliteerbare en uiters wrede misdadigers, maar ons praat nie nou van hulle nie. Ons praat hier van witboordjie misdadigers en vrouens wat kos gesteel het. ‘n Ma wat kos steel vir haar kinders hoort in elk geval nie in ‘n tronk nie. Sy behoort nie eers gestraf te word nie. Inderdaad behoort sy verskoning gevra te word vir ‘n stelsel wat haar totaal gefaal het en dan gehelp te word. Om dan nog daarby ‘n onskuldige kind saam te straf. Dit is grotesk. Die sondes van die vaders (moeders) inderdaad…..

    Ek stem saam met Kop. As die ma wel in ‘n tronk hoort (en baie doen duidelik nie) moet die kinders nie saam met die ma’s in die tronk wees nie. Ma’s moet eerder daaglikse (maar darm langer as ‘n halfuur) toegang tot die kinders kry. Anders is dit ook by die ander straf vir die kind ‘n verskriklike ontwrigting om op drie jaar van sy/haar ma af weggeskeur te word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: