My Vyfde Tand.

Ek voel vanmore soos ‘n beer met ‘n seer tand (te veel gekuier, so dis seker my verdiende loon) en toe lees ek hier van Kyker se  melktand wat nooit gewissel het nie. Laat my toe onthou van my verstandtande.

Kyk, ek sal nou nie sommer sê ek sal eerder ‘n leeu kaalhande aanvat voordat ek tandarts toe gaan nie, maar my vrees vir ‘n tandarts is min of meer op daardie skaal. Kaalvoete oor rooiwarm kole loop is ‘n “slushpuppy” in vergelyking met tandarts toe gaan, vir my nou.

Maar ek wil ook nie valstande hê of sulke goed nie, so elke jaar skraap ek my moed onder my voete uit en doen daai ding. Gelukkig het ek my pa se tande geërf en is dit maar min kere nodig vir stop of trek of so iets.

My pa glo vas hy het sy spierwit, gesonde tande te danke aan sy kleintydse pap etery saam met die swartmense in die Transkei. Hy sê altyd ek moet mooi kyk, swartmense het die mooiste tande. Nou nie meer vandag nie, want hulle het te veel van ons slegte eetgewoontes aangeleer. My pa is vandag by die 70 en het nog al sy eie tande, en GEEN stopsels nie.

Elk geval, soos elke ander jaar, gaan ek in 1987 weer tandarts toe vir my jaarlikse sessie. Maar hierdie keer is daar ‘n kiestand wat lol en die tandarts besluit om X-strale te neem. Dis die eerste keer wat ek ervaar dat daar X-strale van mens se mond geneem word en ek dink dit was seker toe nog ‘n redelike nuwe praktyk. Op die stadium van my lewe bly ek in Secunda.

Kom die tandarts na my toe met die X-strale in sy hand en vra vir my of ek bewus is daarvan dat ek vyf verstandtande het. WTF! Hoe de donner sal ek dit nou moes weet? Hy wys my toe mooi, links onder, hoe sit die twee tande bo op mekaar, nog in my kakebeen, want op die stadium het my verstandtande nog nie uitgekom nie.

Die tandarts was ook deeltyds dosent by Tukkies en vra toe of hy my toestemming kan kry om my tande se X-strale vir die tandheelkunde studente te gaan wys, want dit is ‘n verskynsel waarvan hulle leer, maar nog nooit in die werklikheid gesien het nie, aangesien dit net voorkom by net een uit, ek dink, omtrent 10 miljoen mense.

Ek voel ‘n veer wie na my X-strale kyk en gee hom met liefde toestemming, want my aandag is toe reeds geheel en al by wat hy nog gesê het, naamlik dat die verstandtande sal moet uit. Onder narkose.

Blykbaar verswak die dubbele dosis verstandtand my kakebeen en as ek net ‘n ligte stamp teen my kakebeen sou kry, mag dit veroorsaak dat my kakebeen breek en al die drama wat daarmee gepaardgaan. En aangesien hy dus die een kant se verstandtand/e moet verwyder, sal hy sommer die ander 3 kante ook doen, dan is wat klaar is mos nou klaar!

So stem ek maar in, die tandarts weet tog beter. Die afspraak by die kliniek word gemaak vir 2 weke later. En so kry ek dus twee weke kans om die saak te herkou, ‘no pun intended’. En elke keer praat ek myself moed in tot by die punt wat ek besluit ek gaan die operasie laat doen en basta, ek is nie ‘n sissie nie.

Die oggend van die operasie, toe ek opstaan, toe weet ek; “when hell freezes over and the devil wears ice skates”, tot daardie dag sal ek nie ‘n geslagtery aan my mond toelaat nie.

Ek is nooit weer terug na daardie tandarts toe nie en toe die kliniek bel, het ek gemaak asof daar iewers ‘n helse misverstand was en dat ek nie die persoon is wie se verstandtande een te veel is nie. Swak ja, ek weet, maar ek kon nie anders nie.

Dis nou 20 jaar later en ek het nog steeds al vyf my verstandtande en my kakebeen is nog nooit gebreek nie, al het hy al ‘n paar stampe weg. En my X-strale toer seker nou nog deur Tukkies se tandheelkunde departement!

Advertisements

13 Responses

  1. Ek het niks van tandartse gehou nie, totdat ek die drugs ontdek het. Jy sit in die stoel en gee werklik nie om nie. Fantasties. Deesdae dring ek aan op drugs as dit klink of hy my gaan seermaak. 🙂

  2. Kostelik, uniek! Mmmm… ding praat nie oor tande nie … behalwe:
    1. Ding sorg dat die tandarts baie, baie naby aan ding se regterhand sit wanneer hy aan ding se mond werk – ons het die eerste dag al gegroet met die wedersydse begrip dat ding se regterhand soos die tandarts se knyptang waarmee hy tande trek, kan werk – net op ‘n ander, heelwat laer vlak – ons het ‘n goeie verstandhouding: hy maak nie vir ding seer nie, dan maak ding hom nie seer nie.
    2. Ding het al soveel geld betaal aan tande; die tandarts verwys al die laaste jaar na “ons praktyk” en “ons oes oppie land”…

    Maar oor tandartse praat ding nie graag nie.
    Sonnie, nou weet jy mos: jy is behoorlik bekkig! Met meer verstand as 9 999 999 ander mense!

  3. Hehe! Nog n banggat! Ek faint as ek op sy stoel gaan sit! Dankie tog is nie net ek wat bang is nie!

    Sal julle leer om sonder my te kuier…

  4. Die verwydering van my verstandtande is een van die beste dinge wat ek ooit gedoen het – dis nou ‘n dekade later en ek het nog nooit weer ‘n migraine gehad nie. Wat ‘n totale wonderwerk. Maar ek moet erken, dit was nie baie lekker toe ek daar wakker word nie! Ek is nie lief vir narkose nie, laat ek dit so stel…

  5. Myne is ook so ‘n hele paar jaar terug verwyder onder narkose. Dit was vreeslik seer voor die tyd, en die x-strale het gewys die goed groei heel in verkeerde rigting – terug oppad na my keel toe, nie uit boontoe nie! Maar ek moet ook nogal sê, nadat dit verwyder is, het die erge hoofpyne baie minder geword.

  6. So ‘n geboordery ens. in ‘n mens se mond bly maar onaangenaam. Veral ‘n geslagtery, want dan sukkel jy om daardie wonde in jou mond gesond te kry, ‘n … smaak vir omtrent ‘n week. Wel, as hulle jou nie pla nie, lyk dit of jy ‘n “verstandige” besluit geneem het!

  7. My hele mond is vol skewe tande. Kleintyd wou my ouers al werk daarvan laat maak, maar ek het net eenvoudig geweier. Toe ek Dirk leer ken, praat hy my om om ‘n spesialis te gaan sien om die tande gelyk te kry. Ewenwel, die spesialis is al handevrywend en beloof my die mooiste glimlag denkbaar – na twee jaar van operasies en draadjies. En dis net daar wat ek toe besluit hierdie geleentheid vir selfverbetering gaan ek by my laat verbygaan.

    Snaaks, ons praat weer die naweek daarvan en Dirk seg: “Ja, jy kon jou tande laat regmaak het.” En ek voel die oeroue verontwaardiging in my opsteek en ek sê: “Hoorhieso! As jy my wil los oor skewe tande, daar is die deur!” En toe sê Dirk. “Nee, toemaar!” En toe verander ons liewer gou die onderwerp.

  8. Ja, eina tog. Ek so ook gehol het as ek jy was. Ek onthou, as kind, hoe die plaaslike tandarts een van die mees gesiene lede van die gemeenskap was. Hy was gelyk in aansien aan die skoolhoof, al die dorp se dominees, die dokter en die tronk se hoofbewaarder. Op skool het die onderwysers so elke ses maande ‘n streng bevel laat uitvaardig: ‘Kinders, dis tyd vir julle volgende tandartsafspraak!’ My ma het altyd hoek, lyn en sinker vir die storie geval en ek het dus gereeld my mond vir die ou gaan ooptrek. En ek wonder soms of hy nie dalk aan my tande gestop het wat nooit gaatjies gehad het nie…

  9. Ek kan net een ding se^. Die operasie om my verstandtande te verwyder was seerder as geboorte skenk (daarna meen ek nou).

  10. lol@roer! Son, so jy het nog al jou verstandtande? Die dat jy so “witty” is!

  11. 5 verstandtande….nee met kyker se melktand wat die aanslae van die lewe steeds oorleef en sonkind se 5 wonder ek nou oor bloggers se tande….

    sonkind. hulle wou ‘n navorsingsartikel skryf oor jou en jou tande. amper eindig jy in ‘n bottel in ‘n anatomielab.

  12. […] ‘n paar maande terug het ek HIER vertel van my vyf verstandtande. Wel, daar is nou net […]

  13. […] het nie meer vyf verstandtande oor nie, net vier, maar die twee wat bo-op mekaar sit, is nog steeds lekker rustig en vas in my […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: