Die lyk in die stoel

Ek wil vandag ‘n storie vertel. ‘n Ware storie. ‘n Storie wat my verskriklik omgekrap het, maar ek is nie seker of ek die reg het om omgekrap te wees nie. Dalk is my denke hieroor heeltemal verkeerd. Dalk is wat gebeur het heeltemal normaal. Dalk is ek weereens die een wat nie inpas in normale “society” en hoe normale “society” werk en inmekaarsteek nie. Nie dat dit vir my sal nuus wees nie, maar ek het hieroor vannag nie goed geslaap nie. En ek het gedink, vertel die storie en luister na ander mense se opinies. Dalk veroorsaak dit dat ek my eie opinie hersien.

Ek gaan vertel wat gebeur het, en dan gaan ek vertel wat ek dink moes gebeur het. Voel vry om met my te verskil, enige tyd. Dalk is dit ‘n geval van perspektief.

Daar is gisteraand ‘n man dood. Ek ken die man net van sien, maar ek ken sy vrou (hulle was nie wettig getroud nie, maar al vir baie jare saam, so ja, ek beskou haar as sy vrou). Ek ken haar nogal goed. Die vrou was gisteraand besig om te stryk en die man het in die leefvertrek in sy stoel gesit, nog besig om musiek te luister, toe hy blykbaar net ‘n geluid maak en op die plek dood is aan ‘n massiewe hartaanval.

Die persoon wat ons bel met die tyding, rig toe ook die versoek dat ons maar ‘n draai by haar gaan maak en hoor of ons enige hulp kan aanbied. Ek was alreeds skuins oor hierdie versoek, want my persoonlike gevoel is dat al hulle familie tog onmiddellik sal gaan en dat ons, as slegs vriende, vir die spesifieke oomblik, dalk net oorbodig en onnodig in die pad sal wees. Dat ons eerder net moet bel en vir haar laat weet dat ons daar is, sou sy ons nodig kry vir enige iets.

Nou, ek het reeds my eie gedagtes oor dood en al daai dinge en soms raak die Liefie effe ongedurig met my en gisteraand vertel hy my dat mens darem net soms “compassion” moet hê. Nou moet ek byvoeg dat die man wat dood is, die arme vrou omtrent ‘n lewe gelei het. Hy was afgetree, terwyl sy nog gewerk het, en hy was meesal half of heeltemal besope en het glad nie sy aftrede goed hanteer nie, en haar ook nie aldag goed hanteer nie. Sy het baie oor hom gekla en baie gedreig om hom uit die woonstel te gooi, wat haar blyplek is. En dan, ander dae, het dit weer goed gegaan tussen hulle. Soos die lewe maar is.

So, mag ek vergewe word, maar my eerste gedagte met die tyding van sy dood was; “Wel, vir een keer het die Here ‘n slag die regte een weggeneem.” En ek het die gedagte dan ook hardop uitgespreek, dié dat die Liefie my so effe op die vingers getik het. Ek weet dit was nie vir my om so te dink nie, maar ek het nogtans.

So, ek kapituleer toe maar en ons ry na die woonstel. Daar gekom, staan meeste van die familie buite en sê vir ons die vrou is bo in die woonstel. Die dokter was reeds daar om die man dood te sertifiseer, maar hulle wag nog vir die lykswa om hom te kom haal. Die is elders besig en kan eers oor ‘n uur of wat kom (klink vir my al te veel soos onse SAPD).

Nou kan ons nie net omdraai nie, so ons is toe nou maar noodgedwonge op woonstel toe. Mens kom die woonstel direk in die leefvertrek in, en hier sit die man nog steeds in sy stoel, maar heeltemal toegegooi met ‘n laken. En die familielede marsjeer in en uit verby hom. En ons moet ons simpatie betuig, maar ek kan die man nie miskyk nie en ek weet net – hierdie is nie vir my reg nie. Hierdie is nie hoe ek dit sou gedoen het nie. Hierdie is so sonder waardigheid teenoor die dooie en so ontstellend vir my. Maar dit lyk asof al die ander mense dit net as alledaags ervaar. Die toegegooide lyk in die stoel.

Ek verstaan dat hulle mense in padongelukke toegooi, dis vir my logies. Maar gisteraand… Dit was nie vir my logies nie.

Hoe sou ek dit dan gedoen het? As dit my man / kind / geliefde was, wat stil-stil dood is in ‘n stoel of in ‘n bed, sou ek, na my aanvanklike skrik en my onmiddelikke hartseer, eers vir ‘n paar oomblikke in stilte by die persoon gaan sit het en afskeid geneem het. Want ek sou besef het dat dit die laaste keer is wat ek hom in menslike vorm sou sien. Daarna sou ek die dokter gebel het en slegs een familielid laat weet het en gevra het dat sy al die ander laat weet, maar dat niemand asseblief na my toe moet kom voordat ek hulle nie laat weet het nie. Sonder om hom toe te gooi met enige iets, sou ek dan in stilte by my geliefde gesit en wag het, dalk met hom gepraat het, heeltemal afskeid geneem het, tot die lykswa kom. Om daar by hom te sit, al is hy dood – dit sou my nie afgeskrik het nie. Dit sou vir my meer waardig gewees het as ‘n klomp mense, wat dit sekerlik ook goed bedoel het, wat heen en weer verby ‘n toegegooide dooie beweeg.

Daarna kon die mense maar kom, om te troos en sommer net by my te wees. Nadat hy weg is.

Dis hoe ek voel, dis hoe ek dink. Dis hoe ek dit sou wou hê. Ek dink nie ek is verkeerd nie. Is ek?

Advertisements

16 Responses

  1. Ja, ek dink jy’s reg, mens moet darem die dooie se waardigheid in stand hou, ek dink ook, hou ‘n klomp mense maar eers weg.
    Ek wil ook net sê die ou is darem gelukkig om te gaan terwyl hy besig is om iets te doen waarvan ek baie hou – musiek luister! Of gaan ek ook oor die vingers getik word oor die gedagtes? Was hy regtig so “bad”, hulle sê mos slegte mense sing nie.

  2. Uiters ongewoon. Verbeel jou net hoe sou dit gelyk het as daai lyk skielik uit die stoel opgespring het met die laken nog oor hom en sy hande vorentoe uitgestrek en as hy dan in die kamer begin rondloop het en geluide soos “Oeeee, hooeeeee, hoeeee” gemaak het.

  3. Jy laat my dink… en wonder!!!

  4. Ek stem saam met jou manier, ek sou wou hê dat my geliefde MY so moet behandel, met waardigheid vir oulaas. Sonder ‘n klomp mense wat in en uit beweeg. Jy is reg.

  5. Kop – ek dink darem nie die ou was NET ‘bad’ nie. Ek sal nogals self daarvan hou om met musiek in my ore te gaan!

    Bertus – elke keer as ek jou comment lees, dan borrel die lag by my uit. Jy het sowaar vir my ‘n heeltemal ander perspektief op die hele scenario geplaas! Jy klink soos een van my ma se kinders. Sy het ons al male sonder tal daarvan beskuldig dat ons ‘n ‘ghaai’ van alles in die lewe maak en dat ons nog seker eendag op ons sterfbeddens ook sal lê en ‘n grap daarvan maak! 😆

    Platt – wat wonder jy?

    Dellie – dankie. Nou weet ek darem ek is nog naastenby normaal! 😉

  6. My pa het vroeër die jaar besluit hy is moeg vir die nuwe Suid-Afrika. Hy het alleen in sy woonstel ‘n hartaanval gekry. Wat presies gebeur het, sal niemand ooit weet nie, want daar was bloed en ‘n stukkende glas in die kombuis, bloed op sy bed, en baie bloed in die badkamer.

    My ma het aangedring om alleen skoon te maak. Dit was net ek en my broer en sy. Ek sou enige iemand wat toe daar sou wou opdaag weggejaag het.

    So ja, ek voel soos jy. Daar is ‘n fyn lyn tussen simpatie betoon en mense alleen los om afskeid te neem. Selfs ‘n begrafnis is ‘n private ding. Los die ter aarde bestelling vir die familie en regtige close vriende, en gaan net na die diens na die tyd. Dis hoe dit hoort. Party mense verwar simpatie en die blerrie pad wees…

  7. Wat sal ek doen in so ‘n situasie? As die persoon vir wie ek liewer as die lewe self is (ek hoop!) moet sterf?

    Eerlikwaar, ek weet nie. Sal ek helder kan dink oor wat ek behoort te doen? Ek weet nie.

  8. Sonkind, jy is getag. Gaan kyk daar by my as jy wil weet waaroor dit gaan! 😆

  9. Gits, ja, ding weet nou nie so helemal lekker van die ene met Bertus se geluide nie, maar ding kan nogals dink dit sou sports kon wees as die lakenpersoon in ‘n spokerige stem sou vra: “Wie’t my toegegooi?”.

    Sonson, wat jy sê, maak vir ding logies sin. Maar presies hoe logies ‘n ou dink en optree wanneer iets so onverwags gebeur, weet ding ook nie lekker nie. Ding het al hier en daar deur ‘n ander se doodgaan gelewe, maar nog nie in manman se huis nie – gewoonlik dood die mense rondom ding maar op ander plekke as in mekaar se huise, jy weet – so, die lewendes had telkens kans om die dooie net so te los en te verkas.

    Maar ja, dankie, jy’t nou nogals vir ding ‘n praktiese, sinvolle tip gegee hier, hoor.

  10. LOL – Ding … jy is een in jou soort! Ek wonder nou of ding ‘n drukkiemens is – want ek sal jou graag net ‘n stywe onskuldige drukkie wou gee!!

    Son – ek weet ook nie wat ek sou doen nie – maar een ding is seker – ek sou ook graag soos jy alleen wou totsiens sê! Maar dalk tree mens anders op as jy eers regtig in die situasie is!

  11. wat een indrukwekkende post. sonkind, je bent bijzonder eerlijk en spreekt over dingen die wij allemaal in onze gedachten hebben, maar niet altijd uitspreken.
    in NL wordt de overleden persoon soms thuis opgebaard om mensen in een huiselijke sfeer afscheid te laten nemen. de kist wordt dan netjes opgesteld en wij vinden dat niet raar. toen een vriend van mij overleed, werd hij thuisgebracht vanuit het ziekenhuis. zijn vrouw maakte een ingrijpende indruk. ze had zich in de kleding gestoken die Koos mooi vond. hij moest een waardig welkom krijgen en zij deed moeite daar voor met kleding en zijn favouriete witte bloemen. in stilte en met een brok in de keel keken we naar deze gebeurtenis. in stilte namen we ons voor om een soortgelijke waardige houding in te nemen als de gelegenheid zich weer voor zou doen.
    ik veronderstel dat ieder volk in ieder land een eigen wijze heeft om afscheid te nemen van overleden geliefden, maar om onpersoonlijk te worden en slechts een laken over de dode te smijten, is mijns inziens ook niet de manier.
    troost je met de gedachte dat je dus best wel normaal bent!

  12. Sjoe, ek sou ook nie daarvan hou dat mense so verby my oorlede familielid loop nie. Dit voel nogal na min respek vir die dood.

  13. Ek voel ook soos jy Son, ek sal ook verkies om alleen afskeid te neem voordat almal kom simpatiseer.

  14. Dis weird hoor. Weet ook nie hoe ek dit sal hanteer nie, maar ek sal beslis nie ‘n toeloop van mense wil he^ nie uit respek vir my geliefde.

  15. Ai Son, jou inskrywing het my baie laat nadink en ek stem 100% saam met jou, maar die kommentaar hier was voorwaar op sigself iets om te geniet, veral Bertus en Ding s’n!

  16. Jy het my nou laat dink en laat besluit omdadelik pen op papier te sit vir my familie oor hoe ek dit wil he as ek gaan. In so ‘n geval is almal so stomgeslaan en weet nie altyd wat om te doen nie.

    Bertus, jy laat my giggel!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: