Eet jy met ‘n vurk? Skandalig!

Ek het nog altyd meer daarvan gehou om met ‘n lepel te eet as met ‘n mes en vurk. Ek moes al selfs ‘n paar keer hoor net mense wat in die tronk was, verkies om met lepels te eet. Dan het ek seker maar die regte mentaliteit vir die tronk, maar feit bly staan, ek verkies van kleintyd af ‘n lepel, dit eet net soveel makliker. Behalwe as ek nou vleis moet sny en so aan. Maar braaivleis eet mens mos eintlik met jou hande?! Dalk is die lepel etery eerder ‘n bewys van my Afrika mentaliteit – soos om die pappot sit en met lepel en hande te eet!

Toe vind ek uit dit was vir ‘n baie lang tyd skandalig om met ‘n vurk te eet, nou het ek ‘n lekker verskoning.

Vurke is vir die eerste keer in die Middel Eeue gebruik, maar dis as skandalig beskou om met een te eet. Gedurende die 11de eeu, is ‘n Griekse prinses dood kort na haar troue met ‘n Venesiese Doge (hoofmagistraat), Domenico Selvo. Dié Griekse prinses het vurke by haar troue gehad en haar dood is gesien as goddelike straf – oor die vurke nou!

Vurke was reeds sedert die 11de eeu ‘n gereelde verskynsel op die tafels van die Italiaanse adel en is sedert die 14 de eeu gebruik in Frankryk. Vurke is egter eers in 1611 in Engeland bekendgestel, deur Thomas Coryat, deur sy boek “Coryat’s Curdities Hastily gobbled up in Five Months Travels in France, Savoy, Italy, &c.” Selfs in daardie tyd is daar van hom ‘n bespotting gemaak omdat hy die gebruik van vurke aangemoedig het. Hy is “Furcifer” genoem, wat vurkdraer beteken.

Die hoër stand in Spanje het vurke gebruik gedurende die 16de eeu. ‘n Bewys hiervan is die groot verskeidenheid vurke wat herwin is van die wrak van die skip, La Girona, wat gesink het aan die Ierlandse kus in 1588. In 1630 het die Goewerneur van Massachusetts, ene Winthrop, die eerste en enigste vurk besit in koloniale Amerika.

Waarmee het mense dan geëet voor vurke gebruik is? Hulle het houtlepels, messe en natuurlik hulle hande, gebruik. Antieke Fidjiane het meeste maaltye met hulle hande geëet, maar het ‘n spesiale houtvurk gebruik vir maaltye bestaande uit mensvleis!

Vurke, meestal twee-tand, was bekend as gesplete lepels, alhoewel daar wel voorbeelde is van vier- en vyftand vurke nog voor die 1600’s. Die viertandvurk het eers in die laat 1800’s gewild geword.

In die konserwatiewe dele van Thailand, word dit nog steeds as skandelik beskou om kos met jou vurk na jou mond toe te bring. Jy gebruik slegs die vurk om die kos in jou lepel te hou, terwyl jy die lepel na jou mond toe bring.

So, dalk sal ek lekker eet in Thailand!

Advertisements

12 Responses

  1. in hierdie wereld-deel, word meestal net messe en lepels gebruik. in sommige restourante moet jy vra vir n vurk… by arabiese troues word daar op die grond ge-eet, plastiek word afgerol en dan word die skinkborde met vleis, rys en groents daarop geplaas en sit mens so ses rondom en eet met die hand. geen nut vir n vurk!

  2. Interessante inskrywing! Ek is in die land van die eetstokkies “chopsticks”, chopsticks, dus is vurke beperk tot restaurante wat spesifiek vir westerlinge kyter. In die begin het ek ook maar die eetstokkies as ietwat onprakties beskou, maar nou gebruik ek dit elke dag.

  3. Solank ek ‘n ou “utensiltjie” kan gebruik, sal ek gelukkig wees. Daar is vir my niks so aaklig soos om met jou hande te eet nie; pizzas, burgers, braaivleis, ek eet dit alles met mes en vurk. Stokkies en lepels is nie vir my ‘n probleem nie, solank dit net nie vingers is nie! O, en as goed wat aan lippe geraak het, teruggaan na die gemeenskaplike kospotte toe: dit gee my die horriepiep! Ek kry sommer sommer OCD stuipe om net daaraan te dink.

  4. orchid, jy sal maar bietjie suffer hier in die Ooste. Driekwart van die maaltye is uit die “gemeenskaplike” potte en borde. In die begin was ek effe verbaas, maar nou ookal gewoond daaraan.

  5. Orchid, jy laat my aan my suster dink. As iemand haar ooit ‘n happie vra van enigiets wat sy besig is om te eet, gee sy sommer die hele iets vir daarie persoon. Sy verseg om haar mond aan iets te sit waaraan iemand anders gehap het of uit iets te drink waaruit iemand anders ‘n sluk gevat het.

    Ek sal darem ook nie saam met enigeen uit dieselfde pot eet nie en verder kry ek die piep as iemand hul koffie of tee roer en dan die lepel aflek. GRIL!!!

    So het ons elkeen seker maar ons OCD’s 😆

  6. Ek het nie baie geite en grille nie, maar ek hou ook niks daarvan om met my hande te eet nie – veral nie souserige goed nie!! En ek’s ook glad nie lief om saam met iemand anders aan iets te drink of eet waaraan hy reeds geëet of gedrink het nie. Dis nou maar net een van daai dinge!

  7. Emsie Schoeman het gese^ daar is net een etieketreel wat altyd en in alle omstandighede geld – jy mag nie ‘n mes in jou mond steek nie.

  8. Etiket, meen ek.

  9. …seker maar omdat Emsie dit eenkeer self gedoen het en toe helfte van haar tong weggesny het 🙂

  10. Ek kan nie glo nie. Ek dog dis net ek wat verkies om met ‘n lepel te eet.

  11. Mens hoor nie meer veel van Emsie nie – is dìt hoekom sy so stil is Bib? 😉

  12. BiB, ek is darem bly ek hoef nie met daardie stokkies te sukkel nie! Gee my dan liewer ‘n lepel, om die waarheid te sê as ek reg outhou het ek liewer in Korea op ‘n stadium die stokkies opsygeskuif en ‘n lepel gevat.

    Vir ‘n tjoppie met ‘n beentjie is daar net een manier: vat hom met die hand en byt hom met die tand!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: