Motorwas Monster!

Ek is baie dinge. Ek is al vertel ek is “way-out”, ek is “weird”, ek is nie normaal nie (bwahaha – groot kompliment daai ene – ek wou in elk geval nog nooit NORMAAL wees nie – ‘how utterly boring’!). Ek het ‘n hap uit my kop uit en so kan ek aangaan. Feit is, dit skeel my min. Ek is ek. Take it or leave it. Ten minste is my lewe nie vervelig nie.

Een ding is ek egter NIE. Ek is NIE lui NIE. Ek werk, soms lang ure. Ek maak self my huis skoon. Die kere wat ek wel iemand gekry het om dit te doen het ek heeltemal in ‘n “flat spin” ingegaan omdat ek in elk geval alles agterna loop oordoen het, want dit was nie goed genoeg na my sin nie. En ek het nogal ‘n sin en wil aan my. Een van my minder goeie karaktertrekke. As ek iets ordentlik gedoen wil hê, dan doen ek dit sommer self, dankie.

Ek sal die gras ook sny, as dit moet. Maar daar is een ding wat ek NIE doen nie. Ek was nie my motor self nie. Ek LAAT dit was. Dis nou die kere as die Liefie my nie genadig is en dit vir my doen nie. Sy motor blink altyd. Hy is ‘n flippin pyn in die gat wat dit aanbetref. En dus kry ek baie lip van hom af. “Jy moet jou kar laat was!”. Ja baas, nee baas, tien sakke vol baas!

Elk geval, so een keer ‘n week gaan ek na hierdie lekker motorwassery wat ek ontdek het. Sien, hulle moet met die hand was. En ordentlik was. En stofsuig en lekkerruik goed aansmeer en inspuit en al daai 12 dinge. En hulle doen, tog te oulik. Daar is ‘n masjien wasding, maar hy is buite werking. Gelukkig vir my. Ek ry NIE deur daai ding nie. Ek eet eerder erdwurms voor ek deur daai ding ry. Want ek het ‘n ewige engtevrees. Ek kry beswaarlik ‘n nou kledingstuk oor my kop getrek.

En toe gaan ek gister na my lekker wassery toe en ek betaal eers by die winkel en ry toe na die waspunt toe. Daar was nie meer ander motors nie, want dit was na werk. Anders sou ek seker gesien het wat gaan aan en omgedraai het. Maar toe is die koeël deur die kerk. Die wasding werk!

En ek sê vir myself; “Dit issie so erg nie. Jy is mooi groot en jy weet jy gaan niks oorkom nie. Jy ry nou net mooi tot daar binne en dan was die masjien gou-gou jou motor en dan ry jy uit en hulle stofsuig en maak alles mooi en skoon. NIKS gaan gebeur nie.”

HA! Makliker gesê as gedaan. Eers spuit hulle allerhande seep aan en spuit die ergste stof af en toe beduie hulle vir my ek kan maar in ry. Ek ry mooi tot op die spoortjie en daar sit ek. Fok fok fok – in die paar minute wat ek in daardie wit waswêreld was, het ek my vloekboekie vol geskryf.

Eers kom hierdie reusagtige borsels met ‘n moerse gedruis op my afgestorm en ek weet nie of ek nie net eerder op die vloer moet gaan lê en bid tot alles verby is nie. Die volgende oomblik word al die vensters toegespuit met wit seepgoed en ek sit in hierdie afgesnyde wit wêreld en my hart skop teen my ribbes en in my ore en ek moet op my tande byt en my mond styf toehou, anders spring my hart by my mond uit.

Ek het al gelees mens moet in ‘n papiersak asemhaal as jy voel jy gaan hiperventileer, maar ek dra nie onder normale omstandighede papiersakke met my saam nie. Toe haal ek maar diep asem en maak my oë toe.

Die volgende oomblik vlieg my oë vanself weer oop, want dit klink soos ‘n wolkbreuk. Maar toe kan ek darem weer sien, genadiglik. Of dalk nie. Skielik begin die motor te loop en ek trap die rem, maar hy bly aan beweeg. My verstarde brein het so paar sekondes geneem om te besef dis net ‘n illusie – dis eintlik die masjien wat beweeg.

Nog is dit het einde niet. Toe die water ophou, kom die wind en so ‘n ysterbedryf kom reg op my windskerm afgepyl. Teen daardie tyd is ek in elk geval hel toe en terug, so ek sit toe maar en wag vir die slag. Wat toe mos nou nie kom nie.

Uiteindelik wys die groen liggie vir my ek kan padgee uit hierdie martelgat uit. Ek het die motor sommer so skeef-skeef onder die dak loop intrek waar hulle die res van die skoonmaak werk moes doen en gewonder of die kafee nie dalk ‘n “half jack” brandewyn so onder die toonbank aan my sal verkoop nie.

Nooit weer nie. Ek is nie bang vir veel nie, maar ek is tot sterwens toe bang vir daai karwasmonster.

Miskien moet ek maar begin om self my motor te was. Of baie mooi wees met Liefie!

Advertisements

14 Responses

  1. Hehehe!!!! Ek sou nou nie gedink het dat jy bang is vir die ‘wasding’ nie!! Darem is jy nog met ons om die storie te vertel…

  2. Son, jy moet eerder mooi wees met jou liefie anders kan die monsters jou dalk net regtig vang. LOL!

  3. Ha-ha. Erdwurms sê jy?

  4. Ding het nou ‘n papiersak broodnodig – uitasem gelag vir die storie! Weergaloos, Sonson! Puik!

    Ja, wil ding dan nou ook so agter Idiwidi aan eggo:… erdwurms … ???

    Sonnie, die baas het gepraat, né! Ai, Basil, is darem nie elke dag dat vroutjieratgoed so mooi vertel waarvoor hulle bang genoeg is nie, eh?!

  5. Sonkind ek lê soos ek lag!

  6. LOL! Baie goed beskryf. Ek is ook, anders as die meeste mans, nie so gesteld op hoe skoon my kar is nie. Hy moet net binne skook wees en daar moenie gemors rondlê nie. En vroulief is partykeer so gaaf om hom vir my te laat was, verder moet hy maar hoop op ‘n reënbui, as ek grondpad gery het was ek hom wel self.

  7. Lol, skuus, ek besef jy was bang, maar ek dink jou beskrywing was skreeusnaaks! Ry maar ‘n papiersakkie en ‘n half jackie saam volgende keer. 😆

  8. Nou is my dag gemaak!!! Dankie Sonkind !!!!

  9. Ek dink mens kan nogal lekker vry in so karwasmonster – innie kar, natuurlik! Los die halfjackie by die huis en vat liefie saam volgende keer!

  10. As mens regtig kou motor lief het, was jy homself en spandeer ure daaraan. Maar, nou-ja, almal voel nie so oor motors nie…

  11. Ai, BiB, hoe sleg laat jy my nou voel. Jy klink nou net soos die Liefie. Sy motor is sy tweede vrou, soms dink ek ek wen dalk net met so ‘n kort kop. 😉

    Ek IS lief vir my motor, regtig. Ek sal dan nou maar my luiheid laat staan en self was van nou af. 😳

  12. Haha! Ek laaik jou; ek moet ook alles self doen, anders is daar ‘n kortsluiting in my brein! En ek verdra nie engtes nie, klim eerder 90 stelle trappe voor ek saam met ander soogdiere in die hysbak-doodskis klim.

  13. Jy’t jou vrees vir die motorwas monsters baie goed verwoord! Ek hou ook nie van die goed nie…

  14. […] is nog steeds bang vir daai motorwas-monsters, waar mens in jou kar moet sit terwyl dit deur die wasser beweeg. Gelukkig is daar deesdae baie min […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: