Onsigbaar.

deon-meyer-003.jpg

Ek was gisteraand by Exclusive Books se bekendstelling van Deon Meyer se nuwe boek, Onsigbaar.

deon-meyer-012.jpg

Dis die eerste Afrikaanse boek met ‘n dubbele voorblad en Deon dra die voorkant (Oranje) aan die Cheetas op en die agterkant (Blou) aan die Blou Bulle, met die klem daarop dat die blou AGTER is!

deon-meyer-011.jpg

Ek vermy gewoonlik die glas-in-die-een-hand-bordjie-eetgoed-in-die-ander-hand brigades so ver menslik moontlik. Veral as ek moet gaan rondstaan tussen vreemde mense.

Maar ek sou beslis ‘n uitsondering op al my sosiale reëls maak om vir Deon Meyer te ontmoet.

(En ten minste kon ek tussen boeke gaan rondstaan met my glas en bordjie. Hulle kan my maar toesluit tussen boeke en my daar vergeet. Dalk net so nou en dan vir my iets te ete bring.)

Dié man KAN en MAG maar skryf. Ek het al sy boeke gelees, behalwe Onsigbaar. Ek wil nie begin nie, ek wil eers nog net bietjie daarna kyk, daar in my boekrak. Want as ek eers begin lees, gaan ek nie ophou nie en dan is dit te gou klaar en te lank voor die volgende boek.

En om alles te kroon, is Deon nog ‘n persoon van wie ‘n mens kan hou ook. Sy skryfsukses het beslis nie na sy kop gegaan nie. Hy het begin deur vir ons ‘n stukkie uit Onsigbaar voor te lees – ek herhaal ‘n kort stukkie van die uittreksel hier:

Ons klim uit.

Phatudi kom uitgestap saam met die twee agtervolgers van gister – die swart sersant en die wit konstabel met die gebreekte neus. Daar is nou ‘n wit plastiekstut oor die neus en sy oogkasse is pers. Nie een van hulle is bly om ons te sien nie.

Emma loop Phatudi tegemoet, maar hy hou sy hand in die lug en sê met ‘n swaar frons: “Ek wil nie met jou praat nie.”

Emma se reaksie verras ons almal. Sy verloor haar humeur. Agterna sal ek dié stukkie van haar persoonlikheidslegkaart bedink en tot die slotsom kom dat dìt is hoe sy stres hanteer – ‘n skouspelagtige kortsluiting wanneer die stroombane oorlaai word, soos gister, in die BMW. Maar vandag s’n is hewiger, intens, buite beheer. Haar kop ruk op, sy trek haar mooi skouers terug en sy lig een fyn hand met ‘n gepunte wysvinger terwyl sy tot teenaan die groot polisieman stap.

“Watse soort speurder is jy?” Sy beklemtoon die laaste woord met haar vinger teen sy breë bors, ‘n steek, soos met ‘n mes. Dit bring hom tot stilstand. “Sê vir my, inspekteur, watse speurder is jy?” Haar hand lyk soos ‘n renostervoël wat teen ‘n buffel pik.

Ek hoop sy het meer as dié een frase.

(Gaan lees julle nou maar self verder.)

Daarna kon die mense vrae vra. Ek sal so losweg probeer vertel wat met die vra-en-antwoord sessie na vore gekom het.

Deon se boeke is reeds in altesaam 12 tale vertaal, nl. Engels, Frans, Duits, Nederlands, Italiaans, Spaans, Deens, Noorweegs, Romeens, Slovaaks, Tsjeggies en Bulgaars. Die uitgewers in die ander lande besluit self op die titels, omdat hulle weet wat hul lesers se aandag sal aangryp en dit is dan die rede hoekom die vertaalde boeke se titels heelwat verskil van die Afrikaanse titels.

Hy vertel, tong in die kies, dat hy soms lank na die tyd nog aan sy karakters dink en wonder hoe dit bv. nou met Mat Joubert gaan, (‘n karakter uit een van sy boeke) maar dat hy gelukkig die voordeel daarvan het om self te kan besluit hoe dit met Mat sal gaan. Van sy karakters het ook reeds in meer as een boek verskyn en hy is reeds besig met sy volgende boek, waarin Bennie Griessel (voorheen in Infanta) weer verskyn. Die boek se voorlopige titel is 13 uur. Dit handel oor 13 uur in Bennie se lewe en aan die einde sal ons weet of Bennie en sy vrou weer bymekaar uitkom. Voorlopig weet selfs Deon egter nie eens of Bennie se vrou hom gaan terugvat of nie!

Op ‘n vraag of hy elke dag, as sy skryfwerk vir die dag afgehandel is, die deur toemaak en die karakters agter die deur agterlaat, antwoord hy; “Aan die begin is dit maklik om die karakters agter die deur te laat agterbly, maar dieper in die boek neem ek hulle met my saam.” En skertsend sê hy dan; “Dis natuurlik glad nie ‘n gesonde ding nie.”

Toe een van die dames hom vra wat hy sou wou wees as hy nie ‘n skrywer was nie, antwoord hy laggend: “‘n Huisvrou.” En loer toe vir sy vrou!

Deon se ander passie is BMW motorfietse.

Nog ‘n vraag was of hy baie betrokke was by die verfilming van Orion, die TV-reeks gemaak van sy boek met dieselfde naam. Hierop vertel hy dat hy groot respek vir Niel Sandilands se professionaliteit gekry het. Niel het hom gebel om te vra of hy die boek met hom kan kom bespreek, omdat hy soveel moontlik van die karakter wou uitvind. En dan vertel Deon die volgende kostelike storie.

Hulle een dogter, Constance, is ‘n vurige 7de Laan-kyker. Deon en sy vrou, Anita, het geweet dat Niel (Bart in 7de Laan) die spesifieke aand sou kom kuier en toe die klop aan die deur kom, sê hulle vir Constance om te gaan oopmaak. Sy is toe juis besig om 7de Laan te kyk en Bart is ook in die toneel en brom-brom loop sy deur toe, want haar kykery word dan nou onderbreek.

Toe sy die deur oopmaak staan ‘Bart’ daar (Deon-hulle hou haar toe dop vanwaar sy nie kan sien nie). ‘Bart’ groet, maar Constance staan net. Soos Deon vertel – soos ‘n rekenaar wat skielik te veel inligting gekry het en toe blaas die “fuse” – pfft!

‘Bart’ sê: “Is jou pa by die huis?” en Constance STAAN, sonder sprak of sprook. ‘Bart’ vra: “Is dit die Meyers se huis dié?” en steeds staan Constance, stom geslaan. Toe slaan ‘Bart’ maar oor na Engels toe en asof die Engels toe iewers die “fuse” weer lewe gee, kom Constance in beweging en wat doen sy? Sy spring AGTER die deur in en ‘Bart’ staan voor ‘n leë ingang! Toe gaan help Deon haar maar uit haar verknorsing uit.

Die volgende keer toe ‘Bart’ kom kuier, het sy darem ‘n foto saam met hom gekry en dié kon sy vir haar maats by die skool gaan wys, wat weer veroorsaak het dat daar die volgende dae ‘n toeloop van maats na Deon-hulle se huis was, in die hoop dat hulle ook vir ‘Bart’ sal sien!

Die aand is afgesluit met Deon wat ons boeke teken en myne het nou ‘n ereplek op my rak. Dankie, Deon! Dit was lekker om jou te ontmoet.

deon-meyer-013.jpg

Vir die van julle wat meer wil weet, gaan loer hier:   http://www.deonmeyer.com/

Advertisements

9 Responses

  1. Dit klink genuinely goed. Ek sal tog maar ‘n plan maak en van sy boeke deurdraf.

  2. Aitsa, maar jy beweeg in hogere kringe!

    Skoor en iemand anders het my ook nou al Deon Meyer se boeke bekend gestel – ek sal beslis ook begin lees.

  3. Sjoe Son, marathon-inskrywing. Een van die dae kan jy self ‘n lywige roman publiseer.

  4. Ek glo Deon verdien die eer wat hom toekom. Hy is ‘n goeie en boeiende skrywer.

  5. Nou maar ja. Mo^re oggend is ek alweer in Exclusives Books. Eish.

  6. Die vrou met die vele talente – soveel strale soos die son self, sou manman kon sê. Tel gerus onder die hordes oorvloed talente dan ook die om verslaggewer te wees! Knap gedaan, Sonson.

    Deon Meyer behoort jou ‘n komplimentêre kopie te gee na hierdie insiggewende, objektief gunstige, professionele resensie!

  7. Uitstekend. Die deel met Mnr. Sandilands was histeries snaaks, dit klink so tipies van ‘n tienermeisie! Deon Meyer is die beste ding. Maar Nasionale Boeke het volgens my ‘n vreemde konsep met die cover beet. Weet nie of ek mal is oor die ontwerp daarvan nie, om eerlik te wees.

    Ek stem saam met ding: uitstekende resensie!

  8. Uitstekende skrywer, Deon Meyer. Ek stem heelhartig saam met jou oor die Dalene Matthee punt – ek dink ek was die enigste ou in ons st.9 klas wat van die voorgeskrewe Arikaanse boek, Kringe, gehou het (ek het hom in 2 dae klaargelees…). Ditto met Deon Meyer, ek lees dae, nagte, ontbyte en aandetes sonder ophou…

    Ek het onlangs Pieter Pieterse se Manaka, plek van horings gelees. Nice boek…ken jy dit?

  9. Your blog is interesting!

    Keep up the good work!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: