Selfmoord

Ja, vir seker ‘n morbiede onderwerp, maar ek het die afgelope tyd te veel gehoor van mense wat selfmoord gepleeg het. Iemand se kind wat selfmoord gepleeg het. En dit het my binne geslaan.

Ek weet hoe dit voel as jou kind by die rand van die dood gaan omdraai, maar ek is dit gespaar om te weet hoe dit voel as jou kind dood is, regtig weg om nooit weer terug te kom nie. Hoe voel dit om willens en wetens jou eie lewe te neem?

Die antwoord aan my: “Daar, toe ek gedink het dis nou verby, het daar ‘n groot vrede oor my kom lê. Ek WOU gaan, dis AL wat ek op daardie oomblik wou hê. Ek wou nie meer deel van hierdie lewe wees nie. En toe ek besef ek is nog steeds hier, lewendig, was ek kwaad. Woedend.”

Selfmoord is uniek aan die mens. Alhoewel dit soms lyk asof diere, soos bv walvisse, selfmoord pleeg deur op die strand uit te swem, is dit nie ‘n wilsbesluit van die walvisse nie, eerder ‘n verskynsel wat biologies verklaar kan word. Selfmoord is ‘n KEUSE, en daarom kan jy net van selfmoord praat by mense.

Statistieke oor selfmoord is nie algemeen verkrygbaar nie, maar daar is blykbaar ongeveer ’n miljoen selfmoorde per jaar in die wêreld, m.a.w. een in elke 40 sekondes. En selfmoord het met 60% toegeneem in die laaste 45 jaar. In Suid-Afrika pleeg ongeveer 17 uit elke 100 000 mense selfmoord.

En vir elke selfmoord is daar ongeveer 20 pogings tot selfmoord. Tot soveel as 50% van mense wat uiteindelik selfmoord pleeg, het vantevore reeds pogings daartoe aangewend. Daar is meer vroue wat selfmoord probeer pleeg as mans, alhoewel meer mans as vroue “suksesvol” is.

Een persoon se selfmoord kan honderde mense se lewens beïnvloed. Niemand leef vir homself en niemand sterf vir homself nie, al wil ons dit soms graag glo.

Selfs in die Bybel is daar selfmoord gevalle. Die bekendste is dié van Simson. En dan was daar koning Saul, wat eerder selfmoord gepleeg het as om deur die vyand gevang te word. In die geval van Masáda het 960 Jode eerder selfmoord gepleeg het as om slawe van die Romeine te word. Judas het uit desperaatheid en dalk ook berou selfmoord gepleeg.

Met elke selfmoord vra mens jouself af WAT het bygedra om daardie mens tot by dié punt te bring om hierdie onherroeplike daad te pleeg. ‘n Daad wat heeltemal indruis teen die mens se sterkste basiese drang, die drang na oorlewing

In meer as 90% gevalle is depressie die oorsaak van dié daad. Daar kan ook psigiese of geestesversteurings wees en die invloed van drank en ander dwelmmiddels kan ook ’n rol speel. Ekonomiese en sosiale faktore kan ook die oorsaak wees. Sosiale en ekonomiese faktore kan ook ’n faktor wees.

Soms pleeg mense selfmoord omdat hulle in die greep van ’n ongeneeslike of vernederende siekte verkeer het.

Selfmoord is nie kieskeurig nie. Dit kom onder elke groepering van die samelewing voor. In tronke, by beroemdes, by armes, in rykmanshuise, by bejaardes, onder kinders.

Die voorkoms van depressie onder veral kinders en jongmense, het oor die laaste paar jaar kommerwekkende afmetings aangeneem. Kinders onder 11 jaar besef nie altyd dat selfmoord ’n onomkeerbare daad is nie. Soms sien hulle dit net as ‘n vorm van ontvlugting. Soms is dit ’n manier om iemand, bv. ’n ouer, te straf omdat hulle kwaad voel, maar hulle het geen benul van die volle uiteinde van die daad nie.

Die vraag wat sonder uitsondering deur die familie van iemand wat selfmoord gepleeg het, gevra word, is: “Wat gebeur met iemand wat selfmoord pleeg? Is so ’n persoon verlore?”

Ek glo DIT vir geen oomblik nie. Meeste mense pleeg selfmoord as gevolg van die donker nag van depressie. Iemand wat nie die swart nag van depressie ken nie, kan dit nooit werklik verstaan nie. Dit regverdig nie selfmoord nie, maar dit bring wel ‘n mate van begrip. Vir die mens in die greep van depressie het die dood meer verkieslik as die lewe geword.

Wat kan ’n mens oor selfmoord sê? Is dit verkeerd? Ja.

Is so iemand swak? Ja en nee. Ek dink dit moet ook ‘n ander mate van moed vat om jou hand aan jou eie lewe te slaan.

Is dit ‘n selfsugtige daad? Ja. Beide jou lewe en jou dood raak ander mense.

Selfmoord is vir die persoon in daardie toestand die enigste oplossing vir sy/haar probleem. Maar vir hulle wat agterbly, die persone naaste aan die oorledene, skep dit meer probleme en smart as wat hulle dalk sal kan dra en oneindige skuldgevoelens.

Selfmoord is moord – op jouself. Is dit ‘n onvergeeflike sonde? Nee, dit glo ek nooit nie! Geen mens kan weet wat in iemand se sterwensoomblikke gebeur nie. Ek glo die Here se genade is groter as dit.

Selfmoord is NOOIT ‘n opsie nie, en om iemand so te verloor is sekerlik die swaarste swaar. Ek dink mens leer om met so iets saam te lewe, soos ‘n ledemaat wat jy verloor het, maar niks is daarna ooit weer dieselfde nie.

Advertisements

13 Responses

  1. Ek stem saam met jou insigte uit verskillende hoeke. Op ‘n stadium in my lewe het ek ook net besluit dit gaan nooit ‘n opsie wees nie. Eendag gaan jy in elk geval doodgaan, en hoe sleg kan dinge nou intussen hier duskant word?

  2. Selfmoord, ai tog, dis nou vir jou ‘n debat en ‘n half. Wat ookal die rede is vir selfmoord, dit sal altyd ‘n lafhartige daad in my oe wees.
    Ek sal ook verstaan as daar nou vir my gese word ek sien dit oppervlakig, wel, mag dit dan maar so wees. Ek sal nooit my siening verander nie, sorry!

  3. Ek glo nie dat selfmoord in alle gevalle selfsugtig of lafhartig is nie. Bv: ‘n bejaarde persoon word met Alzheimer’s gediagnoseer. Sy weet dat dit ‘n ongeneeslike en wrede siekte is. Sy besef ook dat dit ‘n toestand is wat ongelooflik swaarkry gaan veroorsaak vir haar geliefdes. Sy pleeg selfmoord voordat dit so erg raak dat sy nie meer redelik kan dink nie. Is dit ‘n daad van selfsugtig? Nee, eerder ‘n daad van liefde en opoffering.

  4. Hmmm… daar is maar net een sekerste manier van suksesvolle selfmoord: hou net aan lewe.

    Sonson, weer eens ‘n buitengewoon skerp, sinvolle, feitelike, dog interessante onderwerp waaroor jy berig.

    Moedertjie se gevleuelde woorde: “Dood is niemand se maat nie, my kind.” Ding weet aan ding se eie lewe: wanneer iemand naby aan manman kis, bly niks dieselfde nie. Alles verander vir die naasbestaandes. Is net so.

    Ding betwyfel dit dat selfmoord oor die algemeen impulsief geskied. Sekerlik gebeur dit wel. Ding vermoed bloot dat dit oorwegend voorafgegaan word deur ‘n proses van stelselmatige afsterwe – soos daar by bejaardes die vyf stadia van doodgaan identifiseerbaar is, byvoorbeeld. Sou dit wel wees, is woede as reaksie verstaanbaar in mislukte pogings. Stel jou voor: jy is gereed vir die laaste dans van die aand; jy gee jouself oor aan jou dansmaat se leiding – net om iewers langs die pad agter te kom dat hy jou daar in die middel van die dansbaan gelos het – en die musiek speel nog!

    Natuurlik sal daar diegene wees wie reken in sodanige geval is dit niks minder as verdiende loon nie. Waarskynlik is die mening gebore uit die onbegrip van die onbewuste.

    Is selfmoord ‘n lafhartige of heldhaftige daad; is die persoon swak of eintlik manmoedig; is dit ‘n selfsugtige of onbaatsugtige daad; ‘n oplossing of ‘n verdere komplikasie/probleem?

    Om dit as ‘n lafhartige daad te oordeel, moet manman noodwendig kennis dra van die begrip. Is die veroordeling/kwalifikasie van ‘n handeling as selfsugtig, nie ‘n selfsugtige handeling in eie reg nie? Of dit ‘n uitweg/oplossing is of nie, hang suiwer af van die perspektief waaruit gekyk word.

    Ding het egter ‘n ander vraag of wat:
    Wat kwalifiseer as selfmoord? Sou dit selfmoord wees indien ‘n persoon, wie lewensnoodsaaklike medikasie moet neem, willens en wetens die gebruik daarvan staak en as gevolg van die staak daarvan, uiteindelik sterf?
    Sou dit selfmoord wees indien ‘n motoris willens en wetens onverskillig bestuur; in ‘n ongeluk is en as gevolg daarvan sterf, bv. ‘n motoris stuur sy motor willens en wetens in ‘n kruising in teen die rooi lig en word deur ‘n ander voertuig getref, motoris morsdood? Sal die feit dat die motoris nugter/besope was, ‘n invloed he?
    Sou dit selfmoord wees indien ‘n persoon willens en wetens seksueel verkeer met ‘n ander wie reeds sterwend aan vigs is, en as gevolg daarvan self siek word en doodgaan?
    Wanneer begin selfmoord werklik? Onthou – almal is een dood skuldig. Die teenkant van dood is lewe. So, kan ‘n bepaalde lewenstyl kwalifiseer as uitgerekte, maar uiteindelik suksesvolle, selfmoordpoging?
    Ten slotte: die nagelate afhanklikes van ‘n vermoorde persoon behoort ‘n moontlike eis teen die moordenaar te kan formuleer vir hulle verlies. Sou die nagelate afhanklikes van ‘n selfmoordslagoffer ‘n eis teen die boedel van die selfmoordenaar he?

    Teen hierdie tempo is ding sterk oppad om homself dood te tik!

    Dankie vir die geleentheid, Sonson!

  5. Ek kry nog steeds baie soekenjins hits vir Selfmoord op my blog. Daardie mense sal hierdie inskrywing ook lees. Vir hulle:

    Daar is altyd ‘n beter opsie as selfmoord. ‘n Mens moet die lewe treetjie vir treetjie aandurf.

    Hoewel dit nie so voel nie, IS daar wel mense wat verstaan hoe jy voel. Bel onmiddellik 0800 567 567.

  6. selfmoord: mens kan nie sê of dit lafhartig is of dapper nie. ons ken nie die dader se motief nie. een ding is seker, die nabestaandes ly vir die res van hulle lewe en stel altyd weer dieselfde vra “hoekom?”.

    lekker om weer terug te wees. lekker vakansie gehad. hoop jy kom kuier weer op my blog.

  7. Ai Son. Net nadat ek self vanmiddag hieroor geblog het, se^ ‘iets’ vir my gaan maak ‘n draai by Sonkind (en dis vreemd, want gewoonlik besoek ek blogs in alfabetiese volgorde). Dankie, ek het nodig gehad om dit te lees. Dit was sy keuse. Ek berus.

  8. beskou jy racheltjie de beer se verkluiming as selfmoord? was dit verkeerd?

  9. Nee, Johan. Ek dink sy het bloot net nie daar aan haarself gedink nie. Sy het nie willens en wetens haar eie lewe geneem nie. Dis so goed iemand skiet na een van jou geliefdes en instinktief stamp jy die persoon weg en word self deur die koeel getref. Dis sekerlik meer ‘n liefdesdaad as selfmoord?!

  10. Ek weet ook nie regtig of mens altyd kan praat van mense wat “hul lewe neem”, so asof mense wat selfmoord pleeg ‘n ingeligte besluit neem en dit dan uitvoer nie. Die mense wat ek ken wat selfmoord gepleeg het (2 van hulle) het dit albei gedoen nadat hulle jare lank deur erge depressie gegaan het en dit was in albei gevalle maar die uiteinde van hul lang siekte. Ek beskou dit dus as ‘n siekte wat op die dood uitgeloop het, nes seker met kanker of iets anders kan gebeur. Dit is net telkens jammer, want dit is ‘n siekte wat genees ook sou kon word, as mense net die regte hulp kry. Selfmoord is nooit ‘n goeie idee nie.

  11. Ons geveg is nie teen vlees en bloed, maar wel teen die bose magte van die lug. Gedagtes wat mens na sulke dade dryf, a. g. v. ‘n mens se lewensomstandighede. Geen mens ken ‘n ander se stryd en daarom is ‘n mens se oordeel, irrelevant.
    Wat van die, wat hulself en ander opblaas, vir hul ideologie? Is hulle mislei, gebreinspoel en is daar vir hulle genade, by God? Is dit bose magte, wat hulle gebruik, waarteen hulle eintlik moes gewaak het?

  12. Vraag:-

    Het God gesondig toe Hy Simson se gebed goedgekeur het en aan Simson sy sterkte teruggegee het om daarmee “selfmoord” te pleeg? Hmmnnn !

    Of se ons nou deur hierdie goedkeuring van God aan Simson, dat God vir Simson reguit hel toe gestuur het, aangesien dit Simson se heel laaste daad[sonde] was voor hy[Simson] toe sterf?

  13. Hoe is dit moontlik dat drie lede van ‘n gesin van sewe mense selfmoord pleeg? Wat wil God vir die van ons wat agterbly wys. Hoekom? Waarom?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: