Stoele koop op ‘n Saterdag.

Dis nou al baie lank dat ek vreeslik graag 2 spesifieke stoele wil hê. Dis amper ‘n soort wiegstoel, met ‘n hout raamwerk en ‘n materiaal sitplek. Jy koop dit in ‘n boks en dan moet jy dit self aanmekaar sit.

 

 

So ‘n rukkie terug sien ek toe hierdie begeerde stoele van my by die Groot Winkel – die een net om die hoek. Maar ek het daardie dag ander goed op my agenda gehad en besluit toe om op ‘n latere geleentheid terug te kom vir die stoele.

 

 

Saterdag oggend toe ek opstaan, weet ek, vandag gaan ek my stoele haal. So gesê, so gedaan. Ek is toe sommer ook vroeg vroeg in die winkel en toe ek by die rak kom waar die bokse opmekaar gestapel lê, sien ek daar is nou net stoele met beige materiaal sitplek binne my bereikbare afstand. En ek wil twee hê met swart materiaal.

 

 

Eers loop ek terug uit die gang en kyk of ek nie iemand kan kry om my te kom help nie, maar, soos gewoonlik, niemand in sig nie. Ek besluit toe maar ek sal self die bokse een vir een aftel, totdat ek nou twee swartes kry.

Nou moet ek eers net die volgende prentjie skets, ter wille van die res van die storie. Langs die rak met die plat bokse met my begeerde stoele, is nog ‘n laaang rak, met bokse op waarin daar van hierdie nuwe moderne kroegstoeltjies in is. Diè met die silwer voetstuk en uitgeholde, veelkleurige sitplek. Die rak is omtrent 4 meter lank en altesaam is daar seker maklik 50 bokse met kroegstoeltjies opgestapel.

 

 

Ek begin toe stelselmatig plat boks vir plat boks van my begeerde stoele aftel, maar nee, almal is beige. Intussen kom daar so ‘n kort mannetjie in die gang af en vra toe darem of hy my kan help. Ek verduidelik wat ek wil hê en hy tel ook so ‘n paar plat bokse af, maar niks nie.

Gewoonlik, omdat ek kort is, smyt ek altyd iewers ‘n paar goed van ‘n rak af, soos wat ek soms sukkel om iets in die hande te kry van ‘n hoër rak af, maar hierdie keer was ek regtig onskuldig! Die kort mannetjie was nog besig om af te pak, en ek het net omgedraai, toe ek een helse slag hoor.

 

 

Wat hy gemaak het en hoe hy die balans versteur het, weet ek tot nou toe nie, maar die volgende oomblik toe lê die hele gang vol van al daardie bokse met die kroegstoeltjies in. En ek en die mannetjie staan in die middel van ‘n see bokse, genadiglik het nie EEN ons raakgeval nie! En binne ‘n oogwenk staan daar ‘n hele skare mense. Waar hulle toe almal vandaan gekom het, weet die duiwel alleen, want skaars minute terug was daar niemand in sig om te help nie. Helfte was natuurlik kliënte, maar die ander was personeel. En al wat die een vrou, vermoedelik ‘n bestuurder, net heeltyd vra is of ons nie seergekry het nie. Ek staan daar en weet nie of ek moet lag of huil of verduidelik of verskoning vra nie.

 

 

En heeltyd dink ek net hoe my familie my altyd spot oor ek in winkels die goed van die rakke af laat val en ek dink – “ja, wag tot julle HIERVAN hoor!” En dan wil-wil die lag uitborrel. Maar die arme klein outjie se oë is so groot soos pierings en almal lyk so opreg bekommerd, dat ek maar my “pose” gehou het.

 

 

End van die storie is dat ek my twee SWART stoele gekry het. By die huis het ek besluit ek sit hulle self aanmekaar en ek HET! Moenie my vra hoeveel blou kolle ek het nie, ook nie hoeveel keer ek my vingers vasgeknyp het nie, ook nie hoeveel keer ek gevloek het nie.

 

 

Weet net, ek het gister lekker in my stoel gesit!

Advertisements

8 Responses

  1. Dis ‘n lekker gevoel daai… om uiteindelik op jou stoele te sit!
    Ek’t presies dieselfde probleem (lengte). Plaas koop winkels net meer van daai kort leërtjies aan en sit een in elke winkelry. Hulle gaan minder agter my hoef op te tel en te mop.

  2. Kan nie wag vir die dag wat ek my eie stoele kan bekostig nie…

  3. Partykeer vat dit langer om die nuwe ding aanmekaar te sit as om dit te koop. Lekker sit!

  4. Hoe lekker lag ek nou vir jou, eintlik vir myself ook, want ek is net so kort. My familie spot my altyd oor my gebrek aan lengte en ek het die vermoë om ook alles altyd om te stamp of te laat val. Gelukkig het jy nou memories oor daardie stoele en sal hulle waardeer.

  5. Ek kan my net voorstel hoe dit moes gelyk het met julle twee in die middel van al die bokse. 🙂

    Ek is ook baie kort en ek stamp ook altyd goed af as ek iets spesifiek probeer bykom.
    Lekker dag!!

  6. Hahaha… Ek het gelukkig nie daai probleem nie want ek is lank, maar jy gee my ‘n goeie plan om volgende keer diens te kry!! 😉

  7. 🙂 dit klink soos iets wat my sal oorkom

  8. Nou lekker gelag! 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: