Vreeslike Vrydag!

Hierdie Vrydag akkordeer nie met my nie. Ek kan net hoop die naweek gaan dit beter maak.

Eerstens het ek gisteraand by my kataboks aangekom en hier het ons skielik ‘n ander instrukteur. Die vorige een, ‘n dame, het ons nie eintlik vreeslik gedril nie. Die nuwe een, so ‘n kompakte, spierbol, kort swart man, het gisteraand sewe soorte heilige wit waks uit ons gedril. Die man het seker by homself gedink: “Laat ek vanaand hierdie bevoorregte klomp wit vroumense wys waar David die wortels begrawe het!”

Ek het laas so gevoel op die army se paradegrond! Ek sou nog na die kataboks saam met Megan gaan oefen het, maar ek moes net keer of ek kruip kar toe. In my lewe in! Ek het vanoggend seer op plekke waar ek nie geweet het ek het plekke nie. Ek het selfs seer as ek my kar se clutch trap! En om die cherry op die koek te plaas, het hy die klas afgesluit met gebed. Ek kon nie lekker hoor wat hy bid nie, maar hy het seker gevra om vergewe te word vir hoe ons vandag gaan voel!

Ek het dit darem vanoggend uit die bed gemaak tot by die werk, al voel ek asof ‘n volstruis my geskop het. Hier gekom, onthou ek dat ek belowe het om vir my suster iets te gaan optel in Tygervallei. Teen 11 uur skraap ek toe my moed bymekaar om myself op te lig van my stoel en Tygervallei toe te mission.

Nou, my kar staan in ‘n parkering onder in ons “basement”. Dis kastig veilig, maar die bleddie hek is meer stukkend as wat hy heel is. Vanoggend was hy nog heel toe ek inkom, maar 11 uur, toe ek wil uitry, toe maak hy net kwartpad oop.

Ek trek my seer lyf uit die kar en probeer die ding verder oopstoot, maar verniet. Hy SIT. Ek het ook nie lus om weer trappe op te klim en vir ontvangs te gaan sê hulle moet sekuriteit bel nie, so ek bel sommer op my selfoon op ontvangs toe en ek sê vir ons ontvangsdame sy beter vir sekuriteit sê hulle moet hulle gat roer, ek wil UIT!

En ek wag; en ek wag. En ek begin voel ek gaan nou iemand ernstig aanrand. Ek klim weer uit en probeer die hek stoot, al weet ek dis futiel. En toe SKOP ek die hek. En ..f0k.. dit was seer! Na 10 bliksemse minute kom die sekuriteit daar aangewals en kyk my net so aan, terwyl hulle die hek se briek of iets losmaak en hom oopstoot. En ek, wat so heilig is op my kar, spin uit daardie flippin basement uit – letterlik!

Anyway, so kom ek darem by Tygervallei uit en gode sy dank, kry ek gou parkering ook. Nou het my bui darem al so een strepie gesak. Dis toe ek nou in die winkelkompleks se gange loop, haastig oppad om te gaan kry wat ek moet kry, wat ek amper weer myself verloor.

Verduidelik asseblief vir my een ding. Hoekom kom Ma, Pa, Ouma, Dogter en 7 kinders saam winkels toe en dan loop hulle LANGS mekaar oor die breedte van die gang, teen slakkespoed, terwyl die een verby die ander een loer en met die een sesde in die ry van haar af ‘n gesprek voer, en nog stadiger loop, en FOK die mense wat agter hulle loop en dalk net baie graag sou wou verbykom om verder te loop, teen normale menslike spoed?!

En hoekom, presies vandag, wat ek net vinnig vir my ‘n wegneem cappuchino wil koop, moet ek agter ‘n vroumens beland wat nou eers besig is om vir die girl agter die toonbank haar lewensverhaal te vertel, terwyl sy reeds al haar goed betaal het? En sy staan en sy staan en sy praat en sy praat terwyl ek wag vir ‘n stupid flippin eenvoudige bleddie koppie koffie, wat my eintlik net vyf minute moes gevat het.

Ek sweer, eendag gaan ek nog ‘n woeste wrede wobbly slaan so binne in ‘n winkelkompleks en dan sal hulle seker die manne met die wit jasse stuur om my te kom wegvat! Nee, dis nie my dag vandag nie. Miskien moet ek huis toe gaan en in my bed klim en my kop toe trek tot more toe. Dit lyk hoeka na reën buite!

Advertisements

8 Responses

  1. My innige simpatie!! Ek dink ons beleef almal van tyd tot tyd so ou daggie! Sonkind, jy’s nie dalk in jou menopouse nie? Ek grap net hoor!! My hormone kry deesdae die skuld vir alles! 😉

  2. Nee, kaalvoetkind, darem nog nie naby daai nie. Ek het maar van kleins af so ‘n beneukte streep in my. En ek reageer nie goed waar mense stupid optree nie!

  3. Hi, ekke self voel nie so wel vandag nie. Het ook bietjie meer as gewoonlik geoefen en bitter min lekker geëet die week en ek dink PMS is oppad.
    Dankie dat jy my darem nou bietjie laat lag het.
    Lekker naweek

  4. Ai vrou-sterkte…..

    Hoop jy het n spekkeroolse naweek

    troedelkies
    xxxx

  5. LOL! Ek is mal daaroor as Afrikaanse mense kwaad word. Ons kom so min uit met ons woede. Pragtig. Jammer jou dag is so sleg. Myne is ook nie great nie. Het vandag al 3 keer reg gekry om my vrou te irreteer sonder om te probeer. Ek durf niks oor PMS sê nie.

  6. Jy moes vir Jaco beleef het hierdie naweek . . . sy seer spiere het hom laat terugverlang na die dae toe hy nog rugby gespeel het . . . hy sê dat hy toe nie eers so seer gehad het nie . . .

  7. Marat – ek gaan al weer more aand. I’m a sucker for punishment. Dink maar aan my!

  8. hi sonkind. jy’t my lekker laat lag met die ongeduldige trekkies. dis darem ergerlik as mense nie padgee nie.
    groete

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: