Leen jou ore uit vir ‘n kind en jy’s in jou peetjie!

Dis wat ek gedoen het – my ore uitgeleen vir my meisiekind. Die ding het so begin.

Ons twee behoort aan dieselfde gym. Nou karring sy al ‘n ruk aan my; “Maaaaa, jy kan nie net kataboks en joga doen nie – dis sooo boring. Kom doen nou een aand saam met my die masjiene.  Nou kyk, ek het ‘n regte fiets met wiele wat draai en wat jou actually iewers bring en in die somer ry ek hom gereeld en ek swem baie, maar in die winter is ek mos nou die beer met die seer kop en ek doen net so die nodigste oefening om darem nie heeltemal uit die bus te val nie.

Die kataboks en die joga het nou lekker vir my gewerk. Die een leer jou selfverdediging en die ander hou jou soepel en nie een moor jou te erg nie. Maar, glo my, daar is ‘n wêreld se verskil in dit en DIT wat ek vanaand deurgegaan het!

Ek’s ook nie ‘n tekkie mens nie. Vir die kataboks dra ek sulke slip-ons en joga doen ek kaalvoet – my beste skoene! So het ek toe nou darem gister vir my ‘n paar ordentlike tekkies gaan aanskaf, alhoewel ek die goed haat. Die soektog daarna is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Verder is ek ook nie ‘n oggend mens nie en so verslaap ek vanoggend, so ek gryp 3 stukke beskuit vir my dag se ete. Direk na werk is dit gym toe, ewe dapper. Heel eerste sit sy my op so ‘n trapmasjien, druk ‘n klomp inligting daarin en daar gaan ek. Goeie hemel, ek kon net so wel Tafelberg gaan uitklim het, dan het ek darem minstens ‘n “view” gehad! Al wat ek voor my sien is rooi strepies en dis net opdraande. Langs my is sy lustig besig om te klim.

Ek vra haar: “Op wat het jy my masjien gestel?”

Sy: “Dieselfde as myne.”

Ek: “Is jy mal!. Jy’s 20 jaar jonger as ek. Wil jy hê ek moet ‘n hartaanval kry?!

Sy wil haar vrek lag, terwyl sy nie eers moeilik asemhaal met die klimmery nie.

Ek dink; jou merrie, ek sal jou wys, so maklik kry jy my nie onder nie. En ek klim! Met mening.

Tien minute later klim ek darem lewendig daar af, al is daar so ‘n snaakse bewerigheid in my knieë.

Ek: “Waarheen nou?”

Sy: “Nou gaan ons bietjie loop.” en sy wys na die loop/drafmasjiene.

Dit klink vir my toe okay en die keer sorg ek dat ek self in beheer is van my knoppies. Ek stap ‘n heerlike 10 minute gelykpad, teen ‘n redelike spoed en ek voel nogal dit raak nou lekker. Van daar af sleep sy my na die nuwerwetse soort fietse toe en hierdie keer laat ek haar weer die knoppies stel, maar ek maak seker sy laat my nie weer ‘n berg uitry nie. Halfpad toe kry ek hierdie euforiese gevoel en ek begin al vinniger trap en ek dink, sjoe, dis nogal vrek lekker.

Natuurlik sien Madam toe ek geniet dit nou te veel en na 15 minute kom sleep sy my daar af en sê nou moet ons gaan sit-ups doen en bietjie gewigte lig. Ek dog naderhand ek is klaar dood, maar sy dryf my en ek is te hardkoppig om in te gee. Die hele res van die sage sal ek julle spaar.

Toe ons uiteindelik daar uitloop, oppad kar toe, weet ek nie lekker of ek naar of lam of bewerig of wat is nie. Sy kyk my so en “grin” so: “Ma, hoekom lyk jy so bleek.”

“Megan, loop speel op die bleddie highway!” En sy skater soos sy lag!

Mense het altyd gesê my ma lyk baie jonger as haar jare. Dan het sy geantwoord dis ons kinders wat haar so jonk hou. Wel, nou verstaan ek. As hulle jou nie doodmaak nie, dan sal hulle jou seker jonk hou.

As ek dalk nie gou weer hier skryf nie, dan moet julle maar gaan verneem by die naaste hospitaal. Ek voel juis reeds as ek hier opstaan, ek gaan dalk binnekort nie te vinnig kan beweeg nie!

Advertisements

9 Responses

  1. hehe, kan jy darem beweeg vanmore?

  2. Ja, hulle hou ons jonk. Is dit vir jou ook opvallend hoe ons jonger lyk as wat ons ouers op dieselfde ouderdom gelyk het. Of is dit my diepste innerlike wat my so oortuig? My seun wil hê ons moet saam gimnasium toe gaan, maar ek skop vas.

  3. Ek beweeg nog Dellie. En is toe glad nie so seer en styf as wat ek verwag het nie. Dalk te danke aan die joga? Een van die dae kan ek my voet agter my kop hak! he he he

  4. Spierseer van oefening is ‘n lekker tipe seer. Ek verbeel my altyd na die eerste sessie dat ek al ‘n verskil kan sien.

  5. Ek is so bly jy’t dit oorleef! Dis vandag Jaco se beurt in die gym . . .

  6. Sonkind, jy moet dat sy jou in ‘n spinning-klas inpraat 🙂

  7. ha ha ha – George, wat het jy gerook? Ek WEET wat is spinning. Wil jy nou regtig hê ek moet in die hospitaal beland?

    Ek gaan vanaand weer saam met haar – die gogga het nou gebyt. Maar ek sal self my masjiene stel!

  8. Ek is skoon jaloers. Geniet asb vir my part, die gegymmery (?) saam met haar. My liewe dorpie het ‘n gym met daai ou masjiene wat op skool in die gym klas was en waarvan die LO juffrou nie eers geweet het, hoe die goed werk nie.
    Verstaan mooi, ek hou nie van sweet nie, maar na so strawwe sessie voel mens sommer weer lekker.
    Ek ry net so bietjie fiets op so stilstaan een, kyk maar AgriTV vir die view.

  9. Ek het toe ook gisteraand my eerste sessie saam met die biokenetikus in die gym gehad. Dit is waarskynlik die naaste aan dood wat ek in my lewe nog was.
    En vanmiddag moet ek weer gaan. . .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: