Ouma en Oupa, ek onthou julle

Ek het, na baie maande, laasnag weer van Ouma gedroom. Toe ek wakker word, tref dit my uit die bloute – my ma is nou net so oud soos wat my ouma was toe sy dood is. Dis ‘n niks lekker gedagte nie. My ouma was maar 68. Gelukkig is my ma baie gesond en is daar geen ooglopende rede dat sy nie nog vir baie jare kan lewe nie.

Ek was maar 18 toe ouma dood is en 4 jaar later het oupa haar gevolg. Dis meer as 20 jaar terug, maar soms onthou ek haar asof dit net gister is wat ek haar laas gesien het.

Ek was verskriklik baie lief vir hulle, veral vir ouma. Sy was ‘n besonderse vrou. Sy het kort voor haar dood nog fiets gery. Haar fietse was haar trots en sy het gereeld die nuutste fiets op die mark gekoop. Ouma het nogal mooi bene gehad en het altyd gespot dat sy haar kortste rokkie moet aantrek as sy met haar fiets dorp toe gaan!

Elke kort skoolvakansie het ek vir hulle gaan kuier. Sy en my oupa het in Worcester gewoon en ons net buite die Paarl, op ‘n plaas.

Ouma en oupa het my altyd kom haal sodra dit vakansie was. Hulle het ‘n ou Peugeot gehad, my oupa het so ‘n AA wapen voor aan die bumper gehad – vir iets soos 40 jaar se ongeluksvrye bestuur. Die Saterdag na die skole gesluit het, het hulle dan 6 uur die oggend al weggery uit Worcester. Vir hulle was “oor die berg ry” ‘n groot ding. My oupa het die vorige aand klein frikkadelletjies gemaak en toebroodjies. En twee flesse moerkoffie. Dit was hulle padkos.

As hulle heel bo-op Du Toitskloof kom, daar waar jy die eerste uitsig van die Kaap kry, het hulle dan gestop om padkos te eet. Ek weet nie regtig hoe lank hulle gery het nie, maar as ek wakker geword het was ouma-hulle altyd reeds daar. Dan was die lekkerste om van hulle oorskiet padkos en koffie vir ontbyt te kry. Saterdagnag het hulle by ons oorgeslaap, my pa het altyd Saterdagaand vir ons hoender gebraai – ouma was mal oor pa se gebraaide hoender. Tot vandag toe het ek nog nie iemand gekry wat soos my pa kan hoender braai oor die kole nie.

Sondagoggend vroeg moes ek opstaan, dan is ek saam met ouma en oupa terug Worcester toe vir die week – my ma-hulle het my altyd die volgende naweek weer kom haal. Ons padkos was dan van pa se gebraaide hoender van die vorige aand en natuurlik koffie.

My ouma het haar koffiebone self gemaal en koffie gemaak in ‘n koffiekan met so ‘n materiaalsakkie. Nog nooit weer het ek koffie geproe soos daardie nie. Snaaks genoeg, sy het nie eintlik gekook nie, ek kan nie een van haar etes onthou nie. My oupa was die kok in die huis. My oupa was ook ‘n kok in die oorlog (WW2), so miskien is dit hoekom hy die kookwerk gedoen het. Ek onthou sy waterblommetjiebredie soos gister.

My ouma het ook nie eintlik gebak, soos ander oumas nie. Ek kan nie onthou dat sy ooit beskuit of brood gebak het nie. Maar sy het naaldwerk gedoen en sy het gehekel. Sy het die woorde van die Onse Vader gehekel en dit is geraam. Daar was selfs ‘n foto en berig daaroor in die plaaslike koerant. Sy het ‘n plakboek gehad waarin sy alles opgeteken en geplak het wat ons kleinkinders gedoen het wat nuuswaardig was (en ons was nogal nuuswaardige kleinkinders!). Ek het die boek geërf en dis een van my kosbaarste besittings.

In die boek is ook ‘n fototjie van my ouma se broer se graf. Hy is in Italië dood in die oorlog en hulle het net vir my oumagrootjie ‘n foto van die kruis gestuur, wat sy graf was.

Ek dink my ouma was nogal liberaal. Ek onthou dat sy ook altyd op ‘n Saterdagoggend hier na 11 vir my pa gesê het: “Die vliegtuig is al oor. Gou vir jou ma ‘n ou whiskey’tjie.”

Ouma was ook mal oor musiek. Jim Reeves was een van haar gunstelinge en dan onthou ek hoe sy altyd die Afrikaanse plaat “Die wilgerboom in Potchefstroom” gespeel en saamgesing het. Ek kan selfs nog van die woorde van daardie liedjie onthou!

Voor haar huis, aan die straatkant, teen die draad, het ouma “sweet pea” blommetjies gehad, wat lieflik gerank het. En ‘n katjiepieringboom, altyd ‘n katjiepieringboom. As ek nou die reuk van katjiepiering kry, dan vat dit my terug na die busbankie (daai gekromde houtbankies met die gekleurde houtpanele) voor ouma se deur. Ek en sy sit daar in die vroegaand en sy vertel vir my stories. Sy kon ‘n kind laat glo daar bly nog feëtjies in haar tuin.

Dan bring oupa later vir ons koffie en plaatkoekies. Oupa was ‘n stil man. Hy was (soos hulle daardie tyd gesê het) met die helm gebore en kon dinge sien voor dit gaan gebeur. Somtyds het oupa siek geword, hy was letterlik naar en wou ook nie eet nie. Dan het ouma vir ons gesê ons moet maar liewers vir oupa bietjie los, hy het weer gesien. Dit was ook nie lank daarna nie, dan sal daar tyding kom dat iemand dood is. En dan was oupa weer homself.

Oupa het nooit hieroor gepraat nie, ook nie oor wie of wat hy gesien het nie. Ouma het gesê dis vir hom ‘n verskriklike las. Ons kleinkinders het dit respekteer en het ‘n heilige respek vir oupa gehad, want hy kon “spoke” sien.

As ek begin dink, is daar so baie van hulle wat ek onthou, kosbare herinneringe. Ek sal ‘n boek kan vol skryf daaroor.  Ouma het ‘verkalkte are’ gekry en is net eendag hospitaal toe en drie dae later is sy weg. Oupa het een nag in sy slaap gegaan.

Die droom wat ek weer laasnag gehad het, is dieselfde een wat ek nog al die jare kry, vandat ouma dood is. Soms met maande lange tussenposes.

Ek droom ek is by ‘n groot stadion en onder die stadion is ‘n huisie ingebou. As ek by die deur inloop sit oupa in die voorvertrek. Hy sit soos hy altyd op die kombuisstoel gesit het, met die stoel omgekeer en sy arms op die rugleuning. Ek weet ouma is in die kamer langsaan, maar nog nooit kon ek in enige van die drome dit regkry om verby oupa te kom en by die kamer se deur in te gaan om by ouma uit te kom nie.

Dis nie dat oupa my keer nie, dis net dat ek heeltyd bewus is dat ek eintlik vir ouma kom sien het, maar ek kom nie by haar uit nie. En dit is al wat my elke keer bybly as ek wakker word. Daar is nie die onthou van enige gesprek met oupa nie, net hierdie verlatenheid omdat ek weereens nie met ouma gepraat het nie. Of dit iets beteken, sal ek seker nooit weet nie.

Wat ek wel weet, is dat ek bevoorreg was om hulle kleinkind te kon wees.

Advertisements

7 Responses

  1. Jou ander lang brief is by die vorige comments…

    Kyk, nou het jy my amper aan die tjank. Van oor Du Toitskloof ry! Selfde met my…

    Ouma en Oupa in Worcester waar ek gebore is en ek was sweerlik meer daar as by die huis. Ek het Desember (was laaank inni Kaap) my ma se kar gevat en Worcester toe gery. Sal jou die foto’s stuur. Die kids gaan wys waar ek grootgeword het (Werda, Nuy), snot en trane gehuil voor die ou Pinksterkerk wat nou een of ander Coastal Hire plek is en in die kleurling gebied. My oupa het al die treurwilgers daar geplant, my ma is daar getroud…ag, ek het lelik gehuil, nie sag soos ‘n filmster nie. Die mense het verbygery en gedink die vrou is mal. Ek het die bome gaan druk en die nuwe blaartjies gestreel…tot die kafee waar oupa altyd sy favourite peanut brittle gekoop het is nou in die coloured area, maar dis darem nog Sonop (al is dit nou garage)…die leivoortjies is nog daar – ons het Sondae daarin gespeel toe ouma-hulle dorp toe getrek het en ‘kinners moenie innie water mors nie’ uit volle bors gesing elkeen met ‘n stok asof ons blind is (vreeslik!!)

    Nou moet ek stop, want my hart kan dit nou nie meer hou nie……..

  2. So laat jy my nou ook onthou….

    Ek dink aan Oupa Aart wat nie eens sy das afgehaal het by die viswaters nie; hy het net sy kakiekleurige oorpak aangetrek. Ek sien weer Ouma Ri se swart breisak wat altyd ‘n pakkie Sparkles ingehad het. Ek hoor weer ouma Hansie met die budgie gesels. Ek het altyd gedink dat Diederikkie darem vreeslik oud is tot ek ingelig is dat die Diederikkie no 5 was. Ouma Hansie was klein met ‘n ronde lyfie en dun beentjies en haar wangetjies het so bietjie gehang. Met haar weglê kuifie het sy soos haar budgie gelyk. Hulle was almal dierbaar. En van elkeen erken ek ietsie in my.

  3. Ja, so onthou ons die dierbares. Net jammer ons kinders sal hulle nooit ken nie . . .

  4. Het ding darem nou so amper-stamper vir Marat gesê, nee man! julle kinders kan hulle mos ken – deur julle oë en monde, maar ding verstaan in watter konteks Marat die waarheid praat.

    Ding het nooit vir OupaKlaas in persoon geken nie, maar dis kompleet asof ding vir OupaKlaas laat herlewe, altans so vertel Moedertjie – anti-sosiaal, bedannerd, moeilik, koppig (kry die prentjie?)… hehe

    Jou droom, Son-Son – jy weet mos dis nie net ‘n droom nie. Jy weet mos jou droom MOET iets beteken. Verken die moontlikhede – luister na wat jou droom jou vertel. As jy net hard genoeg probeer, gaan jy daarby uitkom; ding is oortuig daarvan.

  5. Ek het bedags by Ouma gebly terwyl my ma gewerk het. Ek was seker so vier jaar oud. Ek onthou hoe het ek elke dag vir Oupa agter die kombuisdeur weggekruip as hy huistoe kom. En elke dag het hy my “misgekyk” en sy jas oor my gehang en sy hoed op my kop gesit. Ek spring dan na ‘n paar minute daar uit en maak hom skrik. Hy skrik dan so groot dat ek vinnig sy sakke moet deursoek vir ‘n lekkertjie, een in sy mond sit, en die res is myne! Ek mis hom vreelik1

  6. Ek het ‘n vreeslike groot bewondering vir mense wat tot aan die einde nog leef en fietsry, stap en die lewe voluit geniet. Ek wil ook so oud word.

  7. Ek en my Ouma was soos peanutbotter en appelkoosjam – onafskeidbaar. Sy het gehelp groot maak aan my. Sy sal Augustus 16 jaar al in die hemel wees. Ek mis haar elke dag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: