My ma se twee onwettige kinders!

Nee, nie onwettig soos in “illegal” nie, maar onwettig soos in “naughty; mischievous”. Gaan kyk maar in die woordeboek, ek het lank gelede.

Ek en my sussie was twee onwettige kinders – Ma se woorde – want ons het van meeste dinge ‘n grap gemaak. Ja, my einste sussie wat die sewe soorte dinges uit my irriteer het omdat sy so kon draai as ek haar moes saamsleep na ‘n plek toe. Maar ons het ook helse baie fun gehad.

Net na matriek het ek my eerste motor aangeskaf en toe was die ark se deure natuurlik oop. Ek was die aangestelde chauffeur om al die pelle orals en alom heen te vat. En naweke was ons so ‘n viermanskap wat saam uitgegaan het. Ek, my sus Lisa, my vriendin Berdene, toe nog in Matriek en ons kleinniggie Karen, ‘n jaar ouer as ek.

Ek het op daardie stadium van my lewe nog nooit enige iets gedop nie, maar my ma was vas oortuig dat ek met my lisensie ordentlik in die hek gaan duik. Want sien, ek kon nie parallel parkeer om my lewe te red nie, al kon ek vrek goed bestuur en al die ander goed ordentlik doen!

Die leerlinglisensie was ‘n vulletjie en drie dae later gaan ek toe vir die groot ene, die lisensie. Ja, daar was nog nie ENatis en maande se wagtyd vir ‘n afspraak nie – dit was nog die goeie ou dae! My goeie feë was op haar pos. Bestuur self is nie by toetsgronde gedoen nie, maar sommer in die dorp en die goeie feë het gesorg dat daar nêrens op ons pad ‘n oop parkering was nie. Ek het alles mooi ordentlik gedoen, die drie-punt draai, die wegtrek teen die opdraande, ensovoorts ensovoorts.

Teen die einde toe sê die omie; “Ag ry maar terug kantore toe, ons sal sommer daar parkeerplek soek.” En toe is daar ook nie! En toe sê die omie; “Ag nee wat, kom ek gaan gee jou lisensie vir jou, jy het alles perfek gedoen, so ek glo jy kan mooi parkeer ook.” Ha ha ha! Ek kon gerus vir my ma tong uitsteek as ek nie soveel respek vir haar gehad het nie. (Ek het jare later eers leer parallel parkeer met ‘n skip van ‘n kar, kan jy glo!)

Elk geval, dit was die Donderdag en die Vrydag besluit ons vier die lisensie moet nou ingewy word. Rolskaats was daardie tyd die “flavour” van die maand en ons besluit ons gaan die vlerke bietjie sprei uit die Paarl uit. Ek is mos nou wettig op die pad. Ons gaan stad se kant toe. Meer presies na ‘n rolskaatsbaan waarvan ons gehoor het, wat destyds in Voortrekkerweg, iewers in Parow, was.

Intussen het my goeie feë besluit sy vat die naweek af en daar aangekom is daar een, NET EEN parkeerplek oop, seker in ‘n radius van 10 kilometer. En toe weet ek, hier moet ek vanaand in, “come hell or high water”! Nodeloos om te sê, ek is in en vorentoe en agtertoe en links en regs, maar ek bly in my donner in skeef, maak nie saak hoe ek daai stuurwiel draai nie. Karen en Berdene kon albei bestuur, maar nie een het ‘n lisensie gehad nie. En ek gee mos maar moeilik my stuurwiel af, maar toe is dit nood.

Nou moet ek net gou bysê, kleinnig Karen was glad nie te klein nie en, foeitog, sy het een skeel oog gehad. Ja ja, ek lag al klaar.  So ek wou nou maar eerder nie vir Karen die wiel gee nie. Berdene kry toe eerste ‘n beurt. Lisa klim uit, want sy is toe al klaar dik gelag vir die spektakel. Karen besluit toe ewe hulpvaardig sy gaan nou vir Berdene aanwysings gee om in die parkering in te kom. Ek bly in die motor, want dan voel dit ek het darem nog bietjie beheer oor wat aangaan.

So hardloop Karen voor om die motor en dan weer agter om die motor om vir Berdene te beduie diekant toe en daaikant toe. Berdene is naderhand skoon verbouereerd en sê so saggies vir my; “Man, ek kan nie ‘n f0k sien waar sy kyk nie. Sy beduie dan links maar kyk regs.” Die volgende oomblik ry sy amper vir Karen om.

Toe skree ek soos ek lag. Intussen het Lisa al op die sypaadjie gaan sit soos sy lag, want die hele prentjie, met Karen vorentoe en agtertoe, was meer as wat enige mens van vlees en bloed kon laat ernstig bly.

So vererg Berdene haar en los die kar sommer so skeef in die parkering, spring uit en sê vir my; “Nou hoe de hel het jy daardie spietkop gekry dat hy vir jou ‘n lisensie gegee het?” Karen staan verdwaas, ek dink dit het haar ‘n paar oomblikke gevat om te besef sy was amper onder die kar in.

Wat ons vier met die parkeer petalje nooit gesien het nie, was die ou en sy meisie wat van iewers afgekom het en blykbaar ook die storie aanskou het. Toe ek so tussen my lagbuie asemskep, staan hy skielik voor my. Ek sien ook sommer met die eerste oogopslag die meisie se mond is dik opgeblaas en sy hou nie van wat nou gaan gebeur nie. Hy vra toe ewe ordentlik; “Kan ek dalk jou kar vir jou parkeer?” 

Ek is ook nie op my bek geval nie en antwoord; “Ja, baie dankie. Ek sal jou ewig dankbaar wees.” En meisie se lippe blaas nog ‘n graad op! Die outjie klim daar in my kar en woerts warts, daar staan karretjie netjies in die parkering. Karen staan nog met groot oë en kyk en Berdene begin toe al darem die humor in die situasie sien. Ek het die outjie liefies bedank, en meisie het hom omtrent teen die spoed van wit lig daar weggesleep en ons kon uiteindelik toe die aand begin.

Natuurlik het ons my ma jare later eers vertel!

Advertisements

4 Responses

  1. lekker om te lees ons het almal iewers ‘n motor geheim. jy kon nie die kar geparkeer kry nie, ek parkeer die ding toe eendag in ‘n droë waterafvoer waar ons die buurman se perd moes gaan haal om die kar weer uit te trek. het die ouman nog vertel nie. ook nie van die petrol wat ons uit die een kar gesteel het om met die ander kar te kan ry.
    dit was mooi dae die.

  2. Lekker! Ons het altyd drive-in toe gegaan en op die bonnet gelê en fliek kyk. En dan die sleutels in die kar toegesluit en die oom van die drive-in moes met sy draadhanger die deur kom oopmaak. Nodeloos om te sê, hy’t genoeg experience gehad. 😀

  3. Ek dink die laaste keer toe ek parralel parkeer het was toe ek toets gedoen het. Ek is te bang om uit te vind of ek nog kan!

  4. Ek het ook met ‘n vet kroek my lisensie gekry – parkering juis die middelpunt daarvan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: