Lewenslank vir Dina?

Ek wou eintlik vandag oor iets anders geskryf het, maar vanoggend sien ek op die lamppale: “Staat vra lewenslank vir Dina”.

Ek dink nie iemand in hierdie land weet nie wie is Dina Rodrigues en wie is Baba Jordan nie. Dina het 4 swartmans R10 000 betaal om haar kêrel se buite-egtelike kind by ‘n bruin meisie te gaan doodmaak. Blykbaar om die probleem van onderhoud vir die kind, asook die skande van ‘n kind by ‘n anderskleurige, vir hom weg te vat.

Dit is ‘n walglike, onmenslike ding wat sy gedoen het en natuurlik moet sy gestraf word daarvoor. (Ek, persoonlik, dink natuurlik die pa is ook nie heeltemal onskuldig nie – hy het heel waarskynlik die ding aangestook.) Maar toe ek vanoggend daardie woord “lewenslank” sien, het ek skielik, vir die heel eerste keer van die saak begin het, aan die mens, Dina, gedink.

Sy is ‘n pragtige jong vrou. Nou gaan sy heel moontlik vir ongeveer 20 jaar (lewenslank is 25 jaar?) toegesluit word. Haar beste jare sal in die tronk verbygaan. Die kanse is feitlik 100% dat sy nooit kinders van haar eie sal hê nie – en daar is natuurlik mense wat glo sy verdien nie om kinders te hê nie. Ook dat sy miskien nooit sal trou nie.

En ek wil haar vra – wat het jy gedink, Dina? Hoe het jy redeneer toe jy daardie besluit geneem het om ‘n baba te laat vermoor en daarmee jou hele lewe weggegooi het vir ‘n man wat dit definitief nie werd was nie? Wat sal jy doen as jy die tyd kon terugdraai? Jy het nooit gepraat nie, nie eers ter versagting vir jouself nie. Wat gaan in jou kop aan? Is jy jammer oor wat jy gedoen het?

Want sien, Dina het ook ‘n ma en ‘n pa en broers. En dit lyk my ook hulle verstaan nie hoe Dina so iets kon doen nie, want hulle ken ‘n ander Dina. ‘n Saggeaarde Dina, wat nie eers insekte wou seermaak nie. Ook haar vriende ken nie Dina, die babamoordenaar nie. So, wat het met Dina gebeur? Hoe gebeur dit dat iemand wat, volgens alle getuies ‘n sagte persoonlikheid het, so ‘n onmenslike daad beplan en uitvoer.

Het sy al die jare haar familie en vriende om die bos gelei en was sy eintlik ‘n heks, soos die Kaapse mense haar gebrandmerk het? Kan mens werklik so teenstrydig met jou eie persoonlikheid optree? Ek gaan altyd oor jou wonder, Dina, want vandag het jy vir my mens geword, nie net babamoordenaar nie.

As jy my kind doodgemaak het, sou ek jou ook wou doodmaak. Nou kan ek net vir jou bid. Lewenslank gaan dalk nie vir jou lank genoeg wees om met jouself saam te lewe nie.

Advertisements

3 Responses

  1. Die ergste straf denkbaar word nie in ons land en ook nie in julle sin toegelaat nie-naamlik die doodstraf…so ek neem aan jou gewete gaan jou ry Dina…en in n tronksel nog meer.

  2. Ek weet nie of dit haar gaan pla nie. As jy so iets kan beplan en tot uitvoer bring, gaan jy nie worry nie. Dis siek. Lewenslank is te kort.

  3. Ek volg ook hierdie saak al van die begin af. Ek weet nie hoekom nie, want dit is ondenkbaar wat sy laat doen het, maar ek kry haar tog jammer. Haar ouers moet verpletter wees. Indien dit my kind was, sal ek heel moontlik anders gevoel. Mag sy vergifnis en vrede vind.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: