Moenie my vra nie…!

Ek is niks selfsugtig nie. Inteendeel. Ek kry altyd raas by my man omdat ek sommer my goed weggee as ek sien iemand anders kry swaar.

 

Vra my om my klere te leen, vra my om my boeke te leen, vra my om my CD’s te leen. Ek sal vir jou geld ook leen, as ek het. Ek sal enigiets vir jou leen, of sommer gee as ek kan.

 

Maar moenie, nee moenie, MOET ASSEBLIEF NIE vir my vra om my motor te leen nie!

 

Ek sal eerder met my voete loop voordat ek jou sal vra om jou motor te leen, so moet my ook asseblief nie vra nie. Dit gaan net ons vriendskap bederf.

 

Ek is heeltemal, onkapabel en gat oor kop paranoïes as dit by my motor kom. As my vriende sê, “Daar is my sleutels, vat gou my motor en gaan haal vir ons nog hout (of wat ook al) by die kafee”, dan kyk ek hulle aan asof  ‘n “alien” van hullle besit geneem het.

 

My skoonma leen haar motor vir enige iemand, sy vra nie eers of hulle ‘n lisensie het nie. Sy het al vir my gesê sy gaan vir my ‘n sleutelhouer koop met “I Love My Car” op. Natuurlik was sy sarkasties, want ek is die “freak” wat nie toelaat dat enigiemand my motor bestuur nie.

 

Hoekom is ek so? (Ander mense se vraag, nie myne nie.)

 

So, as ander mense nie sό is nie, dan neem ek dus nou aan ek het ‘n kraak weg as dit by my motor kom. En krake kry mens mos gewoonlik in jou kinderjare.

 

So, watter trauma in my kinderjare het my obsessie met my eie vervoer veroorsaak?

 

Kan dit dalk die tyd wees toe ek 4 jaar oud was?

Ons huis was op die rand van ‘n bos en my ma en pa het albei gewerk. Ek het bedags by ‘n oppasser gebly, maar elke oggend, nes almal veilig by die werk was, het sy my so ‘n entjie die bos ingeneem en by ‘n boom sitgemaak. Dan het sy my die dood voor oë gesweer as ek sou roer. Die polisie sou my kom vang as ek roer en ek sou iets vreesliks oorkom. Sy het natuurlik gaan rondkuier en teen die middag het sy my weer daar kom kry, waar ek nog doodstil op een plek gesit het.

 

Die gevolg was natuurlik dat ek nagmerries begin kry het en my kop van my lyf af gegil het as ek ‘n polisieman sien. My pa was nie ‘n geduldige man nie en kort voor lank het hy die storie uit my uitgekry. Wat toe gebeur het, is nie hier herhaalbaar nie, maar ek kan net sê hy het kort duskant moord omgedraai.

 

Ek onthou natuurlik nie die hele petalje nie, dis vir my oorvertel, maar miskien het my obsessie met my eie vervoer toe al sy saadjie geplant. As ek wiele gehad het, kon ek dalk vir die oppasser weggejaag het, of bo-oor haar gery het, of so iets.

 

Of dalk was dit die insident met die dagmoeder. Na die petalje met die oppasser, is ek glo na ‘n dagmoeder, en snaaks genoeg, dit kan ek vaagweg onthou. Omdat ek soggens eerste daar aangekom het, was die tannie nog besig om klaar te maak en ek moes doodstil sit en wag totdat die ander kinders kom. Ek was nog nooit baie sterk op geduld nie en blykbaar het ek een oggend besluit die stil sittery soek nie vir my nie en voet in die wind geslaan. Ek is glo anderkant die brug, verby die begraafplaas (‘n goeie 3 kilometer verder) gevang waar ek flink oppad was huis toe. Sien, as ek toe al my eie wiele gehad het, het hulle my nie gevang nie!

 

My arme ma was toe raadop, maar gelukkig was sy toe al ver swanger met my sussie en kon sy kraamverlof vat en by die huis kom bly en my dophou. Sover ek weet, was daar nie enige verdere trauma in my kinderjare, wat met wiele te doen het nie.

 

Die eerste ding wat ek na skool gekoop het, was my eie motor, al moes ek omtrent droë pap eet om dit te kon bekostig.

 

So, ek dink ek het ‘n diep gewortelde vrees om iewers agtergelaat te word, sonder my eie vervoer. En ek dink nie berading gaan nou meer help nie, ek is te ver heen!

 

Daar is darem een ander mens wat my motor mag bestuur, en dis my man. En ook net omdat ek hom BAIE lief het en nie met hom wil lelik wees nie. (Hy ken my paranoia, maar hy verstaan dit ook nie.)

 

Maar daar is ook so ‘n klein monstertjie met skerp tande, punt ore en rooi oë wat binne in my bly. En omdat ek my man so BAAIIEE liefhet en nie lelik met hom wil wees nie, druk ek elke keer hierdie klein monstertjie met die skerp tande en punt ore en rooi oë terug in sy kas, as my man my motor leen. Want eintlik wil die monstertjie dan uitspring en gil en tekere gaan en hom byt en hom rondpluk en skree:

 

“Los uit, los uit! Dis myne. Moenie my sitplek skuif nie, moenie my spieëls stel nie! (My man is 2 koppe langer as ek). Ry jou eie kar! Moenie myne vat nie! Dis MYNE, MYNE, MYNE!”

 

Maar dan raas ek met die monstertjie en sê: “Komaan, jy is nou mooi groot, dis net ‘n fobie. Gedra jou.” En as ek kyk hoe my motor wegry, dan is dit asof die monstertjie sulke diep droë snikke gee, soos ‘n kind wat lank gehuil het en dan gaan lê. En wanneer hy terugkom, dan spring die monstertjie op en klap sy punt vingertjies van blydskap, want alles is nou weer reg…, tot volgende keer.

 

 

 my-yaris.jpg So, ek sal my klere van my lyf af vir jou gee, maar moenie my vra nie, MOET MY ASSEBLIEF NIE VRA NIE….. om my kar te leen nie!

Advertisements

10 Responses

  1. O, ek voel presies dieselfde as jy! Ek het 4 jaar met Jaco uitgegaan voor ek hom toegelaat het om aan Stoffel te vat – my kar is my kar en ek trust nie enigiemand naby hom nie. Nodeloos om te sê, Jaco het homself as betroubaar bewys en nou is hy die enigste een wat ek trust om aan ons tjorre te werk.

    My hart word sommer sag as ek vir Koos so beskou in ‘n parkade met sy mooi holle (die anner karre se gatte is lelik) . . . hy is darem maar sexy, jong . . . :p

    Ek weet presies waardeur jy elke keer gaan . . . my simpatie. Ek worry ook elke keer tot Koos terug is op sy plek – my kar is my vryheid . . .

  2. Net so. Al het ek met my hand in verband gelê na karpale loslating en ek kon nie bestuur nie, moes my kar net naby wees.

    My ma het altoos gesê mens leen nie jou rolskaatse uit nie, want ‘n ander persoon se gewig en lê van die voet is nie dieselfde nie en jy kan skade kry op jou skaatse. Ek glo dieselfde van my kar. Niemand ry haar soos ek nie. Niemand gaan haar met dieselfde respek hanteer as ek nie.

    Ek wil ook my “vryheid” naby hê – net vir ingeval. Geen fobies of monsters nie – net omdat dit is wat ek wil hê. Het vir jare nie eens gegaan vir my lisensie nie, want ek was nie bereid om my man se kar te bestuur nie. Ek het gewag tot ek my eie kar kon koop. Ek het nou my tweede een en ek is bietjie besitlik op haar.

  3. Dankie, dankie, dankie! Ek gaan julle comments print en raam, sodat almal (veral my SKOONMA!) kan sien ek is nie ‘n “Alien” nie – hier is ander op aarde soos ek!

    Marat, my kar se naam is Gogga!

    Lekker dag en lekker ry!

  4. Die dag as Koos iets moet oorkom hoop ek nie ek is die bestuurder nie. Ek dink vroulief vergewe my eerder ontrouheid as wat ek vergewe sal word as ek haar kar iets laat oorkom.

    Ek dink as so iets moet gebeur, gaan ek nie eers huis toe gaan nie!

  5. My tjor se naam is Daisy..sy is n pragtige rooi golfie….Niemand mag my kar nie….miskien klein miskien my verloofde…maar niemand anders nie…nie eens my pa of susters nie..niemand nie.

    Ek is verskriklik heilig op my daisy…
    O’ja ek leen ook nie my cd’s uit nie-glad nie…

    troedelkies
    xxx

  6. My grootste vrees is ook om nie te kan beweeg wanneer ek wil nie. (Lyk my jy en die Skatlam het dieselfde kar).

  7. Dan moet ek Skatlam beslis komplementeer met sy goeie smaak. Ons ry die kar met die minste foute van enige kar in die land!

  8. Hey!! Dankie baie vir jou comment op my blog!!! En… jou blog rocks!!! So goed dat ek van julle kan leer ‘ken’!!!

  9. Mag ek asseblief jou kar leen? 😉

  10. Ha ha – jy roer nou met ‘n YSLIKE lepel! Waarheen wil jy gaan? Ek sal jou met die grootste plesier neem – met my aan die stuur natuurlik!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: