Môre is Eric se verjaarsdag

Môre is Eric se verjaarsdag. Kan nie Eric se van onthou nie, kan nie onthou of ek ooit Eric se van geken het nie. Ek onthou egter sy verjaarsdag, want dit was die dag voor Soweto dag (soos 16 Junie vroeër bekend was). En vir Eric sal ek nooit vergeet nie.

Wie is Eric? Eric was my “tache boy”.

Middel 1995 tot middel 1996 het ek besluit ek is moeg vir ‘n kantoor se vier mure. Op daardie stadium het ek by ‘n baie bekende siviele konstruksie maatskappy in die Wes-Kaap gewerk. Ek het met my senior gaan praat en na baie mooi praat en toetse skryf, het hulle besluit om my as proefkonyn “site” toe te stuur. Ek sou die eerste vrou op hulle “sites” wees. Ek sou help met Admin, maar ek sou ook leer “survey”. Dit was die jaar wat ek die hardste in my lewe gewerk het, dit was ook die jaar wat ek 15 kg verloor het en dit was ook die jaar wat ek geleer het om die mens agter die massa raak te sien.

Ons “site” was in die Waterfront. Ek was die enigste vrou op die “site” en ek was ook meestal die enigste wit mens op die “site”. Toe ek die eerste oggend opgetel word deur die bakkie, het die swart manne my net so gekyk en ek het geweet ek sal moet hard werk om hier aanvaar te word. Maar, hardkoppig soos ek nog altyd was, het ek besluit ek sal hulle wys.

Die eerste dag het niemand juis met my gepraat nie, net Eric, die swart outjie wat aan my toegewys is as my tache boy. Hy sou my tache en level help dra en opstel as ek opmetings doen. Etenstyd het hulle gaan katkop en chips koop – dis iets soos uitgeholde brood met chips – en saam gesit en eet. Ek het maar daar gesit met my toebroodjies, niemand het met my gepraat nie.

Die volgende dag moes ons die pad toemaak met daardie groot dromme en toe elkeen ‘n drom vat en hom so skuins-skuins begin aanrol, het ek nie op my laat wag nie en ‘n drom gegryp en laat rol. Gelukkig het ek op ‘n plaas grootgeword en ken van sakke voer rondsleep, ens. So tussen die drom rollery deur kon ek sien hulle hou my dop.

Teetyd kom Eric na my aangestap met ‘n sak vol Liquorice All Sorts – daai lekkers met die drop in die middel. Nou, van kleintyd af eet ek nie drop nie, kon nog nooit die smaak daarvoor ontwikkel nie. As dit enige plek, enige ander tyd was, sou ek nee dankie gesê het, maar ek het geweet, vandag is dit “Do or Die”. As ek vandag nee dankie sê vir hierdie lekkers, is ek gef&*k!

So, ek sê toe dankie en ek vat ‘n handvol en ek sit dit in my mond en ek kou en ek eet asof dit die beste ding is wat ek nog ooit in my lewe gedoen het.

Daarna was die ys gebreek. Liquorice All Sorts het my een van die span gemaak!

Etenstye het hulle vir my my eie katkop gekoop. Ons het meestal saamgegooi en 2 liter Coke gekoop. Hulle het ALTYD die bottel eerste vir my gegee om oop te maak en uit te drink of vir my uit te skink. Ons het saamgelag, saam gehuil as iemand se familie iets oorgekom het.

Eric het my regterhand geword. Soms het ek en hy 5 keer rondom die Waterfront geloop, as my koördinate nie reg wou uitwerk nie. Dan het hy my uitgeskel en somtyds geweier om my tache te dra. Dan het ek dit maar opgetel en self gedra, maar kort voor lank het hy my jammer gekry en dit by my kom oorvat.

Ons was eers verontwaardig en het toe saam uitgebars van die lag toe die een wit oom my eendag iets viesliks toegesnou het waar ons een etenstyd saam geloop het langs die pad in die Waterfront. Die oom was beslis onder die indruk dat ek oor die kleurgrens heen vry.

Later het ek my eie bakkie gekry waarmee ek soggens en saans in die plakkerskampe ingegaan het om my manne te gaan oplaai. Ek het nooit bedreig gevoel nie en ek is altyd met respek behandel. As een wou skeefneuk, was daar altyd ‘n ander een wat hom gou vasgevat het.

Elke tweede Vrydag (Forthnight, soos ons dit genoem het) was betaaldag. Dan het ons 3 uur ge-tjaila. As ek dan in Lwandle kom om my laaste manne af te laai, het hulle vir my pap en vleis gekoop by een antie wat altyd op betaal Vrydag vleis gebraai het op die hoek van die straat.

Toe ek die dag vir Eric sê ek gaan bedank, want ek gaan weer trou, het hy doodernstig gesê dat hy dan ook gaan waai en verder sy “skorro skorro” taxi gaan ry. Of hy vandag nog taxi ry, weet ek nie, maar ek dink altyd aan hom met sy verjaarsdag. En aan daardie jaar op “site”.

As ek sien hoe lyk dinge vandag in ons land, dan onthou ek daardie tyd en ek onthou dat daar ook goeie mense agter die massas is.

Advertisements

4 Responses

  1. Ek verjaar saam met Eric! Hy is waarskynlik net heelwat jonger as ek.

  2. My site dae was ook waarskynlik die lekkerste in my loopbaan, ek mis dit nogal partydae.
    As enigiemand nou nog gewonder het hoe om die ou landjie van ons reg te maak – dit is hoe. Mense wat sy-aan-sy werk en waar wedersydse respek verdien word.

    Happy birthday Eric!

  3. En ons het elkeen iewers ‘n Eric in ons lewens.

    Ek drink vandag op al daardie wonderlike wesens wat ons lewens bietjie kleurvoller maak en sorg vir onthoustukkies vir ons oudag!

  4. my “eric” se naam is gabriël. hy het die swart mamba raakgesien wat in die boom gesit en wag het om toe te slaan. hy’t vir my geleer hoe om ‘n koe te melk en saam met hom het ons skelm gerook in die hoenderhok achter die plaashuis.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: