Dankie vir Comments; Blog is verslawend en my 10 Hoekoms?

Toe ek my blog begin het, het ek gedink niemand sal my eers opsoek nie, en nou het julle my dag gemaak.

Martin, die Kaap is mooi en ek sal NOOIT weer hier weggaan nie, maar Transvaal het beter weer.

Jaco, kom bly hier, al is dit koud en mislik en nat, verruil ek dit nooit ooit weer nie. Het lank terug, in my vorige lewe, ‘n klompie jare in die Transvaal gebly, vandag se Mpumalanga, maar die verlange Kaap toe was maar altyd soos ‘n steekpyn in my lyf. Vandag raak ek effens benoud as ek net oor Du Toitskloof gaan. Hierdie is my hartland, my huis, al speel die Stormers soos die hond se dinges en al reën dit my mal.

boerinballingskap – waarheen is jy verban? Kokkewiet en oopkop, ook dankie vir die draai maak hier, hoop julle kom weer.

Dis nou ‘n uitgemaakte saak vir my – blog is verslawend. Ek blog as ek kans kry by die werk en as ek huis toe kom en werk saambring, dan blog ek op die ou einde by die huis ook en los die werk vir more. Scary, ne!

Mens kry mos gereeld sulke lysies van 10. 10 Steps to a better life, 10 Ways to leave your lover, ensovoorts, ensovoorts. Ek klim nou ook op die lawaaiwa en ek het 10 hoekoms? En omdat ek ‘n broertjie dood het aan veralgemening, vra ek sommer by voorbaat om verskoning as ek iets hier noem wat dalk iemand hier raak, ek weet almal is nie skuldig nie.

1. Hoekom hou klein, kort mans so daarvan om ‘n 4×4 voertuig te besit / bestuur. Laat dit hulle groter voel?

2. Hoekom is mense wat VW Golfs, veral die GTi soort, so vrek arrogant? Kry mens ‘n lisensie vir arrogansie saam met jou registrasie papiere as jy ‘n VW Golf koop?

3. Hoekom ‘tip’ rokers hulle as by hul vensters uit? Na die beste van my wete het elke fabrikaat voertuig ‘n asbakkie in. Glo my, ek het niks teen rokers nie, ek dink selfs ons rookwette is effe belaglik. Ek wonder maar net.

4. Hoekom se mens eers: “Ek wil nou nie skinder nie, maar…” presies net voor hulle wel begin skinder.

5. Hoekom dink almal blondines is dom? (Vir die rekord, ek het donker hare). Uit ondervinding het ek agtergekom die eintlike dom blondines is die donkerkoppe wat hul hare blond gekleur het!

6. Hoekom kan meeste ma’s nie “let go” as dit by hulle seuns kom nie en is hulle sulke bitches teenoor hul skoondogters?

7. Hoekom het mens net een lewe en weet jy eers regtig waaroor alles gaan as die beste deel van jou lewe amper verby is?

8. Hoekom gaan goeie mense jonk dood en die slegtes bly lewe tot lank verby hulle “sell by date”?

9. Hoekom het slegte ouers kinders en die wat goeie ouers sou wees, kan nie kinders hê nie?

10. Hoekom sleep die tyd as mens moet werk, maar hardloop dit weg as mens lekker dinge doen?

Wat is die verskil tussen Waarom en Hoekom?

Lekker Woensdag vir julle – die week is halfpad!

Advertisements

5 Responses

  1. My naam is Jaco en ek is ook verslaaf!

    My ma het in Bonnievale grootgeword, seker die dat ek wil soontoe. Ek wil uit die stad uit.

    Oor jou tien vrae…hoeveel tyd het jy? As mens daai goete verstaan, sal jy kan boeke skryf en ryk word!

  2. Ek moet bieg! Ek is ook verslaaf!! Ek blog by die werk net wanneer ek kans kry en partymaal sommer terwyl die baas in die kantoor is, gelukkig of ongelukkig het ek nie n rekenaar by die huis nie.
    Ek stem saam met Jaco oor die tien vrae en ek wonder ook veral oor nr 9.

    Lekker dag verder

  3. Kokkewiet, nr 9 is die enigste vraag wat ek eendag vir Hom wil vra as ek so bevoorreg is om in die hemel te kom. Selfs jonk doodgaan is okay, maar kinders verniel kon ek nog NOOIT verwerk nie.

  4. Jip, dit is verslawend. Erg verslawend.

    Daardie vrae van jou is goed. Moet my niks vertel van VW arrogansie nie, dit is ‘n verskynsel wat my lankal opgeval het en een het my amper desdinges toe gery verlede jaar en vra nou nog of ek OK is. En dit was ‘n ouer man in die werk se VW.

    Oor kinders…. dit is so hartseer. Ek lees van versugting en my hart gaan uit na die mense wat alweer slegte nuus by die gynae gekry het. Ek ken dit nie; ek moes my pilletjies op die uur sluk tussen my twee kiddies. En dan sien mens kindertjies wat se liggame en siele stukkend is omdat hulle ouers het wat hulle nie waardeer nie en my hart huil.

    Oor ou mense…. dit is seker hoekom ek vandag weer so grys dag het en my rug eintlik op die wêreld wil draai…. my ma het op sestig ‘n aaklige dood gesterf aan longkanker. Gister het ‘n vrou van 70 uit haar woonstelvenster na haar dood gespring. Relatief gesond en taamlik goed versorg, maar depressief en eensaam na haar broer se dood. Hoekom kon sy nie in my ma se plek gesterf het nie; sy wou nie meer leef nie en my ma wou.

    Die dag vreet aan my……

  5. 10 vrae is nie genoeg nie . . . en partykeer hopeloos te veel . . .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: