Hoekom Sonkind?

Hoekom Sonkind? Want ek kan nie sonder die son nie. In die winter moes ek ‘n beer gewees het wat in ‘n gat kon kruip en eers weer uitkom as die swaeltjies terugkom en die seisoen terugdraai. Ek het al baie gewonder of dit iets te doen het met die tyd van die jaar wanneer mens gebore is. Ek is amper in die middel van November gebore, in Worcester, so ‘n lekker WARM Bolandse dorp.

Miskien is dit hoekom ek nie krag vir die winter het nie. In die winter kom sit daar so ‘n lelike donker man met ‘n lang swart jas, met ‘n donker kap, sodat jy nie sy gesig kan sien nie, in my kop. Ek raak so bietjie af as die reën te baie dae aanhou, het al my voete gestamp en na Bo geskree “dis nou GENOEG reën, ASSEBLIEF!”

Wonder ook of ek daaroor gestraf sal word, want al raak ek so obstroppolis oor die reën, is ek nogal gelowig. Ek is heeldag in gesprek met die Here, ek glo nie daaraan om Hom te bêre net vir bid of kerk nie. Soms sê ek sommer so in die middel van ‘n ding dankie vir my seëninge of iets spesiaals. Dus wonder ek of Hy kwaad raak as ek so opstandig is oor die weer, wat mos eintlik van Bo af kom.

Maar wag, ek dwaal af, iets wat ek nogal goed doen op ‘n gereelde basis! Wat ek wou weet, daar is mens wat MAL is oor die winter (ek is MAL daarvan!). Nou wil ek weet; is daardie mal-oor-die-winter-mense dalk in die winter gebore? Hoekom maak winter party mense “happy” en ander “crappy”?

Groete uit ‘n koue Kaap tot later. 

Advertisements