Verkeer vra askies; Griepgat

Ja, nie grapgat nie, griepgat. Dis ekke vanaand.

Eers gou vertel van gisteraand. Verlede week bel Mnr Pat Curran van die Provinsiale Verkeer toe mos en vra wanneer sal dit my pas om hom, Mnr Buys en Mnr Skinner te ontmoet, by hul Brackenfell kantore, sodat ons die insident wat voorverlede week op die N1 gebeur het (sien hier: http://sonkind.wordpress.com/2008/04/26/verkeersman-of-verkeersvark/) kan uitsorteer.

Ek maak toe die afspraak vir 6 uur gisteraand. Ek moet erken, ek was aangenaam verras. Ek het ‘n BAIE mooi verskoning gekry by beide mnr Skinner (oor sy drie-kante-van-’n-storie aanmerking) en mnr Buys (oor sy optrede en taalgebruik). Natuurlik het die feit dat Die Burger op hul nekke gelê het sekerlik bygedra tot hul verskoning, maar ek glo dat Mnr Buys iets positiefs geleer het en ek was regtig beindruk deur Mnr Curran se hantering van alles. Toe ons gisteraand, na byna ‘n uur se gesels, groet, was dit met ‘n goeie gemoed van alle kante af. Dus, dit help tog soms om die bul by die horings te pak, jou stem dik te maak en vir die wetstoepassers te wys jy sal jou nie laat boelie nie.

Op ‘n ander noot - toe ek nog ‘n kind was, het ons ‘n vreeslike goeie dokter gehad, Dokter Appel Louw, van die Paarl. Hy was van daardie rare dokters wat nog sou uitkom vir huisbesoek as iemand te siek was om spreekkamer toe te kom. Hy was ook ‘n dokter wat baie reguit was, m.a.w. “he called a spade a spade” en basta.

Nou, my pa was mos eintlik ‘n Van Helsdingen. Vir die wat nie weet nie, dis een van daai mense wat glo siekwees is ‘n vloekwoord. As die lewe hulle druk, dan druk hulle terug, en so aan. En hy het sy filosofie so op ons kinders ook toegepas. As ons nog asemgehaal het, moes ons opstaan en skool toe gaan. Ek onthou nog baie goed hoe hy my skool toe gestuur het met masels, omdat hy my vertel het dis sommer net ‘n vel uitslaggie. My ma is die oggend vroeg al werk toe en toe ek opstaan en die kolletjies sien en my pa roep, toe sê hy, ag nee wat, dit lyk nie ernstig nie en jy is nie eers koorsig nie.

Daai aand het my ma amper die wilde piep gekry en einste dokter Appel laat uitkom plaas toe, wat toe masels by my diagnoseer en my pa se kop vir hom was dat die see dit skaars kon skoonkry. So, die dokter was nooit juis my pa se gunsteling nie. Pa het geglo dokters vertel jou sommer net jy is siek en dan maak hulle geld uit jou. Aan die een kant het sy filosofie gemaak dat ek eintlik baie gesond grootgeword het en geleer het dat mens jouself met jou kop kan gesond dink. Tot vandag is ek relatief geseënd met uitstekende gesondheid.

Elk geval, soos die duiwel nou wou hê, word my pa eendag hondsiek. So siek dat hy regtig met die beste wil in die wêreld nie sy lyf uit die bed kon sleep om op te staan nie. Na hy homself tot die uiterste verset het, wen my ma en bel vir dokter Appel. Ek dink dit was een van die dinge wat my pa die swaarste aan moes sluk.

Dokter kom en hy ondersoek my pa agter geslote deur. Die afloop hiervan vertel my ma later vir die ander familie met smaak.

Hy het my pa glo sooo gekyk en ondersoek, en toe haal hy ’n inspuiting uit en sê so ewe: “Ja-nee Mnr Goosen, ek sal jou maar ‘n inspuiting moet gee, want jou gat is darem sowaar nou lekker vol griep.”

My pa het dit nooit vergeet nie. Ek dink hy is vandag nog verontwaardig oor daardie woorde! :lol:

Hy het ‘n eed gesweer dat daai dokter nooit weer naby hom sal kom nie. Ek moet darem ook net bysê dat hy al 73 is en steeds so gesond soos ‘n vis in die water is en homself elke dag nog aktief besig hou. Ek dink ook nie hy het ooit weer daarna griep gekry nie!

Nou ja, vanaand is hierdie Sonkind se gat nou lekker vol griep! Dit het my so stilletjies bekruip en vanoggend toe weet ek die treine het gisternag oor my geloop. Ek lê lekker in my bed en tik, Liefie het vir my gaan medisyne koop, want ek hoes soos ‘n ou afgetrede roker, sulke skeurhoese.

So, buite kan dit maar storm en reën, ek gaan nie ‘n voet versit met my griepgat nie :lol:

Swart Maandag!

Vandag moet ek hier ‘acid’ kwyl (met apologie aan Rustig), want as ek dit nie doen nie, gaan ek verstik en ‘n lawa gat dwarsdeur my lyf brand.

Hierdie Maandag was nie blou nie, dit was nie pers nie, dit was SWART!

Wat maak jy as jou kollega, wat die ENIGSTE een is wat laasweek se twee werksdae verlof gehad het, en dus ‘n hele week se verlof gehad het, terwyl jy en jou ander 3 kollegas ‘n week se werk in twee dae moes inpas, jou vanoggend 6 uur huis toe bel en vertel sy is nog in Bredasdorp en weet nie hoe laat sy by die werk sal wees nie, met die verkeer nou en so aan? En jy hoor sommer sy wag eintlik dat jy moet sê dis okay, sy kan maar eers more inkom, want jy het haar al vantevore die pinkie gegee, en nou wil sy jou skouer uit sy armholte ruk, nevermind nog die hele hand gryp!

Jy staan met ‘n mond vol tandepasta en jy brom iets en sy vra, ja, sy het die vermetelheid om nog wragtig te VRA: “Is dit ‘n probleem? Hoekom klink jy so snaaks?” Verskoon my, maar ek het dit verloor. Halftien toe is sy by die werk, maar ek was nie vandag die gewildste peanut in haar pakkie nie.

En die ander kollega wat elke nou en dan ‘n werksbreek vat so tussen sy rokery deur. Elke keer as ek hom soek, is hy Missing In Action. Hy sal nie gou weer twee keer in een uur gaan rook nie.

Sien, dis wat gebeur as mens te lank, TE flippin ‘nice’ is. My oupa het hoeka altyd gesê alles wat ‘n ‘te’ by het is te veel, behalwe tevrede. ‘Nice’ is vir die voëls, hoor julle my. Ek het gedink julle is mooi volwasse, ek hoef nie polisieman te speel nie, maar nou het julle te lank, te veel kere op die leeuwyfie se stert getrap.

En jy, Madame Fifi, daar in Johannesburg, as jy een keer, NET een keer weer bo-oor my praat met jou skeermesstemmetjie, terwyl ons in ‘n tele-vergadering is, gaan ek jou tjank kort digby jou dinges aftrap. Jy het nog doeke gedra toe doen ek al wat ek nou doen. Look and learn; Madame Fifi. Ek gaan vir jou vertel presies waar wie wat se wortels begrawe het as jy weer ander mense boelie sodat jou goed eerste gedoen kan word. Volgende keer as ek in Johannesburg kom, gaan ek daai hoë hakkies van jou morsaf breek sodat jy ‘n slag kan terugkom aarde toe. Jy het net gehoor ek kan ‘n “bitch” wees. Tot nou toe het ek jou gespaar, want ek was “the new kid on the block” in hierdie posisie. Maar nou het ek genoeg van jou ook gehad. Ek laat nie my mense boelie nie. Punt.

En jy, Bonny Baby, as jy weer vir ‘n kliënt sê dat ons op ons koppe ook kan staan en vir hulle Sarie Marais met ons tone op die klavier kan speel, sonder dat jy met my ge-check het of ons akrobate kan wees, dan gaan ek jou maak op jou kop staan en wals vir die kliënt. Jy belowe nie die kliënt ‘n vraelys in vyf verskillende tale omdat jy weet dat een van ons programme dit kan doen, maar jou kop is te klein om te weet watter een, en dit is NIE die een waarin hierdie spesifieke kliënt se werk gedoen word nie. En dan los jy my om die donnerse gemors uit te sorteer nie. Jy is volgende op my “hit list”. Hulle het my gewaarsku toe ek die nuwe werk vat, dat ek en jy gaan koppe stamp. Ek het jou die voordeel van die twyfel gegee. Nou is jou nommer op. Koppe stamp, gaan ons koppe stamp, en ek belowe jou, myne is BAIE harder as joune.

By alles het ek opgestaan met ‘n tandpyn uit die vure van die hel uit en die goeie, gawe tandarts kan my eers op 19 Mei help, maar ek is op 19 Mei in Johannesburg, besig om party mense se skoene se hakke af te breek, sodat hulle net weer bietjie nader aan die aarde kan begin beweeg. So, dan kan dokter my eers 26 Mei help, anders moet ek maar kom sit en wag as die pyn te erg raak. Nou sal ek maar gaan sit en wag, wanneer die pyn te erg raak. As ek vandag of more gaan, brand ek dalk net ‘n ‘acid’ gat in die tandarts se stoel en dan moet ek nog daarvoor ook betaal.

Ek sal nie verbaas wees as daar more ‘n besem langs my lessenaar staan nie.

Lawwe Mei Haiku’s

Mei is nie vir my

Dit spel winter om die draai

En Son wat koud kry

########################

Snoek loop vanaf Mei

Vier maande sonder erre

Al tyd van snoek kry

########################

Wens ek was ‘n beer

Dan sal jy my nie sien voor

September eers weer

Morele Dilemma

Wat is ‘n morele dilemma?

Die presiese betekenis van ‘n dilemma is ‘n situasie waar jy moet kies tussen twee ewe onaangename alternatiewe. Daar is ‘n gesegde “om tussen die duiwel en die diep blou see te wees”. ‘n Morele dilemma is nog erger, want watter opsie jy ookal kies, iets of iemand gaan daaronder ly. Twee keuses is in konflik met mekaar en jy kan net een kies. Maak nie saak watter een jy kies nie, jy gaan iemand faal. Jy gaan vir altyd met ‘n skuldgevoel van een of ander aard moet saamlewe. In ‘n morele dilemma moet jy besluit wat is moreel die korrekte keuse, NIE slegs dié een wat jy sou verkies het nie.

‘n Professor wat klas gee in etiek, is gevra of mens iemand kan karakter aanleer, en indien nie, wat is dan die doel daarvan om etiek vir iemand te leer. Sy antwoord was dat mens nie mense kan leer om die regte ding te doen nie en dat dit ook nie die doel is van die studie van etiek nie. Om die regte ding te doen is ‘n twee-ledige proses. Eerstens moet mens eers besef wat is die regte ding om te doen en tweedens moet jy dit dan doen. Stap een is etiek en stap twee het te doen met karakter.

Voorbeelde van morele dilemmas: -

1. Jy het twee kinders. Jou huis is aan die brand. Jy kan net een van jou kinders red. Daar is niemand anders wat hulle kan red nie, behalwe jy. Watter kind kies jy?

2. Jy en jou seun is gevangenes in ‘n konsentrasiekamp. Jou seun het probeer ontsnap, maar is gevang. ‘n Sadistiese wag besluit jou seun moet gehang word en hy besluit jy moet die stoel onder jou seun wegskop. Doen jy dit nie, dreig die wag om van die ander onskuldige gevangenes ook dood te maak. Jy glo dat die wag dit wel sal doen. Wat besluit jy?

En nou, die belangrikste keuse van almal en die rede hoekom ek hierdie geskryf het. Stel jou die volgende voor:

‘n Dogtertjie van 4 jaar oud word gesteel uit haar ouerhuis. Met die ondersoek van die saak vind jy uit dat die ma van die dogtertjie ‘n dwelmverslaafde is, dat sy al meer as een keer die kind alleen by die huis gelos het, dat sy die kind een keer vir twee ure in ‘n snikhete, geslote motor gelos het. Dat sy soms as ‘n prostituut werk en dan mans huis toe bring, waar die dogtertjie ook is. En dat sy die aand van die kind se verdwyning gelieg het oor waar sy was, dat sy eintlik iewers in ‘n klub was, op soek na dwelms.

Soos die tyd verloop, dui alles daarop dat die dogtertjie dood is. Die ma aanvaar naderhand die kind is dood. Sy toon geen teken van berou oor haar dade nie, maar hou aan met haar losbandige lewe, al treur sy tog oor haar kind.

En dan, heel toevallig, val die waarheid eendag in jou skoot. Die dogtertjie se oom het gereël dat sy gesteel word, want hy kon nie meer toekyk hoe sy suster die kind verwaarloos nie. Sy bly nou by ‘n ouerpaar wat haar verskriklik liefhet en wat haar soos goud oppas. En die dogtertjie is gelukkig by hulle. Jy sien haar, jy sien hoe gelukkig sy is. Meer as wat sy ooit by haar eie ma was.

Wat doen jy?

Konfronteer jy die mense wat haar gesteel het? En dan sê hulle vir jou: “As jy so seker was wat die regte ding is, hoekom het jy nog nie die polisie laat weet nie? Omdat jy weet dit sal ‘n onherstelbare fout wees? Omdat jy weet, maak nie saak wat sê die wet nie, dat jy diep binne in jou weet dat sy beter af is waar sy nou is, as by haar eie ma? Omdat jy weet, as jy haar terugbesorg aan haar ma, gaan sy self oor ‘n paar jaar vorentoe dieselfde pad loop as waar haar ma nou is, dalk ook met haar eie verwaarloosde kind? Hoe gaan jy met jouself kan saamlewe?”

Sê jy vir hierdie ouers: “Ja, ek weet dit kan dalk gebeur. En as dit gebeur sal ek daarmee moet saamlewe. Maar wat as sy eendag voor my kom staan en vir my sê; ‘Ek is ontvoer toe ek ‘n klein dogtertjie was en jy het my gevind. Jy het my by ‘n vreemde familie gevind en jy het my daar gelos. Hoekom? Hoekom het jy my nie huis toe gevat nie? Want al die mooi goed, al die klere, al die speelgoed, al die bederf, het vir my niks beteken nie. Hulle het my gesteel. Hulle was nie my regte familie nie en jy het dit geweet en jy het NIKS gedoen nie. Hoekom?’ En dalk sal daardie volwasse vrou my daarvoor kan vergewe, maar ek sal myself nooit daarvoor kan vergewe nie.”

Wat doen jy? Watter keuse maak jy? Los jy die kind by haar nuwe ouers, wetende dat sy net die beste vorentoe in haar lewe sal kry, die beste opvoeding, die beste van alles.

Of vat jy die kind terug na haar eie ma toe, wat haar seker op haar eie manier liefhet, maar wat eers aan haarself dink en dan aan die kind, as sy die slag onthou sy het ‘n kind? Vat jy die kind terug na ‘n lewe waar die kanse 50/50 is dat sy ook maar net eendag op die strate gaan beland, met geen toekoms nie?

Wat sou jy gedoen het? Wat is hier die regte morele keuse?

Wat sou ek gedoen het? Ek weet nie wat dit van my karakter sê nie, maar ek sou die dogtertjie doodstil gelos het waar sy is en probeer vergeet het wat ek weet. Sou ek daarmee kon saamlewe? Ek dink nogal ek sou kon.

En jy?

First of May

When I was small, and Christmas trees were tall,
we used to love while others used to play.
Don’t ask me why, but time has passed us by,
some one else moved in from far away.

(Chorus)
Now we are tall, and Christmas trees are small,
and you don’t ask the time of day.
But you and I, our love will never die,
but guess we’ll cry come first of May.

The apple tree that grew for you and me,
I watched the apples falling one by one.
And I recall the moment of them all,
the day I kissed your cheek and you were gone.

(chorus…)

When I was small, and Christmas trees were tall,
do do do do do do do do do…
Don’t ask me why, but time has passed us by,
some one else moved in from far away.