Skryf (Angie Kleijn)

Ek het myself uit die dood uitgeskryf,

stukke siel aan die papier afgevryf

met ‘n pen; riffels gemaak met ‘n grou griffel

om my eie hart weer op te wen;

krummels gesaai met lettergrepe

as roetewyser om terug te kan draai soos Hansel en Gretel.

Ek’t ‘n pad gebou met my graadeen-juffrou se abc

om my aan myself terug te gee.

Bladsy na bladsy probeer ek myself raakskryf

en versigtig terugdruk in my eie lyf.

One Response to “Skryf (Angie Kleijn)”

  1. Uit die dood uitgeskryf; flentertjies siel hier en daar vasgedraai in onthou-my-oomblikke - en dan? Daardie ek sal nie pas in my lyf nie; dis hoekom ek dit by die dood moes loop uitskryf. Anderdag kos dit om daai verbanne ek weer dood te lewe.

Leave a Reply