Annemarie Nunnerley
Hier waar ek nou sit, hoef ek net my kop op te tel, dan kyk ek uit oor die baai van Jacobsbaai. Die see maak sterspikkels en die rotse blink nat. Gisteraand met slapenstyd hang die reuk van see en vis in die lug, tot binne in my drome.
Vanoggend ligdag is ek uit en af see toe. Die seelug is soos ‘n dwelm op sy eie. Netnou-netnou gaan ons visvang, net eers gou eet.
Maar ek het ook iets anders raakgeloop wat nie kan wag nie. Ek het na verskillende spellings van my naam gesoek en toe vind ek hierdie:
Die GEDIGTE VAN ANNEMARIE NUNNERLEY
Dit het my binne geslaan. ‘n Hand het om my hart gevou en gedruk en gedruk tot ek voel my asem raak weg. Ek het haar mooi gevra of ek asseblief haar een gedig hier kan plaas en sy het goedgunstiglik ingestem. Ek het die vrymoedigheid geneem en twee hier onder geplaas, omdat die tweede een my depressie weerspieel as dit winter is.
Enigiemand wat ‘n liefde vir woorde het, wat ‘n verhouding met taal het, MOET haar gedigte gaan lees!
Dankie Annemarie! Moet NOOIT ophou skryf nie.
Mishandeling van vrouens en kinders is die euwel van ons tyd. Hierdie gedig bekyk die onderwerp deur ‘n kind se oë.
UURGLAS
Dis Vrydag, Dis vyfuur
die hekkie het geskree
Kruip weg…..! kruip weg…..!
onder die bed of in die tuin
Die donkerman is tuis
Dronk woorde en sleep spore
spat op klein oortjies
diep…. diep onder die bed
Sy daar in die kombuis
met haar boggel skouers
haar askiestog maniere
besig haar met oorskiet
van ‘n week verby…..
Niks maak meer saak nie
laas Vrydag se kneuskolle
lê borrie vlekke op haar wang
‘n Noodkreet verdwyn
saam met ‘n sirene in die nag
honger magie, toe ogies kruip weg
in ‘n plas onder die bed
Onheil, ‘n swanger storm in die huis
‘n Pot val op die vloer
geklap van die stoof
Vrydag is ampetjies, ampertjies verby
Dis Maandag, dis tweeuur
dis welsyn-tannie-dag
Een maal elke week
kom poppe bymekaar
om die geel plastiek tafel
Drie stom poppe
vertel geheime…………..
donkerman geheime op die tafel
Laplywe drink en vloek
laplywe skop en slaan
een met ‘n verband, nes ek
‘n ander dra die lap glimlag
van my ma
Die donkerman pop is dronk
sy wilde, makabere dans is klaar
nes Pa……………
Daar’s ‘n nat kol op die tafel
die Ek -pop het sy broek gepee
of is dit bloed van die laaste pak slae?
Nee….! Nee….! Dis net poppe wat speel
Ek is mos nie daar nie!
Poppe kan nie voel nie
Poppe kan nie bloei nie
Poppe kan ook nie vertel nie
Drie poppe in die kas
Nog’n week is deur die glas…….
Annemarie Nunnerley
Annemarie skryf ook:
Daai ou satanskind Depressie kom kuier so nou en dan vir almal……………….. Kontak my gerus en vertel my hoe ‘cope’ ‘n mens as alles te veel raak en jy sit in jou grot met jou seerkry kombersie styf om jou.
VENSTERS VAN MY SIEL
Die reën val teen die ruite
Dis net ek hier binne
Met ‘n glasie cabernet
en ‘n kaggelvuur alleen
….om die koue te verdryf
Opgekrul in die vlammegloed
hier waar niks en niemand kan kwets
en seer nie langer saak maak
verduur ek vals akoorde
van ‘n veraf silwer fluit
wat smeek, wat roep… en huil
Agter die vensters van my siel
is ‘n mens.. opgesluit in mure van glas
wat net ek kan verbrokkel
- as ek wou -
Fladderende vlerke van beskerm engele
hou die vuur aan die brand
en strooi vergeelde drome
om my rond
Flikkerende swart skadus
bring vrees…. vir wat kan word
van die mens agter die vensters
Met blink gewasde luike
groet ek die grou van ‘n nuwe dag
winkend daar buite
Met verwondering sien ek
‘n krakie in die muur……
Stadig…. huiwerend,
ontvou die embrio van my menswees
Hunkerend…. versigtig,
om weer eens deel te word
van die wêreld anderkant
die vensters van my siel
Annemarie Nunnerley
Filed under: Uit die hart






Nou ja, geniet Jacobsbaai, ons sal maar “suffer”! Maar dankie vir jou naamgenoot se gedigteblog, sy’s klaar in my Bloglines. En jy’t my herinner om ‘n naamgenoot van my wat ook gedigte skryf weer te kontak.
Is mooi, en dis seer diep, of diep seer…..
Vensters van my siel …. ek kon nie help om nou ‘n paar trane te laat val nie, want so het ek vir 14 jaar gevoel!!!!
‘Uurglas’ het my ook geruk.
Dit is so mooi! Dit kos nie veel om my in trane te he nie!
Ek dink as Uurglas mens nie ruk nie, dan het mens nie n siel nie… Ek dink soms my eie lewe is so swaar en onregverdig, dan kom iemand soos jy wat ek nie ken nie, en iemand soos Annemarie… en wys my net weer dat daar vrouens en kinders daar buite is wat so veel meer deur moet maak as ek en my eie onbenulige probleme… dankie!
Uurglas het koue rillings by my ruggraat laat tril, ek wens ons kon al daardie kinders se seer vat en weg was. Ek wonder hoeveel kleintjies vannaand daardeur gaan?
Hene, hoe laat die foto my nou lus word om te pak en ry.
Vredenburg, Jacobsbaai, Saldanha…
As jy by Vredenburg is, moenie stop nie, ry tot by Jacobsbaai. As jy by Saldanha is, draai om en ry terug na Jacobsbaai.
Lekker vakansie hou. En dankie vir die gedigte. Hulle is ongelooflik.