Die jaar loop uit
2007 lê op sy rug. Oormôre is dit 2008. Nog ‘n jaar daarmee heen. Elkeen van ons weet wat ons graag uit die nuwe jaar sal wil haal. Of dit gaan gebeur, sal ons nie nou al weet nie. Dalk is ons volgende jaar nog almal hier, dalk nie. Party van ons kan die toekoms voorspel, maar wil nie. Party wil, maar kan nie. My wens vir elkeen is net die beste vir 2008. En onthou dat die beste vir ons, ook nie altyd dit is wat ons sou wou gehad het nie!
Ons is nie amptelik met vakansie nie, maar het darem so met die vakansiedae weer bietjie ons eie omgewing herontdek.
‘Boxing Day’ is ons Waterfront toe en het sommer net by ‘n koffiewinkel gaan sit en ons verkyk aan die mense

Die voëls is so mak, dat hulle kom krummels oppik waar mens sit en ek het dit reggekry om hierdie enetjie te vang - op kamera:

Later het ons al met die hawe langs geloop en oor ‘n trekbrug en sommer net bote gekyk

En eendag as ek groot is, wil ek so een besit soos hier onder:

en wegvaar en nooit weer terugkom nie!
En oor alles troon my geliefde berg, standvastig en ewig. Ek weet die Gautengers dink ons is behep met Tafelberg, maar ek is vir hierdie berg so lief, woorde kan dit nie reg beskryf nie. Dis vir my die teken dat ek by my huis is. Ek voel geborge.

Basil se Japanese stiefpa is vir die vakansietyd in Suid-Afrika (hy kom altyd Desember en dan kry ons natuurlik magic geskenke wat hy saam bring uit anderland) en eergisteraand het hy ons uitgeneem vir sushi, by Cape Town Fishmarket in Somerset Mall. Dis ‘n pragtige plek en het blykbaar nou onlangs eers oopgemaak. Ek het lanklaas so baie sushi geëet en dit was vrek lekker. Ek wou al die bordjies wat ons opgeëet het, afneem, maar Basil het my gekeer. Die stapeltjie was nogal hoog!

En vandag het ons Franschhoek toe gery en toe uit op die pas na Villiersdorp. Dit is verskriklik mooi daar tussen die berge en fotos kan nie regtig reg laat geskied aan die berge se prag nie, maar ek het probeer!

Die pad kronkel vreeslik en daar is seker omtrent 5 haarnaald draaie, maar die uitsig is onverbeterlik!

Vandag was daar geen Sondag blues nie, die lewe is net te mooi!
Viva 2008!!!
Filed under: Uit die hart





Lyk my ons kuier self lekker in die Kaap. Eet drink lekker wyn. So yskoue witte met baie ys! Gaan so bietjie by ouers kuier in Hermanus. Lekker vakansie hou vir jou en familie.
Elke keer as ek by die punt kom waar jy die laaste foto geneem het, neem ek my voor om in die Kaap te kom bly. Elke keer. Maar ek sit nog steeds hier in die Gauteng in.
Baie mooi! Head over na my blog en kom kyk prentjies, ek het my so pas vrek gesukkel om my inskrywing eers met Blogdesk te skryf, toe maak hy ‘n gemors van die prentjies en ek moet dit alles oordoen met WordPress se simpel editor.
Ja, 2007 is amper weg, maar hy gaan mooi herinneringe agterlaat.
My hart trek n punt…
Ag, dit lyk lekker. En ek kan nie wag vir die dag dat ek en my geliefde ‘n dag kan deurbring sonder enige telge in tou nie!
Voorspoedige 2008!
Baie dankie, Nou voel ek lekker kak hier in die VSA en mis die Kaap baie.
Beste wense vir 2008. Ek deel nie jou liefde vir sushi nie. Sushi wél pragtig om na te kyk. En oe die Kaap!
Ek is mal oor sushi! Ja, ons Kapenaars is darem bevoorreg. Geniet jou vakansie en voorspoedige nuwe jaar.
Die lewe is mooi as ‘n mens in die Kaap bly! Jou foto’s laat my terugverlang na my land toe, sies vir jou. En ek het net begin dink ek geniet dit hier in die sneeu!