Ek haat dit as mense saam bondel om ‘n ongeluk. Watter bisarre vermaak vind mens daarin om na ander mense se gebreekte lewens te kyk? Vrydagmiddag is ek vroeër as gewoonlik by die werk weg en oppad beland ek toe in ‘n verkeersknoop as gevolg van ‘n ongeluk. Die motors het so stadig stadig vorentoe beweeg, want natuurlik moes almal kyk en weer kyk.
So beland ek toe ook uiteindelik regoor die ongelukstoneel, ‘n motorfiets wat onder ‘n motor in beland het. Toe ek regs kyk, sien ek vir die eerste keer die jong man wat die motorfiets bestuur het, feitlik langs my motor, teenaan die randsteen lê. Ek het onmiddellik besef hy is dood. Dit was vir my verskriklik en ek wens ek het dit nooit gesien nie.
Ek het die naweek nie weer daaraan gedink nie, het dit doelbewus uit my gedagtes gevee, maar toe ek vanoggend daar verbyry werk toe, is daar ‘n kruis langs die pad, met baie blomme. Onmiddellik het ek daardie toneel weer voor my geestesoog gesien en ek voel niks lekker nie. My dag voel heeltemal verkeerd.
Ek het my nog altyd weerhou daarvan om iets te sê oor die nuwe gewoonte om kruise langs die pad te plant, maar nou gaan ek. Daardie jong man ken ek nie eers nie, maar ek gaan nou vir altyd herinner word aan daardie toneel as ek daar verbyry. Hoe genees so ‘n wond? Dis soos ‘n roof wat mens elke keer afkrap, sodat hy van voor af begin bloei.
As dit my kind, man of vriend was wat daar verongeluk het, sou ek NOOIT eers weer daar wou verbyry nie. Ek het nie ‘n kruis langs die pad nodig om my te herinner aan die persoon wat daar gesterf het nie. Dit sal net elke keer die seer van voor af oopkrap.
Mens dra jou geliefdes in jou hart. En die persoon is tog nie daar begrawe nie, so wat is die doel?
Iemand het eendag gesê dis om ander mense bewus te maak van die gevare op die pad. Glo my, mense ry nog steeds nes hulle wil, sleg of goed, ongeag of daar honderd kruise op hul pad staan. Meeste mense jaag verby sulke kruise sonder om dit eens raak te sien.
Ek wil nie eendag ‘n kruis langs die pad wees nie, asseblief. Ek wil nie eers ‘n graf in ‘n begrafplaas wees nie. En die blomme? Gee my blomme vir my terwyl ek lewe. Daarna, gee dit vir iemand wat dit kan sien en ruik. Die wat my geken en liefgehad het, moet my net in hul hart dra.
Filed under: Uit die hart





Jy het n goeie punt beet-die kruise help niks behalwe om wonde oop te krap….die mense steur hulle nie daaraan nie.dis so jy sê n mens dra hulle in jou hart…dis inelkgeval daar waar jy al die memories en moments van daai geliefde stoor.
Hier in Namibia is net so baie kruise langs die pad.
Hoop jy het n goeie dagie!
troedelkies
lana
Ek het ‘n hekel aan mense wat moet kyk na ‘n ongelukstoneel en veral mense wat hulle klein kindertjies saamsleep wanneer hulle staan en kyk. Nie lank terug nie het ‘n geweldige groot skare mense ‘n blok of twee van my huis af gestaan en kyk hoe die verminkte liggaam van ‘n vrou uit die onderstel van ‘n vragmotor verwyder is. Daar was kinders op die arms van ouers. En dan wonder hulle hoekom hulle kinders snags nie kan slaap nie.
Die bome by die Spar in Parow Noord is nog steeds vol foto’s, boodskappies, blomme en aandenkings. Vars goed verskyn aanmekaar; die gemeenskap sukkel nog om die ongeluk te verwerk. 5 Jong lewens is daar kortgeknip; heel waarskynlik as gevolg van bestuur onder die invloed. Aan die begin het die huldeblyke miskien as waarskuwing gedien, maar almal wat die pad gebruik is nou al weer gewoond aan dit en sien dit nie eens meer regtig raak nie.
[...] hou nog steeds nie van kruise langs die pad [...]
As een van julle dalk n kind of geliefde op so n manier, ewe skielik, onverwags aan die dood afstaan sal julle verstaan wat daai kruis lang die pad vir sy ma of geliefde beteken. Dit gaan nie oor ander mense om vir die kruis te kyk en omgekrap te word nie. Op hierdie oomblik gaan dit regtig nie om jou nie maar, oor die persoon wat daar oorlede is en die persoon wat agterbly om te kan “cope” met al die vrae en verdriet. Veral as niemand weet wat gebeur het nie gaan jy maar terug soontoe met jou vars blomme en vra ongelooflik baie vrae. Wens jy kan die tyd terug draai alhoewel dit onmoontlik is. As dit n tiepe van n berusting bring vir die een wat agter bly is dit goed om te doen.